HELDEDADE IN ONS GESKIEDENIS
Lees reeks by Heldedade in ons geskiedenis
Ons weet almal dat daar in 1816 'n skokkende gebeurtenis naby Slagtersnek in die oostelike deel van die Kaapkolonie plaasgevind het. Dit was die teregstelling van vyf Oosgrensboere. In die loop van die gebeurtenisse wat daartoe aanleiding gegee het, het 'n seun van twaalf of veertien jaar oud hom op 'n besondere wyse onderskei. Sy naam was Gerrit Pieter Bezuidenhout, en hy was 'n seun van Johannes Bezuidenhout.
Om te begryp wat gebeur het, moet die agtergrond van die Slagtersnek-opstand kortliks beskryf word. Op die destydse oosgrens van die Kaapkolonie het 'n boer, genaamd Frederik Bezuidenhout, gewoon. 'n Hottentot, Booi, het by hom skape opgepas. Hy was onbetroubaar en het sy werkgewer baie las gegee. Hy het skape laat wegraak en van die boerderygereedskap verniel. Bezuidenhout, wat 'n kwaai humeur gehad het, het blykbaar van sy loon teruggehou, en toe Booi wou trek, wou by hom nie laat gaan nie.
Booi het by die landdroskantoor gaan kla. Gevolglik is Bezuidenhout gedagvaar om voor die hof to verskyn. Hy het dit egter nie gedoen nie en aangevoer dat by dan lank van sy huis weg sou wees en dat dit vir sy gesin en eiendom gevaarlik sou wees. Hy het ook gesê dat hy nie so ver kon ry nie omdat hy erg aan jig ly. Hy was van mening dat dit 'n private aangeleentheid tussen hom en Booi was.
Die geskil het meer as twee jaar lank geduur. Bezuidenhout is uiteindelik gedagvaar om op Graaff-Reinet voor die Rondgaande Hof to verskyn. Hy het weer laat weet dat by nie kon gaan nie en voorgestel dat die veldkornet van sy wyk na hom toe kom om as bemiddelaar op to tree. Die veldkornet was egter bang vir hom en het dit nie gedoen nie.
Toe Bezuidenhout nie voor die hof verskyn nie, is by op 5 Oktober 1815 tot 'n maand gevangenisstraf in die drostdy op Graaff-Reinet gevonnis.
Dieselfde dag het die landdros die onderbalju en 'n polisieruiter gestuur om hom te haal. Hy het aan hulle twee briewe gegee. Die een was gerig aan 'n veldkornet waarin hy beveel is om met 'n paar burgers te help om Bezuidenhout in hegtenis to neem. As hy dit nie doen nie, dan moes kaptein Andrews, die bevelvoerder van 'n afdeling van die Hottentotkorps wat op Van Aardt's Post aan die Visrivier gestasioneer was, die manskappe voorsien.
Die veldkornet wou nie hulp verleen nie, en twee wit offisiere en 'n paar Hottentotsoldate is toe aangesê om die onderbalju te vergesel. Bezuidenhout het van hul koms gehoor en besluit om hom nie te laat vang nie. Met behulp van 'n ander wit man en 'n baster-Hottentot het hy hom in 'n grot verdedig. Hy is herhaaldelik versoek om hom oor te gee, maar by wou dit nie doen nie. Hy is toe deur 'n Hottentotsoldaat doodgeskiet. Dit het op 10 Oktober plaasgevind.
Frederik Bezuidenhout is naby die sterfplek begrawe. Twee van sy broers, Gerrit en Johannes, was by die begrafnis. Johannes, wat sommer kortweg Hans genoem is, was so aangedaan dat hy daar 'n eed geneem het dat hy sy broer se dood sou wreek, al moes hy tien jaar wag om dit te doen. Hy kon nie begryp waarom Frederik doodgeskiet moes word nie; hy het mos nie gemoor of gesteel nie, was sy woorde. Hy het ook beweer dat 'n burger slegs deur 'n burgerlike gesagsdraer gearresteer mag word en nie deur soldate nie.
Ná die begrafnis het Hans na sy plaas aan die bo-Baviaansrivier teruggegaan. Kort daarna het hy egter met sy vee na die Tarka verskuif. Die volgende paar weke het hy en sy gesin op die plaas van Diederik en Christiaan Muller deurgebring.
'n Paar weke later het ene Hendrik Prinsloo van die plaas Naudesrivier by die teenswoordige Somerset-Oos by Hans Bezuidenhout opgedaag. Hy het Frederik se dood met Hans bespreek, dit aan die beleid van die Britse owerhede toegeskryf en hom aangemoedig om die Engelse uit die land te verdryf. Die Engelse het volgens hom die swart mense voorgetrek en wette gemaak wat die boere se grondregte aangetas het. Hy was ook ontevrede omdat Hottentotte as soldate gebruik is.
So het dit gekom dat Hendrik Prinsloo en Hans Bezuidenhout 'n opstand teen die Britse gesag begin organiseer het. Diegene wat nie wou saamwerk nie, is met die dood gedreig. Hulle het ook met die Xhosas onderhandel om hul steun te verkry. Hans se swaer, Cornelis Faber, Prinsloo se swaer, Theunis de Klerk, en twee Bothma's het ook 'n vername rol daarin gespeel.
Toe die owerhede van die beoogde rebellie verneem, is soldate gestuur om Hendrik Prinsloo in hegtenis te neem en na Van Aardt's Post toe te bring. Dit het op 13 November plaasgevind.
Die nuus in verband met Prinsloo het vinnig versprei. Toe die ander leiers dit verneem, het hulle dadelik mense opgekommandeer. Die 14de November het ongeveer sestig gewapende boere naby Van Aardt's Post, 'n paar myl suid van Cookhouse, byeengekom en geëis dat Prinsloo vrygelaat word. Dit is geweier en hulle het toe 'n eed geneem dat hulle aan mekaar getrou sou bly en die opstand verder sou voer. Daarna het hulle die plek verlaat en 'n entjie daarvandaan, net oorkant die grens van die Kolonie, gewag om vas te stel of die Xhosas hulle sou help.
Intussen het die landdros van Uitenhage, luitenant-kolonel Cuyler, wat ook militêre opperbevelhebber van die grensgebied was, by Van Aardt's Post opgedaag. Hy het boodskappers na die opstandelinge gestuur met die versoek dat hulle hulle sou oorgee. Hulle wou dit slegs doen indien hy beloof dat hulle nie vervolg sou word nie. Cuyler kon of wou nie so 'n belofte maak nie en op 18 November het by met 'n troepemag, wat uit boere en Engelse soldate bestaan het, noordwaarts getrek om die opstandelinge in hegtenis te neem.
By 'n bergnek 'n paar myl noord van Cookhouse, wat Slagtersnek genoem word, het hulle die opstandelinge teëgekom. Daar is lank tussen Cuyler en die leiers onderhandel, maar die mense wou nie Cuyler se voorwaardes aanvaar nie. Daar is egter niks geveg nie. Later, nadat berig ontvang is dat die Xhosas nie wou saamwerk nie, het sowat twintig mense hulle oorgegee. Die ander, onder wie Hans Bezuidenhout was, het gevlug.
In die loop van die volgende paar dae het die meeste ander mensehulle oorgegee. Maar 'n paar het weggebly, onder andere Hans Bezuiden-hout, Cornelis Faber, Stephanus Bothma, Abraham Bothma en Theunis de Klerk. Hoewel soldatepatrollies rondgesoek het, het hulle did persone nie opgespoor nie.
Die 24ste November het 'n troepemag, bestaande uit twee-en-dertig gewapende burgers onder kommandant Willem Nel en 'n honderdtal. Hottentotsoldate onder majoor Fraser, van Van Aardt's Post vertrek om na diegene wat nog op vrye voet was, te soek. Hulle het hulle veral op die bosryke Baviaansrivier toegespits. Daar het hulle ene Piet Erasmus aangetref. Hy was een van diegene wat by Slagtersnek betoog het en was nog steeds op vrye voet. Hulle het hom in sy huis gearresteer en hom gevra om hulle na die ander te help soek. Hy het vertel dat Hans en Faber Hulk per ossewa in 'n noordelike rigting gegaan het. Die troepe het toe na Bezuidenhout se plaas gegaan en daar vars wa-spore gevind. Hulle het dit gevolg oor die punt van Groenberg tot by die Tarkarivier. Daar het die spore in die rigting van die Winterberg geswaai.
By Spitzkop, die veeplaas van Louw Bothma, het hulle twee waens aangetref. Hulle het vermoed dat die waens aan Faber en Bezuidenhout behoort. Dit was egter Louw Bothma en 'n sekere Botha se waens.
Hulle het nog 'n entjie verder met die rivier op gegaan en op Rietvallei twee opstandelinge aangetref. Dit was Abraham Bothma en Andries Meijer. Hulle het die offisiere meegedeel dat hulle daardie selfde oggend vir Hans Bezuidenhout, Cornelis Faber en Stephanus Bothma aan die Winterberg gesien het. Hulle sou die volgende dag terugdraai en na Schapenkraal gaan waar hulle verdere verwikkelinge sou afwag. Toe die offisiere dit verneem, het hulle geweet dat dit net 'n kwessie van tydwas voordat hulle sou kon toeslaan.
Daardie nag het die troepe op Rietvallei oorgestaan. Die volgende dag, Woensdag 29 November, het hulle vroeg vertrek en met die rivier op in die rigting van die Winterberg gegaan. Hulle het oor die plaas Rocklyn gegaan en teen tienuur by 'n kloof uitgekom waar die waens sou moes deurkom. In die hange van die berge langs die kloof was goeie skuilplek, en die kloof was taamlik dig begroei met struike en bome.
By die ingang van die kloof is beraadslaag. Daar is besluit dat die burgers en ongeveer twintig Hottentotsoldate, onder aanvoering van kommandant Nel, hulle hoër op, by die punt van die kloof, sou versteek, terwyl die grootste gedeelte van die bruin mense onder majoor Fraser laer af in die kloof sou bly en hulle ook sou versteek orn sodoende 'n hinderlaag te vorm. Kort daarna het majoor Fraser egter van sy perd afgeval en 'n arm gebreek. Die bevel van sy afdeling is toe deur luitenant Milanees oorgeneem.
Teen twaalfuur het vier waens met die vallei af gekom uit die rigting van die Winterberg. Die waens het aan Hans Bezuidenhout, Cornelis Faber en Stephanus Bothma behoort. Op die waens was hul gesinne en ook Abraham Bothma se gesin, en by die waens was hul beeste, skape en perde.
Hulle het stadig gevorder, verby kommandant Nel se afdeling gegaan en naby die ingang van die kloof stilgehou en uitgespan. Hulle het toe nog niks verdags bemerk nie.
So het ongeveer 'n uur verloop. Toe het Faber te perd en gewapen, en Bothma te voet en ongewapen, 'n entjie met die kloof af gegaan. Miskien wou hulle gaan kyk of hulle water kry, of miskien het hulle vreemde spore gewaar en wou hulle vasstel waarheen dit lei.
Sodoende het hulle tot ongeveer dertig tree van die soldate of gekom sonder dat hulle onraad bemerk het. Die soldate het toe opgespring en hulle beveel om doodstil te bly staan en hulle oor te gee. Faber het egter sy perd omgeruk en weggejaag. Toe die soldate op hom skiet, het hy van sy perd afgespring om goed korrel te vat. Maar voordat hy 'n skoot kon aftrek, is by in die skouer gewond en gevange geneem. Abraham Bothma het weggehardloop, maar is eweneens gevang.
Toe Faber en Bothma in hegtenis geneem is, was hulle nie meer binne sig van die waens nie. Daar was 'n hoë rant wat in die kloof insny en daaraan 'n draai gee, tussen hulle en die waens.
Toe Hans Bezuidenhout die skote hoor, het by gewapen en te perd, en sy vrou te voet, in die rigting van die skote gegaan. Hulle het sowat honderd tree van hul wa af gevorder, toe hulle die soldate gewaar. Toe het Hans besef dat hulle vasgekeer was. Hy was verbaas om die troepemag te sien omdat hulle by die Winterberg verneem het dat die troepe omgedraai het.
Hans en sy vrou het toe dadelik na hul wa teruggegaan en daar gewag. Intussen het die troepe van albei kante of nader gekom orn hulle vas te keer. Toe hulle minder as honderd tree van die waens of was, het hulle gaan staan en geëis dat Bezuidenhout en die ander mense oorgee.
Die Fabers en die Bothma-gesinne het dit gedoen en na die troepe toe gegaan.
Hans het egter beslis geweier om hom oor te gee. Hy het seker goed geweet dat hy swaar gestraf sou word. Hy het 'n baie trotse geaardheid gehad en geweier om enigiets to doen wat vir hom vernederend sou wees. Om hom nou oor te gee, sou vernederend wees. Daarom wou by dit nie doen nie.
Sy vrou, wie se nooiensnaam Anna Elizabeth Martha Faber was, het trou by hom gebly. Oorkant hulle by die troepe was haar broer 'n gevangene, maar sy sou haar nie laat vang nie. By haar en haar man was ook hul kinders: Sophia Aletta, die oudste en hul enigste dogter; Gerrit Pieter, twaalf of veertien jaar oud, wat Gertjie genoem is; en Johannes Jurgen, sewe of agt jaar oud, wat na sy vader geheet het en waarskynlik Hans genoem is.
Hansie en sy suster was binne-in die wa, maar Gertjie het by sy pa en ma gestaan. Om hulle teen meer as honderd-en-twintig manskappe to verdedig, sou 'n onbegonne taak wees, dit het Hans geweet. Hy het egter nie geskroom om sy lewe af to lê nie. Hy het agter of onder die wa geskuil en op die soldate geskiet. Die eerste skoot het 'n Hottentotsoldaat getref en hom ernstig gewond. Die soldate het teruggeskiet. Hans se vrou het vinnig die geweers gelaai en hulle aan haar man gegee, terwyl Gertjie agter die wa se voorwiele geskuil en daarvandaan geskiet het.
Toe het luitenant Milanees die beuelblaser aangese om die teken to gee dat die troepe moes ophou vuur. Hulle het ook opgehou. Milanees het sy hoed op 'n geweer se loop gesit en dit in die lug geswaai as 'n teken dat Hans hom moet oorgee. Twee boere het ook gevra dat hy hom oorgee. Hy het egter beslis geweier. Die soldate het nou weer gevuur.
Kort daarna het 'n koeël Hans in die arm getref. Die arm was gebreek, en sy vrou het dit verbind.
Toe dit gebeur, het Gertjie besef dat hy nou alleen was teen die troepe. Hy sou egter sy vader en moeder na die beste van sy vermoë verdedig en het toe vinnig geskiet. Hulle het verskeie geweers gehad sodat hy meer as een skoot kon aftrek voordat hy weer moes laai. Die hele tyd was daar by hom net een gedagte: Hy moes aanhou skiet om sy ouers to beskerm.
Hans se wond was skaars verbind toe 'n koeël hom in die lyf tref. Hy het daarop inmekaar gesak en doodstil op die grond bly lê. Hy het vinnig bloed verloor, en Gertjie moes geweet het dat sy vader dodelik gewond was.
Sy moeder moes toe weer sy vader te hulp snel, en terwyl sy hom verpleeg het, het 'n koeël haar ook getref. Daarop sou Hans vir Gertjie gesê het: "Loop maar oor na hulle toe, dan sal hulle jou nie doodskiet nie."
Maar Gertjie het bly staan en aangehou met skiet, want hy het dit as sy plig beskou om sy ouers tot die einde te verdedig. Sy vader het gesê dat hy nie lewendig in die hande van die troepe wou val nie, en dit wou hy nou verhoed. Die seun is egter kort daarna gewond. Eers is by in die voet, en daarna in die been getref. Dit het sy weerstand aansienlik verminder. Toe het die soldate hom oorrompel en hulle al drie gevange geneem. Een van die offisiere, luitenant McKay, het aangebied om hulle te verpleeg, maar Martha Bezuidenhout wou dit glad nie toelaat nie. Sy het hom as haar vyand beskou en kon dit nie verdra dat 'n vyand haar nou help nie.
Daarna is die waens ingespan en Hans en die soldaat is daarop neergelê. Toe het hulle die terugtog aanvaar. Hans se rug was afgeskiet en hy het baie bloed verloor. Later in die namiddag is die Hottentotsoldaat oorlede. 'n Halfuur na sy dood het Hans die laaste asem uitgeblaas.
Daardie nag het hulle op of naby Klipkraal oorgestaan. Die volgende môre is die soldaat daar begrawe.
Toe het hulle verder getrek en die middag by Spitzkop die veeplaas van Louw Bothma uitgekom. Daar het hulle Hans begrawe.
Dieselfde namiddag is hulle weer verder en die nag het hulle op Piet Jordaan se plaas, Beestekraal, aangekom. Die Bezuidenhouts is daar agtergelaat, terwyl die troepe na Van Aardt's Post toe gegaan het.
Martha Bezuidenhout en Gertjie het albei herstel. Martha is later op Uitenhage verhoor omdat sy aan die opstand deelgeneem het. Sy is egter vrygespreek omdat sy uit liefde vir haar eggenoot gehandel het.
Oor die vraag of Hans Bezuidenhout se optrede korrek of verkeerd was, hoef ons hier nie te besluit nie alhoewel die Engelse se magsbeheptheid en heerssug ten sterkste veroordeel moet word. Van sy vrou kan ons egter onomwonde verklaar dat sy dapper opgetree het deur haar man by te staan.
En wat Gertjie betref, hy het dit as sy plig beskou om sy vader en moeder te beskerm. Daarom moet hy as 'n dapper kind geëer word.
Daar word vertel dat Gertjie tydens die geveg een van die offisiere se pet raakgeskiet het. Toe die offisier by hom kom, sou by hom op die skouer gelklop en gesê het: "Jy is 'n dapper seun. Dit is jammer dat so 'n kind tussen boere moet bly; jy moet na Engeland gaan om daar opgelei te word." Hy sou ook vir Gertjie gevra het wat presies sy plan was of by net sy pet wou afskiet en of hy hom wou doodskiet. Toe sou Gertjie gesê het: "Nee, ek wou jou in jou kop skiet dat die harsings waai!"