ELKE SHEIDT

Lees reeks by Heldedade in ons geskiedenis

HELDEDADE IN ONS GESKIEDENIS

Die Duitse dogtertjie, Elke Sheidt, en haar gesin het ten tyde van die voorval toe sy haar broertjie gered het, op Otavi in die noorde van Suidwes-Afrika gewoon waar haar vader 'n skrynwerkerswinkel besit het.

Dit was Februarie 1953. Elke Scheidt was vyf jaar, en die oudste van drie kinders. Die tweede oudste, 'n seuntjie met die naam Dieter, was drie jaar oud, en die jongste, klein Rainer, 'n mannetjie van een jaar en vyf maande oud.

Son ongelooflik as wat dit mag klink het die vader en moeder dié betrokke aand iewers heen gegaan en die kinders alleen in die huis agter laat bly. Elke is aangesê om oor haar broertjies toesig hou.

Daar het 'n brandende petroleumlampie op 'n tafel in die kinders se slaapkamer gestaan. Klein Rainer was reeds in sy kinderbedjie terwyl Elke en Dieter op die vloer gesit en speel het. Wat presies gebeur het was moeilik om vas te stel maar waarskynlik het een van die kinders aan die tafeldoek getrek en so die lamp opgegooi. Toe die petroleum uitloop het dit aan die brand geslaan en baie rook veroorsaak.

Elke het dadelik besef dat die hele kamer aan die brand kon slaan en dat sy nie in staat was om die vlamme te blus nie. Haar besluit oor wat sy moes doen het gestrek tot by die gedagte dat sy dadelik vir Rainer uit sy bedjie moes kry voordat hy dalk doodbrand. Sy was egter nie sterk genoeg om hom dadelik uit sy bedjie te lig nie want hy was nie net 'n te groot gewig vir haar klein liggaampie nie, die bed het rondom ook nog baie hoë style gehad en sy het gesukkel om by te kom. Sy het so aanhoudend en hard probeer dat sy hom naderhand wel oor die rantjie van die bedstyle gelig gekry het en toe met hom na buite die huis gevlug het saam met die ander seuntjie.

Gelukkig het die brand nie te veel verwoesting aangerig nie. Dit het nie so ver versprei dat dit die meubels en beddegoed aan die brand gesteek het nie. Toe die petroleum uitgebrand was is die vuur vanself geblus. Maar dat dít sou gebeur, het Elke nie kon weet nie. Die res van die vertrek, en selfs die hele huis, kon uitgebrand het. Ten spyte van die gevaar was haar verantwoordelikheidsgevoel so groot dat sy hierdie reddingsdaad wel verrig het. Sy het geweet sy moes vir die jonger kinders sorg en het dit met groot dapperheid gedoen.

Heldedade soos hierdie vind seker dalk daagliks plaas maar daar word nie genoeg van melding gemaak nie. Daarom eer ons hierdie klein helde en heldinne hier vir hulle heldhaftige optrede en hoop dat dit as aansporing vir elkeen van ons vandag sal dien om net so vinnig en onselfsugtig op te tree as die omstandighede dit van ons sou eis.