Lees reeks by Heldedade in ons geskiedenis
HELDEDADE IN ONS GESKIEDENIS
Renier Brummelkamp, die oudste van drie seuns, was in Parktown, Pretoria, woonagtig toe daar amper 'n groot tragedie plaasgevind het.
Op 'n Sondagaand in September 1950 het Renier so ouers kerktoe gegaan en hulle drie seuntjies tuis laat bly. Renier, toe elf jaar oud, is aangesĂȘ om sy broertjies in die bed te sit en hulle goed op te pas. Hy was besig om die tweetjies se nagklere aan te trek toe daar buite 'n harde geraas plaasvind.
Gerhard, die jonger seuntjie, klim toe op die vensterbank om te sien wat buite aan die gang is maar raak per ongeluk aan die bedlig se skakelaar wat al oud en verweer was. Toe dit breek het die oop drade aan Gerhard se hand geraak terwyl hy met sy ander handjie na die staalraam van die venster gegryp het om nie te val nie. Die oop elektriese drade het natuurlik 'n kortsluiting veroorsaak en die elektriese stroom het Gerhard se liggaampie so aanhoudend bly skok dat hy homself nie kon losruk nie.
Renier wat ook by die venster uitgekyk het, het gevoel dat die staalraam hom ook skok en toe eers opgelet wat met klein Gerhard aan die gebeur is. Instinktief het hy na Gerhard gegryp maar is self weer geskok. Hy het egter daarin geslaag om Gerhard van die vensterbank af weg te ruk en so die stroom krag tussen die raam en skakelaar te verbreek.
Daar was egter nou dringend hulp van buite nodig en Renier het gehardloop om hulle buurman, ene meneer Searle, te gaan roep, wie sommer al drie seuntjies vir skok behandel het. Hyself het erken dat as dit nie vir Renier se blitsige optrede was om Gerhard van die venster los te ruk nie, sou Gerhard waarskynlik doodgeskok het.
Renier Brummelkamp is vir hierdie onverskrokke optrede later ook beloon deurdat dat Reddingsboei aan hom toegeken is.