Lees reeks by Heldedade in ons geskiedenis
HELDEDADE IN ONS GESKIEDENIS
Die hoërskool op Heilbron in die Vystaat besit die onderskeiding dat dit een van die weinige skole in ons land is wat twee leerlinge opgelewer het wat toekennings vir dapperheid ontvang het. Die seuns was Jean Bosman en Jacobus Raubenheimer.
Jean is op 19 Januarie 1940 op Heilbron gebore. Sy vader was daar onderwyser en leier van die plaaslike Voortrekkerkommando. Jean was self ook lid van die kommando, en as 'n Voortrekker het hy geleer dat 'n mens hulpvaardig moet wees en gewillig moet wees om oral en altyd jou medemens te dien.
Tydens die somer van 1954 het daar een middag 'n wolkbreuk bokant die dorpsdam van Heilbron losgebars. Binne enkele minute het al die lopies en waterslote soos bruisende riviere afgekom. Die dorpseuns het op hul fietse gespring en deur die modder geploeg na die malende water wat alles met hulle meegesleur het. Een van hulle was Jean Bosman wat toe veertien jaar oud was.
Ten gevolge van die buitengewone vloed het 'n klompie melkkoeie wat by die spruit gewei het, in die moeilikheid geraak. Voordat hulle dit besef het, het die waters hulle omring sodat hulle op 'n eiland gestaan het terwyl die water al hoër opgestoot het.
Terwyl die seuns nog die skouspel aanskou, het hulle gemerk dat 'n man sowat honderd-en-vyftig tree hoër op besig was om sy broekspype op te rol en nader na die stroom te gaan in die rigting van die koeie. Hy was ene meneer CJ de Bruyn, ook van Heilbron. Hy wou blykbaar die koeie probeer uitjaag.
Meteens het De Bruyn gegly en in die malende waters verdwyn. Daar was toe reeds sowat twintig mense by die spruit. Hulle het hom om hulp hoor roep en toe 'n arm en 'n been bo die water sien uitkom en verdwyn. Soos later geblyk het was De Bruyn wel in staat om te swem maar was die stroom so sterk en het dit hom so opgefrommel dat hy niks daarteen kon doen nie.
Jean het dit gesien en gou sy klere uitgetrek. Hy het net sy onderklere aangehou. Hy het niks gesê nie en gewag totdat hy reken dat die man regoor hom moes wees. Toe het hy diep ingeduik, om onderkant sterkste stroming deur te kom want hy het vermoed dat die drenkeling in die anderkantste gedeelte van die stroom sou wees. Die stroom was op daardie plek ruim vyftig treë breed.
Toe Jean bo die water verskyn het hy die persoon reg voor hom gewaar en hom gegryp. Die man was egter sterker as hyself en het hom beetgepak sodat hulle saam gesink het tot op die bodem van die stroom wat meer as tien voet diep was.
Jean het hom losgewoel en na die oppervlakte gekom en weereens die man voor hom in die stroom gewaar. Toe het hy die man van agter beetgekry en hom voor hom vasgehou en hom stadig na die kant probeer stuur.
Op daardie tydstip het 'n ander toeskouer, ene Andries Kruger, Jean kom help. Gelukkig het die rivier 'n bietjie laer af 'n effense draai gemaak sodat Jean in sy doel geslaag en vaste grond bereik het. Ander mense het ook kom help, en tesame het hulle die drenkeling uit die stroom gehaal. Meneer De Bruyn het later vertel dat hy geen beheer meer oor homself gehad het nie en verskeie kere op die bodem van die stroom beland het en dan weer boontoe uitgestoot is.
Die mense het De Bruyn behandel en hy het sy bewussyn herwin.
Jean het intussen verdwyn en met 'n omweg na sy klere toe gegaan. Daardie aand tuis aan tafel het hy droogweg opgemerk: "Pa weet, ek het vandag 'n man gered."
Niemand wou dit egter glo nie totdat Jean se ouers van verskeie mense verneem het wat daar gebeur het. Sommige mense wat sy waaghalsige daad aanskou het, het hom bestraf en gesê dat hy nooit weer so met sy lewe moet speel nie.
Heelwat mense het egter gereken dat Jean op die een of ander wyse beloon moes word. Daar is by die Voortrekkerbeweging 'n aanbeveling gemaak dat die Reddingsboei ('n goudkleurige ronde reddingsgordel met silwerkleurige touwerk, gemonteer op 'n blou agtergrond met 'n "V" in die middel, en dit word gedra op die regterarm tussen die skouer en die elmboog, bokant enige ander onderskeidingsteken) aan hom toegeken word. Dit kon slegs aan lede van die Voortrekkerbeweging wat hul lewe op die spel geplaas het om ander mense te red, toegeken word.
Die saak is ondersoek en dit was nie moeilik om getuies te kry nie. De Bruyn self het verklaar dat hy reeds volkome magteloos was toe Jean hom kom help het en dat hy daarvan oortuig is dat hy sy lewe aan die seun te danke het.
Die Hoofbestuur van die Vorotrekkers het toe besluit om die Reddingsboei aan Jean Bosman toe te ken. Dit het op 5 Julie 1855 toe die nuwe hoërskoolgebou op Heilbron ingewy is, plaasgevind.
Heilbron se 2e held... vervolg