JOHANNA REYNEKE

Lees reeks by Heldedade in ons geskiedenis

HELDEDADE IN ONS GESKIEDENIS

In 1947 was Johanna Reyneke ongeveer twaalf jaar oud. Die voorval waarin sy haar kleinboetie Gertjie gered het, het op Paul Roux in die Vrystaat plaasgevind.

Klein Gertjie het by die bure se kinders gespeel. Hy was so twee jaar oud. Soos verwag moes word het die swart oppassertjie het nie juis aandag gegee aan sy opdrag om klein Gertjie op te pas nie en gemaklik weggestap om ander dinge te gaan doen. Gertjie het baie lekker by sy maatjies gespeel maar toe na 'n oop watersloot wat die huise se vuil water wegvoer, gegaan.  Niemand kon seker wees presies hoe dit gebeur het nie maar klein Gertjie het in die sloot wat redelik diep en vol baie vuil water was, beland.

Die eerste maal toe Gertjie se koppie weer bo die water kom het hy hard om hulp geskree. Johanna het dit gehoor en vinnig soontoe gehardloop maar toe sy daar kom was Gertjie nĂªrens te sien nie want natuurlik het hy weer onder die water verdwyn. Johanna het self nie geweet hoe diep die water was nie maar sy het dadelik ingespring om na Gertjie te soek.

Toe sy hom raakvoel het sy hom styf vasgegryp en bokant die water-oppervlak gelig. Dit was suiwer genade dat die water nie nog 12 duim dieper was nie anders sou sy nie kon staan nie, maar nou kon sy sy koppie bo die water hou al kon sy self nie uit die sloot kom nie omdat dit te steil was om uit te klim.

Toe Johanna begin roep het 'n buurvrou, ene mevrou Rust, haar eerste gehoor en dadelik ander mense ontbied om haar te help om die kinders uit die water te help haal. Gertjie was reeds bewusteloos maar hulle het hom op allerhande wyses probeer laaf en naderhand het hy bygekom.

Vir hierdie dapper reddingspoging wat met ernstige lewensgevaar gepaard gegaan het, het Johanna Reynecke die dapperheidstoekenning 'Reddingsboei', ontvang.