DAPPER JONG JAN UYS

Lees reeks by Heldedade in ons geskiedenis

Die wreedaardige aanvalle en moorde van swartes op die blankes op die Oosgrens was een van die belangrikste redes waarom die Groot Trek plaasgevind het. Daar was baie moeilikheid met die inheemse swart bevolking en baie mense het nie kans gesien het om langer in die Kolonie te bly nie. In die begin van die jaar 1834 het die begeerte om weg te trek al so sterk en so algemeen geword dat drie geselskappe uitgestuur is om die landstreke oorkant die grense van die Kaapkolonie te verken en verslag te doen van hoe dit daar gelyk het. Een van die "kommissies"- soos die geselskappe genoem is - het die landstreek aan die oostekant verken en sodoende in Natal uitgekom. Die kommissie was onder leiding van Petrus Lafras Uys wat in die wandel Piet Uys genoem is, en is deur die inwoners van Grahamstad en Uitenhage uitgestuur.

Piet Uys het twintig mans en een vrou by hom gehad terwyl hulle deur die gebied wat vandag as die Ciskei en Transkei bekend staan en deur swart stamme bewoon was, gereis het. Later het hulle Port Natal - die teenswoordige Durban - bereik, en daar 'n klompie Engelse setlaars aangetref wat toe reeds tien jaar lank daar gejag en handelgedryf het.

Hulle het verneem dat Dingaan, die hoofman van die Zoeloes, die hele Natal as sy eiendom beskou het, en het dit derhalwe noodsaaklik geag om met hom in aanraking to kom.

Terwyl die meeste kommissielede blykbaar in hul kamp by Berea naby Port Natal gebly het, het Piet Uys, Jacobus Moolman en Mathijs Human na Zoeloeland gegaan om met Dingaan te praat. Hulle wou hom vra of die boere hulle in Natal kon vestig.

Blykbaar het een van die Engelse setlaars, genaamd King, hulle as tolk vergesel. Hulle het tot by die Umvotirivier gevorder, maar die riviere was verder so vol dat hulle Zoeloeland nie kon bereik nie.

By die Umvotirivier het Uys en die ander twee boere omgedraai en terug na hul kamp by Berea gegaan. Hulle het egter vir King daar gelaat om, waarskynlik as die rivier afgeloop was, na Dingaan te gaan en dan namens die boere toestemming te kry om hulle in Natal to vestig.

Toe King by die boere se kamp terugkom, het hy vier van Dingaan se indoenas en honderd ander Zoeloes by hom gehad. Hy het Piet Uys meegedeel dat Dingaan grond sou afstaan, maar dat hy self die persoon aan wie hy dit gee, te siene wou kry. Die indoenas en ander Zoeloes is gestuur om Uys na hom te bring.

Maar Uys was siek aan die koors, en hoewel die indoenas en hul volgelinge tien dae lank gewag het om te sien of hy beter word, was hy nog te siek om Zoeloeland toe te gaan.

Toe is daar 'n vergadering van al die boere en die vier indoenas gehou, en is vrywilligers gevra om in die plek van Piet Uys na Dingaanstat te gaan. Geeneen van die boere was egter gewillig om dit te doen nie. Daarop het Johannes Zacharias Uys, die jongste broer van Piet Uys, wat skaars vyftien jaar oud was, aangebied om te gaan. "Julle kan my stuur," het by gesê.

Piet Uys het die indoenas gevra of hulle tevrede sou wees om die seun as plaasvervanger te aanvaar, en hulle was tevrede. So is daar toe besluit dat Jan Uys - soos die seun genoem is,  saam met die Zoeloes na Dingaan toe sou gaan. Hy moes persoonlik gaan verneem of die boere hulle in Natal mag vestig.

Piet Uys het terdeë besef dat dit 'n gevaarlike reis vir sy broertjie sou wees, en het die Zoeloes laat beloof dat hulle horm goed sou beskerm en hom ongedeerd sou terugbring.

Jan Uys moes ook goed besef het watter verantwoordelike taak daar op sy skouers gerus het. Die Engelse setlaars by die hawe het geweet hoe 'n verraderlike en wispelturige persoon Dingaan was. Daarvan het hulle immers meer as genoeg ondervinding gehad. Kort tevore het by hulle nog daar by die hawe aangeval sodat hulle moes vlug. Dit sou hulle ongetwyfeld aan die lede van die kommissie vertel het, en Jan Uys sou seer seker ook daarvan bewus gewees het. Maar hy was 'n moedige persoon en het nie vir die moeilike taak teruggedeins nie.

Die volgende more het hy van die kamp of vertrek, vergesel van die vier indoenas en die ander Zoeloes. Toe hulle by die Tugelarivier kom, was die rivier so vol dat hulle nie kon deurgaan nie. Die indoenas het egter Zoeloes aan die oorkant van die stroom gewaar en na hulle geskreeu. Hulle het hulle beveel om na Dingaan te gaan en vir hom to vertel dat hulle en 'n wit man aan die Tugela was, maar nie kon deurkom nie omdat die rivier te diep en gevaarlik was en te vinnig afgekom het.

Van die Tugelarivier of tot by Dingaan se hoofstat, Umgungundhlovu, was 'n afstand van ruim twee dae te voet, en dan moes 'n mens maar min gerus het. Sowat vier dae later was die Zoeloes eers terug met 'n boodskap van Dingaan dat Uys op 'n vlot wat hulle van riete moes maak, oorgebring moes word.

Die indoenas het egter die waters goed beskou en besluit dat die rivier nog te vol en te vinnig was orn met 'n rietvlot oor te gaan. Die besluit het hulle na die Zoeloes aan die oorkant geskreeu en gesê dat dit aan Dingaan meegedeel moes word.

Die boodskap is ook na Dingaan geneem, en hy het laat weet dat as die rivier nog te vol was, daar aan die jong Uys gesê moes word dat hy Piet Uys kon meedeel dat hy die grond tussen die Tugela- en Umzimvoboriviere, van die see tot by die Drakensberge, aan die boere as woonplek sou afstaan, en dat hulle hulle daar moes kom vestig.

Toe die berig hulle bereik, het Jan Uys en die indoenas al twaalf dae lank voor die vol rivier gewag. Die seun het toe gereken dat hy sy bes gedoen het om met Dingaan in aanraking te kom en dat hy nou die nodige toestemming van hom verkry het. Dingaan het ook laat weet dat hy bly was dat Jan Uys na hom toe gekom het, al was dit maar tot by die Tugela, en dat hy nou daarvan oortuig was dat die blankes met hom wou kom praat en dat hy hulle kon vertrou.

Toe is Jan Uys en die Zoeloes na die boere se kamp by Berea. In teenwoordigheid van die vier indoenas het die seun die besonderhede in verband met sy sending aan die boere meegedeel. Piet Uys was besonder in sy skik met die uitslag en het 'n mooi ryperd vir Dingaan as geskenk gestuur.

Die kommissie se taak was daarmee afgehandel. Piet Uys was blykbaar ook weer gesond, en daarom het die boere Port Natal verlaat en terug na die Kolonie gegaan, met die vaste voorneme om binnekort weer Natal toe te gaan om hulle in die pragtige land te vestig.

Die lid van die kommissie wat die meeste eer moet ontvang vir die gunstige uitslag, was die jongste lid van die reisgeselskap, Jan Uys. Hy het die moed gehad om, ten spyte van al die waarskuwings wat die setlaars sou laat hoor het, die gevare langs die pad, en die feit dat al sy medereisgenote gehuiwer het, aan te bied om met die Groot Olifant van die Zoeloes by sy woonplek te gaan praat. Die feit dat hy nie persoonlik by Dingaan uitgekom het nie, doen nie afbreuk aan sy merkwaardige prestasie nie, want dit was net die vol Tugelarivier wat hom teruggehou het. As dit nie so was nie, en hy by Dingaan uitgekom het, sou hy waarskynlik die eerste Afrikaner gewees het wat persoonlik met Dingaan in aanraking gekom het.