Lees reeks by Heldedade in ons geskiedenis
HELDEDADE IN ONS GESKIEDENIS
Die vrou is die eggenote van Piet Joubert, die Transvaalse leier, en hierdie jaar 1879 is ‘n tyd van spanning en stryd. Twee jaar tevore het die Engelse die Republiek geannekseer.
Die geklop dreun deur die stilte van die voorkamer, dring tot in die agterste vertrek en vul die hele huis. Die asof alle ander geluide verstom, en ‘n lang oomblik is die hele lewe saamgetrek in ‘n gekromde kneukel wat driftig teen die hout van die voordeur hamer. Dan sit die vrou die koppie wat sy aan’t afdroog was, beslis langs die wasbalie neer, haak in die verbygaan ‘n agterlaaier van die geweerrak af en stap vorentoe.
Haar opgeskote seun het in sy kamerdeur verskyn.
Dis nag, en hulle twee is alleen op die plaas. Bang is sy nie maar ‘n mens moenie dwaas wees nie. “Wie is daar?” vra die vrou met ‘n vaste stem.
“Dis ek, Tante. Ek bring tyding,” antwoord ‘n jong man daarbuite, en die vrou herken hom as een van die buurseuns. Sy sluit oop.
“Oom Piet is vanmiddag teen laatdag daar by ons verby,” verduidelik die jong man vinnig, “en net daarna het ons ‘n afdeling Engelse soldate in die pad gewaar. Dit lyk amper asof hulle op sy spoor is, en Pa het toe gesê dat ek vir Tannie-hulle moet kom waarsku.”
Terwyl hy praat, staan die vrou roerloos. Net haar oë vonkel. “:Dankie,” sê sy. “Baie dankie. Ons sal werk maak.”
Die jong man vertrek. Nou is die vrou baie bedrywig. Sy het klaar besluit. “Boetie,” sê sy vir haar seun terwyl sy met lang hale in die rigting van die kombuis verdwyn, “gaan span in die wa. Ons twee trek vannag nog met die gewere. Die Engelse mag hulle nie in die hande kry nie. Ek sit solank vir ons padkos in.”
Tevergeefs het Piet Joubert as lid van ‘n driemanskap in Engeland vir die herstel van hul vryheid gaan pleit. Toe die onderhandelinge misluk, het hy iewers ‘n paar kiste gewere te koop gekry en dit saam teruggebring Transvaal toe, waar hy dit op sy plaas kom versteek het sodat hulle voorbereid kan wees as daar geveg moet word, want baie van die burgers is ongewapen. Dis hierdie gewere wat Hendrina Joubert wil beskerm. Haar man is weg vir belangrike samesprekings oor nuwe optrede teen die Engelse.
Toe die osse klaar ingespan is, help Hendrina self om die kiste gewere van die solder af te bring en een vir een op die wa te laai.
“Waarheen gaan ons dan, Ma?” vra die seun.
“Vrystaat toe. Daar waai ‘n vrye vlag,” antwoord Hendrina. Die Oranje-Vrystaat is nog ‘n republiek en daar sal die gewere veilig wees.
“Vrystaat toe!” herhaal die seun ongelowig. “Maar dis byna ‘n week se trek.”
“Ons kan dit binne ‘n dag of drie doen as ons aandruk,” sê Hendrina.
Die sweep klap. Die lang tog vir vryheid het begin.
Drie dae lank por Hendrina haar seun en die osse ongenadiglik aan. Hulle moet wye ompaaie trek. Naby dorpe durf hulle dit nie waag nie want daar is orals Engelse besettingsmagte.
Die seun wil soms ingee, maar die vrou is onverbiddelik. Dis asof haar land se hele toekoms van hierdie enkele daad afhang, en wie sal sê dat sy verkeerd is?
“As hulle ons met hierdie vrag gewere vang, Ma!” maak hy beswaar. “Dis hoogverraad.”
“Kom ek om, so kom ek om,” herhaal sy die ou Bybelwoord, en daarmee moet hy tevrede wees. Sy het nog nooit in haar lewe teruggedeins nie, en sy het geleer dat die geloof berge kan versit.
Skaars ses jaar oud was sy toe sy saam met haar oupa-hulle die Groot Trek Natal toe meegemaak het, want haar moeder is kort ná haar geboorte oorlede. Sy het die skriknagte van Bloukrans en Weenen oorleef toe die Zoeloe-impi’s deur die slapende Trekkerlaers gestroom het. Toe die Engelse hul vlag ook in hierdie nuwe land kom plant het, was sy weer met haar mense in die wapad, nou noordwaarts oor die Vaalrivier, waar hulle eindelik ‘n tuiste gevind het. Maar die vryheid moet elke dag vertroetel en bevestig word, veral as jou land ‘n nietige staatjie is.
Kort ná haar troue word haar man opgekommandeer teen ‘n opstandige inboorlingstam. Hendrina Joubert weet waar haar plig is, want daar is nie ambulanse en verpleegsters vir die gewondes nie. Sy trek saam, en haar eersteling word in die laer gebore. Met die vryheidsdeputasie van die Driemanskap Engeland toe, laat sy haar man ook nie alleen nie. En nou is dit net sy en die seun.
Hulle kom by die Vaalrivier. Dis die grens. Maar die stroom loop stil en diep, en onder by die drif het hulle lankal ‘n Engelse patrollie gewaar wat die deurgang bewaak.
“En nou, Ma?” vra die seun moedeloos.
“Ons gaan deur,” sê Hendrina. Sy trek haar swaar bo-rok uit en haal haar kappie af. “Vat die tou!” beveel sy, en gaan self met die lang sweep op die voorste bok van die wa staan.
Die seun lei die osse teen die wal af. Die wa skommel en kraag agterna. Geleidelik styg die stroom teen die diere se bene op soos hulle dieper inbeweeg, en dit gorrel om hul lywe. Die wiele trap spatsels modder uit, en dan verdwyn die spoor onder die bruin wateroppervlakte. Hendrina praat sonder ophou met die diere.
“Potberg, Landsberg, Ligman, Donderberg..,” rits sy die name van die span af.
Dan, met ‘n ruk, gaan die wa staan. Die agterwiele het vasgeval.
“Kyk, Ma, die arme osse dryf al! Hulle kry nie meer grond onder hulle pote nie!” roep die seun van voor af.
“Dan klop ek hulle tot hulle weer grond kry!” roep Hendrina terug, en sy lê die sweep in. Die voorslag fluit deur die lug en krul teen die beurende lywe.
Toe dit nog nie help nie, spring Hendrina met die handsambok in die water af. Dis asof sy met elke hou haar eie onversetlike wil op die diere probeer oordra. Die osse buk laag, hul pote trap wild en, wonder bo wonder, die wa begin weer beweeg.
“Kom nou, my natneuse! Vastrap, my swartneuse! Loop met hom! Loop met hom! L-oo-oo-p!” jubel Hendrina terwyl sy soos ‘n besetene heen en weer waad om die osse aan te moedig.
Hulle kom veilig op die oorkantste wal aan. Die vrag gewere is gered.
‘n Jaar later gebruik die Transvalers dit om hulle in die Eerste Vryheidsoorlog van Engelse oorheersing los te veg.
Uit Die Afrikaanse Heldeboek – Pieter W Grobbelaar