DIE DAPPER MEYER- DOGTERS

 

Lees reeks by Heldedade in ons geskiedenis

Van 1835 tot 1838 het een van die merkwaardigste gebeurtenisse in ons geskiedenis plaasgevind, naamlik die Groot Trek. In daardie jare het duisende mense, veral uit die oostelike deel van die Kaapkolonie, weggetrek om 'n nuwe woonplek te gaan soek in die gebiede wat vandag as die Vrystaat, Kwazulu-Natal en die gebied noord van die Vaalrivier bekend staan.

Daar is baie redes aangegee waarom hulle getrek het. Een van die redes was dat hulle op die Oosgrens baie moeilikhede met die inheemse bevolking gehad het. In verband daarmee word daar 'n merkwaardige verhaal vertel van 'n gebeurtenis waarin kinders 'n heldhaftige rol gespeel het:

In die distrik Beaufort-Wes is 'n man by sy vee vermoor. Sy naam was Meyer. Hy was met sy skoonseun en sy eie seun by sy vee toe 'n klom swart barbare op hulle afgekom het  om sy vee te roof  en op 'n barbaarse wyse al drie blankes om die lewe gebring het. Die aanvallers het toe hul klere aangetrek en na die Meyers se huis toe gestap. Daar was net vroue by die huis: Dit was Meyer se vrou en haar drie dogters, van wie een getroud was en 'n babatjie van drie maande oud gehad het.

Eers toe die swartes al voor die deur was, het die vroue hulle gewaar. Die aanvallers het toe die ou moeder gevang, haar op 'n stoel voor die deur gegooi en met hulle assegaaie na haar begin steek en gooi. Die oudste dogter, met die babatjie op haar arm, het gehardloop om haar moeder to beskerm, maar self 'n assegaaisteek in haar bors gekry.

Die kinders het nou besef dat hul enigste hoop op redding was om hulp in die hande te kry, en het met die kindjie die bosse agter die huis ingevlug. Daardie dag het hulle ver geloop. Toe is die oudste dogter, die moeder van die babatjie, oorlede; en die twee jonger susters het die babatjie geneem en verder gevlug. Nog twee dae lank het hulle sonder kos deur die veld aangesukkel, en toe by mense uitgekom. Intussen het hulle spekboomblare gekou en die sap daarvan aan die babatjie gegee om die kindjie aan die lewe te hou.

'n Paar mense het, toe hulle die verhaal van die dogters hoor, dadelik na die Meyers se plaas toe gery, maar die moeder daar dood aangetref.

Die verhaal van die twee Meyer-dogters wat drie dae lank deur 'n landstreek vol ongediertes en ander gevare sonder kos gevlug het om hulp vir hut moeder te kry, en hul suster se kindjie te red, is 'n merkwaardige verhaal van dapperheid. Maar dit is seker maar net een van die baie verhale van dapper kinders uit die jare wat die Groot Trek voorafgegaan het.