Terry Virgo
Lees reeks by God gebruik gewone mense!
Dawid: 'n man na God se hart
"Ek het Dawid, die seun van Isai, gevind, 'n man na my hart, wat al my welbehae sal doen."— Handelinge 13:22
Die geskiedenis van Dawid en Goliat is seker een van die opwindendste verhale in die hele Bybel. Selfs mense wat weinig of niks van die Christendom of van Christenskap af weet nie, ken die verhaal van die onverskrokke jong, lsraeliet wat die reus van Filistea verslaan het.
Dis'n drarnatiese verhaal. 'n Jong man verskyn onverwags, byna uit die niet, op die toneel waar 'n hele leer lamgelê word deur 'n enkele vyandelike soldaat. Met'n vreesloosheid wat aan dwase onverskilligheid grens, daag hy die vyand uit en stap hom dan met die primitiefste wapen van die tyd tegemoet. En so verslaan hy met daardie einste wapen die veteraan van die slagveld en verander sy volk se neerlaag in 'n klinkende oorwinning.
Dis 'n mooi storie, nie waar nie? Maar wat leer dit vir ons? Kom ons gaan kyk na die historiese agtergrond, sodat ons die gebeure beter kan verstaan.
Dawid het grootgeword in 'n tyd van geestelike agteruitgang. Koning Saul, wat vroeër deur die Gees van God versterk en gelei is en die Ammoniete verslaan het, het deur sy ongeloof en ongehoorsaamheid die reg verbeur om langer die volk van die Here te lei. Hy was wel nog die mense se koning, maar God het hom nie meer as sy uitverkore leier erken nie.
Net so het die leër ook nie meer onder die leiding van die Here gestaan nie. Dit was een ding om in oorlogsmondering te marsjeer en oorlogskrete te skreeu, maar dit was 'n heel ander saak om Goliat stil te maak. En die onmag van die Israelse soldate was maar te duidelik elke keer as hy op die toneel verskyn het.
Die Filistyn het sekerlik vreesaanjaend gelyk. Stel jou voor hoe ‘n driemeterlange reus moes lyk, daar waar hy sy swaard voor jou swaai! Dis geen wonder hulle was so bang nie. En dis ook geen wonder dat niemand bereid was om op sy uitdaging te reageer nie. Die een wat die tweegeveg sou wen, sou die oorlog vir sy land wen, en ek is seker soldate van Israel was nie baie ingenome met dié idee nie.
Hulle het waarskynlik lang debatte oor die probleem gevoer, maar dit het net by praat gebly. Niemand het kans gesien om die reus aan te durf nie.
Die getal veertig word dikwels in die Bybel met swaarkry geassosieer. Die Israeliete was veertig jaar in die woestyn; Jesus is veertig dae lank in die woestyn deur die Satan versoek — en hier sien ons weer eens dat die Israelse leër veertig dae lank deur Goliat uitgetart is, sonder om enigsins nader aan 'n oplossing te kom.
God het alreeds sy man gekies
Goliat het die Israeliete dag na dag getart en "genooi" om een uit hulle geledere te kies om teen hom te veg. Wat hulle egter nie geweet nie, was dat die Here reeds daardie "iemand" gekies het. Hy het geweet hoe laag die moreel van sy volk was, en Hy het ook geweet hoe om hulle probleem op te los.
Hy het toe alreeds die profeet Samuel na Betlehem toe gestuur, na die man wat Hy gekies het. Hieruit moet ons leer om altyd seker te maak dat die mense wat ons kies, ook mense is wat deur God gekies is. Hy kies mense om sy werk te doen en Hy wil hê ons moet dit weet. Kom ons gaan kyk waar en wanneer Hy Dawid gekies het.
Samuel was baie hartseer omdat Saul op soveel maniere bewys het dat hy nie 'n waardige leier vir die volk van die Here was nie. God het hom egter beveel om nie langer te treur nie, maar Betlehem toe te gaan na die huis van Isai toe, want Hy het een van die seuns van Isalias as koing uitverkies.
Samuel was baie beïndruk toe hy Eliab, die oudste seun, sien, Ons moet onthou dat hy ook die profeet was wat die aantreklike jong Saul destyds gesalf het, en dit is dus te verstane dat hy verbaas was om te hoor dat Eliab nie God se keuse was nie. Dis net menslik dat hy verwag het dat die nuwe koning weer 'n forse en sterkgeboude jong man sou wees — Want Samuel het nog nie mooi verstaan dat God se keuse niks met 'n mens se voorkoms of liggaamskrag te doen het nie.
So het die een seun na die ander voor hom kom staan, maar elke keer moes hy van God verneem dat dit nie die nuwe koning sou wees nie. Dit was dus sekerlik met meer as 'n tikkie verbasing dat hy uiteindelik vir Isai moes vra of dit al sy seuns was. Daar was wel nog ‘n seun, het die antwoord gekom, maar hy was nog baie jonk en in die veld, want hy moes die skape oppas. Samuel het gevra dat hy ontbied word —en so het Dawid, die man wat die geskiedenis van Israel ingrypend sou verander, oplaas voor die profeet verskyn. Samuel is dadelik getref deur sy ongekunsteldheid en innerlike skoonheid. Daarop het die stem van die Here bevestig dat dit sy keuse was en dat hy as koning van Israel gesalf moes word.
Goliat het natuurlik nie geweet dat die Here klaar iemand gekies het toe hy die volk van Israel so ligtelik uitgedaag het om iemand te kies om teen hom te veg nie.
Hoe "kies" die Here sy mense? Hy sê in 1 Korintiers 1:26 — 29 waarna Hy in 'n mens soek. Kom ons gaan kyk van nader daarna.
Dwaasheid
“Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie ... maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies ..." (vers 26, 27). Te veel Christene onderskat hulle waarde vir God en skryf hulleself af omdat hulle na hulle eie mening nie "intellektueel" genoeg is nie. "Ag, ek het mos nie 'n graad nie — en 'n mens kan nie in vandag se wereld suksesvol wees as jy nie darem minstens 'n graad het nie ... nee wat, ek kan regtig nie vir die Here iets beteken nie," is hulle redenasie en daarmee gooi hulle ook sommer handdoek in.
Die Bybel het goeie.nuus vir sulke mense! Ons het immers so pas gelees dat die Here God juis dikwels mense kies wat nie aan die wêreld se standaarde vir wysheid of "intelligensie" of sukses voldoen nie. Hy het selfs 'n "dwase evangelie" gebruik om die hele wêreld te red. Ons hoor dikwels argumente soos: "Jy verwag tog nie ek moet glo dat goed wat tweeduisend jaar gelede in Palestina gebeur het, vandag nog 'n invloed op die wêreld kan hê nie!" van mense wat vandag as intellektuele "reuse" beskou word. Hulle weier om te aanvaar dat die Man uit Nasaret enigiets te doen kan hê met die probleme wat ons vandag ondervind en probeer liewer om oplossings te vind vir hongersnood, oorlog en onreg — maar dan natuurlik oplossings wat niks met Jesus te doen het nie. "Nee wat, die goed wat julle Christene ons probeer wysmaak van Adam en Eva en die hemel en die hel is sommer twak – om nie eers te praat van die Man wat uit die dood opgestaan het nie!"
SO kom die slim mense van die wêreld met die een argument na die ander, want vir hulle is die evangelie 'n probleem. En intussen kies die Here doodgewone, selfs "dwase" mense om groot werk vir Hom te doen. As jy dus nie 'n baie hoë dunk van jou intellektuele vermoeëns het nie, moet jy nie moed verloor nie. Glo jy wat die Here in sy Woord aan jou sê? Daar is slim mense wat maar sukkel om dit te aanvaar, hulle wil die Bybel analities benader. Daarom kan hulle jou tot in die fynste besonderhede vertel hoe dit ontstaan het en wat die "bronne" in die Skrif is. Onthou net: terwyl hulle besig is om die teks te ontleed, kan jy die Skrywer leer ken en elke dag van jou lewe in sy Teenwoordi gheid deurbring. Moet jouself asseblief nie "afskryf" nie — luister liewer na Jesus, want Hy het gesê: "Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit u welbehae" (Matt. 11:25, 26).
As jy waarlik nederig is, sal die Here Hom aan jou openbaar, maak nie saak as jy jouself nie as 'n baie intelligente of slim mens beskou nie, want jy is bruikbaar vir God. Buitendien kan wêreldse kennis wat deur mense as "slim" beskou word, maklik struikelblokke raak oppad na geestelike sukses. Jesus sê vir ons uitdruklik dat die Here dinge wat Hy vir slim mense verberg, aan kindertjies openbaar. Ons moet ook kindertjies word om in die koninkryk van God in te gaan en daarom moet die slimmes en sterkes dikwels eers nederig gemaak word.
Swakheid
Ek is seker jy het ook al gehoor dat dit "tog so wonderlik sal wees as So-en-So gered kan word, want hy is tog so dinamies — hy kan so baie vir die Here doen!" Maar ons moet net onthou dat die Here ook “swak” mense gekies het om sy werk te doen. As jy na die Bybel kyk, sal jy sien dat Hy in werklikheid maar min sterk en invloedryke mense gekies het. Ons dink en redeneer beslis nie soos die Here God nie, ons word ons deur mense beïndruk en beïnvloed en dink ons dat bekendes en beroemdes van die wêreld die ideale werkers in die koninkryk van God sal wees. Ongelukkig is dit egter nie altyd die geval nie en kan Hy hulle nie altyd gebruik nie omdat hulle eie suksesse en persoonlikhede hulle bruikbaarheid vir God ondermyn. Hulle is so bewus van hulle eie prestasies, dat hulle nie regtig die omvang van sy heerlikheid en almag kan sien nie. Daarom moet Hy hulle eers met hulle eie swakheid konfronteer — hulle moet eers swak word sodat Hy hulle met sy krag kan vul.
Jakob was byvoorbeeld 'n baie slim man wat goed geweet het hoe om sy omstandighede tot sy voordeel te manipuleer. Die Here het egter besluit om hom ondanks sy eie "sukses" te gebruik. Maar Jakob moes eers bewus gemaak word van sy eie swakheid voordat dit kon gebeur. Dit was eers nadat hy "op die heup geslaan" is en mank moes loop, dat hy waarlik vir die Here kon begin werk. Hy moes elke dag weet en voel dat hy ook maar net 'n mens met 'n swakhede was.
Die Here het ook groot planne met Moses se lewe gehad. Hy is as baba deur die farao se dogter uit die Nylrivier gehaal en het in die paleis grootgeword. Hy het die beste opvoeding gehad wat Egipte kon bied en was 'n aantreklike, bevoorregte en intelligente jong man — die ideate leier, nie waar nie? Wat het die Here met die ideale kandidaat gedoen? Hy het hom woestyn toe gestuur, onder omstandighede wat allesbehalwe ideaal was. Daar het Hy Moses weer nederig gemaak en geleer om van Hom, die Here God, afhanklik te wees. Wat was die gevolg hiervan? Toe die Here hom uiteindelik geroep het, was hy so diep onder die indruk van sy eie swakheid, dat hy oor en oor geprotesteer het dat hy beslis nie die regte persoon vir die taak was nie.
Petrus het met groot bravade verklaar dat hy die Here Jesus nooit in die steek sou laat nie, al sou al die ander dit dan doen. En tog het hy kort daarna drie keer verklaar — selfs gesweer — dat hy Hom nie ken nie. Hy het dadelik besef wat gebeur het, en het sy sonde met trane van berou voor die Here bely. Dit was 'n pynlike ervaring en een wat hom diep bewus gemaak het van sy eie swakheid. Ons weet egter dat die Here hom volkome herstel het en dat hy 'n vreeslose getuie en werker vir Jesus geword het. Moet dus nie moedeloos wees as jy diep bewus is van jou eie swakheid nie. Dink liewer daaraan dat die Here jou des te beter kan gebruik as jy nederig is en weet van jou menslike swakhede. Verootmoedig jou voor Hom , want Hy kan dié wat swak is in sy koninkryk gebruik.
Die "laer vlakke" van die samelewing
Die Bybel sê ook vir ons dat ons hemelse Vader dikwels gebruik maak van mense wat nie uit die sogenaamde boonste "lae" of "vlakke" van die samelewing kom nie. Agtergrond en "klas" is vir die wêreld baie belangrik en ons weet dat daar mense is wat bale moeite doen om met die "regte mense" geassosieer te word.
Tog maak ons God maar selde van daardie mense gebruik. Hoogmoed of "klasbewustheid" kan 'n groot struikelblok in jou geestelike lewe wees en kan dit vir 'n mens baie moeilik maak om in die koninkryk van God te kom. Moenie skaam wees voor God as jy 'n eenvoudige en doodgewone mens is wat nie deur die samelewing geag word nie, want dit is juis die mense wat die Here Jesus genooi het om Hom te volg. Dink maar aan die gehate tollenaar vir wie die Jode geen respek gehad het nie, maar by wie Jesus gaan eet het.
'n Mens hoef nie skaam te wees vir jou agtergrond nie. Ek onthou hoe die kinders die opsigter altyd geterg en sommer lelik gespot het toe ek op hoërskool was. 'n Tiener kan soms baie wreed wees en hulle het geen geheim daarvan gemaak dat hulle die snaakse ou mannetjie as ver benede hulle beskou het nie. Onder die omstandighede was ek glad nie gretig om vir my maats te vertel wat my pa doen nie. Hulle het almal geweet dat ek ook by 'n skool bly, maar ek het hulle nie reggehelp as hulle onder die indruk was dat my pa 'n onderwyser of selfs die skoolhoof was nie — sien, my pa was ook 'n opsigter by 'n skool. Hy was 'n wonderlike mens, 'n wonderlike pa, en ek was baie, baie lief vir hom— maar ek wou nie graag hê die ander moes uitvind water soort werk hy doen nie.
Jy is dalk ook skaam vir jou agtergrond. Onthou dan net dat dit mense soos jy was wat spesiaal deur Jesus gekies en genooi is om dag na dag by Hom te wees!
Dié wat deur die wêreld verag word
Die Here het sy liefde duidelik bewys aan mense wat deur die wêreld verag is. Lukas 23:11 sê vir ons dat Jesus ook deur die soldate verag en gespot is — maar dan weet ons natuurlik daarmee saam dat Hy die dood oorwin het!
Moenie neersien op jouself nie! En moet ook nie toelaat dat ander se minagting jou pla of ontstel nie. Ons dink so maklik dat dat ons niks beteken nie, omdat ons die wêreld se maatstawwe gebruik om onsself mee te meet, en dít terwyl ons vir God belangrik en kosbaar is!
Die wat "niks beteken nie"
Die Here het sy kinders selfs gekies uit die gelede van mense wat in die oë van die wêreld "niks beteken" nie. Uit die "onsigbare massas" wat nooit raakgesien word nie. Is jy dalk so iemand? Voel dit vir jou of jy net sowel onsigbaar kon gewees het omdat niemand jou in elk geval raaksien of vir jou omgee nie? Die duiwel gebruik natuurlik elke kans wat hy kry om jou nog verder in die grond in te boor en jou te vertel hoe 'n nikswerd jy is, nie waar nie?
Maar onthou, die Bybel vertel vir ons die verhaal van Dawid, die seun van wie almal vergeet het omdat hy die onbelangrikste een in die hele huis was ... en die Bybel vertel ook vir ons wat uiteindelik van hom geword het!
Voel jy ook soms asof jou eie familie, jou ouers, van jou vergeet het? Asof jy nie regtig vir hulle saak maak nie? So 'n minderwaardigheidsgevoel kan tot gevolg hê dat mens jou al hoe meer en meer terugtrek omdat jy nie kans sien om nog verder verneder en misgekyk te word nie. Dawid het seker ook rede gehad om so te voel.
Maar God het dié wat "niks beteken" nie gekies om magtige dinge vir Hom te doen! Hy het die seun van wie almal vergeet het, gekies om die verteraan -Filistyn te verslaan! As jy voel dat jy niks vir enigiemand beteken nie, onthou dan net dat die Here God jou gekies het om die vyand se beste soldate, en dit sluit angs en verwerping in, te verslaan! Hou vas aan die Woord van God, dan sal jy ook die mag van die vyand kan verslaan. Sê hard en duidelik vir jouself en enigiemand anders wat dit wil hoor, dat die God van hemel en aarde jou gekies het; dat jy in Hom sterk is en dat jy deur sy krag en genade tot alles in staat is!
Wie is hierdie Filistyn? ... vervolg