Lees reeks by Heldedade in ons geskiedenis
HELDEDADE IN ONS GESKIEDENIS
Die name van Flippie Neser en Petrus de Lange is onafskeidelik verbonde aan daardie moeilike jare van die Republiek Oranje-Vrystaat, hier teen die helfte van die negentiende eeu, toe daar telkens botsings tussen die Boere en hulle bure, die Basoeto's was. Die Basoeto's het gesê dat die Boere hulle grond kom beset het, terwyl die Boere weer daarop gewys het dat dit kaal, onbewoonde wêreld was toe hulle daar ingetrek het. Selfs 'n oorlog kon die geskil nie besleg nie, en die Basoeto's het voortgegaan om hul veetroppe op die Boere se plase in te stoot, dieselfde suipings te gebruik – en om te vat wat hulle in die hande kon kry. Dis toe dat die twee veertienjarige seuns hul heldedaad verrig het.
Kol is weg, en Kol is Flippie se perd. Om van verdwynende vee te hoor, is vir Flippie glad nie snaaks nie. Hy is nou veertien jaar oud, en vandat hy sy verstand gekry het, gaan dit maar so hier in die Vrystaatse Republiek op die Basoetolandse grens waar die Nesers boer.
Maar dit was nog nooit Kol nie.
Flippie se oë blits. "Ek sal hulle wys!" sê hy.
Hy gryp sommer een van hul veewagters se Basoeto-ponies wat nie in die slag gebly het nie, en hy ry oor na sy boesemvriend, Petrus de Lange, toe. "Daar sal plan gemaak moet word," sê Flippie toe hy sy storie klaar vertel het.
"Ja," sê Petrus, "maar wat?"
"Ons gaan hom haal, sê Flippie.
Petrus knik sy kop. Dit sal 'n waagstuk wees, maar hy weet: Kol is dit werd.
Donkeraand beweeg drie ruiters in die rigting van die Basoetolandse grens. Dit is Flippie en Petrus en April, gesoute Basoeto-veewagter van die Nesers. Pa Neser meen dat Flippie die aand by Petrus gaan slaap het; Ma De Lange dink dat Petrus by Flippie kuier. Net ou April weet.
Flippie is seker dat die verdwyning van Kol die werk is van Tsekelo, een van die Basoeto-koning, Mosjwesjwe, se seuns, wat vir hom net oorkant die grens 'n groot kraal gebou het om die weggevoerde perde in te jaag tot hy en sy helpers dit onder mekaar verdeel het. En April ken die plek.
Nou is hulle by die grens. Hulle vorder baie saggies. Daar word net gedemp gepraat. Sover moontlik druk hulle die perde by droë lopies in waar die los sand die hoefslae doof. Hier en daar sien hulle die kole rooi gloei by staanplekke van die Basoeto's, maar dis alles stil.
"Daardie rantjie,:" beduie April. "Ons moet daar uit."
Behoedsaam vleg hulle boontoe tussen klippe en struike deur.
"Daar!" sê April toe hulle bo kom.
Die maan is al op. Donsig in die silwerige lig staan die gras en bossies hier voor hulle, om verder teen die gelykte af tot 'n aaneengeslote laken wit te vervaag wat sowat 'n myl weg deur 'n donker vlek onderbreek word.
"Dit is Tsekelo se kraal," sê April.
Die twee seuns klim af en vat hul geweers.
"Bly jy hier by die perde, April," sê Flippie. "Ons is nou-nou weer terug."
"Auk!" sê April. "Daar's baie mense wat die plek oppas. Jullie moet oopoë loop."
Die twee seuns sak teen die skuinste af. Dis 'n kaal wêreld sonder enige beskutting waaroor hulle beweeg. As die Basoeto's se honde die geringte onraad merk, is dit klaarpraat.
Gebukkend sluip die twee vriende voort.
Nou is hulle by die kraal, en net anderkant kan hulle die donker boggels van die Basoeto-hutte uitmaak.
Maar alles bly grafstil.
Die kraalmuur is gelukkig nie te hoog nie, en daar staan 'n hele klomp perde. Flippie se oë soek gretig. Ja, dis Kol daardie!
Hulle seil oor die muur. Nou moet hulle doodnugter tussen die perde deurstap en Kol gaan vang, want as hulle onnatuurlik optree, sal die diere verskrik wegvlieg en hulle verklap.
Kol runnik saggies toe Flippie die halter oor sy kop trek, en haastig druk die seun sy perd se twee neusgate met sy bakhand toe.
"Toe nou maar, my perd," paai hy en begin hom stadig na die hek se kant toe lei.
"Dit voel darem maar aardig," fluister Petrus, en hy ril so effens.
"Sjuut!" sê Flippie.
Kort duskant die uitgang staan 'n jong hings wat die twee seuns wantrouig dophou. Petrus fluit 'n gedempte paaideuntjie, maar net toe hy sy hand na die riem uitsteek waarmee die hek vasgemaak is steier die jong hings verskrik op sy agterpote en runnik dringend.
Nou is dit een warboel in die kraal. Perde storm met donderende hoewe na alkante, maal teen die mure in die rondte, proes en lawaai. By die Basoet'o-hutte begin die honde woedend blaf.
Hulle is ontdek!
Dit help nie meer om nog versigtig te probeer wees nie. Spoed is al wat tel.
"Maak oop die hek!" skree Flippie vir Petrus wat nog altyd met die riem staan en sukkel.
"Maar die ding is geknoop," protesteer hy. "Ek kan hom nie loskry nie."
"Sny deur!" beveel Flippie.
Net toe sien hy twee swart skimme van die hutte se kant af nader kom. "Basoeto's!" waarsku hy kortaf en gryp sy geweer. Petrus volg sy voorbeeld.
Twee skote dreun byna gelyktydig deur die nag.
"Lekhoa! – Witmense!" hoor hulle die Basoeto's roep, en die twee gedaantes vlieg kort om vir hulp en wapens.
Petrus se mes is gelukkig skerp. Nou is die hek oop. Saam-saam spring die twee vriende op Kol se rug.
"Kom nou, my perd!"
Kol ken sy baas se stem, en hy laat nie twee maal met hom praat nie.
Flippie en Petrus is al weer by April op die koppie voor die Basoeto's tot verhaal kom, en toe is dit te laat.
Veilig bereik hulle die huis.
Kol is gered.
Uit Die Afrikaanse Heldeboek – Pieter W Grobbelaar