GOD GEBRUIK GEWONE MENSE! (5)

Terry Virgo

Lees reeks by God gebruik gewone mense!

GOD SE UITVERKORENE STRUIKEL

Die geskiedenis van Dawid en Goliat is waarskynlik een van die opwindendste verhale in die hele Bybel en juis daarom is die verhaal van Dawid en Batseba des te tragieser. Dit maak 'n mens eintlik seer om te sien hoe die man van God struikel en val. Dawid se owerspel is natuurlik nie iets ongewoons in die geskiedenis van die wêreld nie. 'n Mens hoef maar net enige koerant vandag oop te slaan om te sien dat dit elke dag oral in die wêreld gebeur. Ons sou byna kon sê dat die hedendaagse samelewing 'n obsessie het oor seks en die slagspreuk: "As dit goed voel, dan is dit goed!" - is alombekend.

Die tragiek hiervan is natuurlik dat die gesindheid ook reeds in die kerk neerslag begin vind het.

Onverskilligheid

Wat het daartoe gelei dat Dawid uiteindelik voor die versoeking geswig het? 'n Mens wat elke dag sy lewe daaraan wy om binne die wil van God te bly, word immers nie "sommerso" deur die een of ander versoeking "oorval" nie. Nee, as ons na die aanloop tot Dawid se owerspel met Batseba gaan kyk, sal ons sien dat by toenemend onverskillig begin raak het.

Die verhaal begin eintlik "teen die tyd dat die konings (na die slagveld) uittrek" (2 Sam. 11:1). Hoekom het Dawid nie ook slagveld toe nie? Hoekom het hy Joab gestuur om sy leër aan te voer? Hy moes mos daar gewees het, of hoe? Ons sien dat Dawid tuis gebly het om te rus. Dit is natuurlik nie verkeerd om te rus nie en die Here moedig ons ook in sy Woord aan om soms te rus sodat ons nuwe krag kan kry. 'n Mens kan immers nie dag in en dag uit in die stryd verkeer sonder om nou en uit te span nie. Maar Dawid het gerus terwyl daar 'n oorlog aan die gang was. Dit was nie tyd om te rus nie — dit was tyd om oorlog te voer.

Dit, asook die daaropvolgende gebeure, is 'n voorbeeld van ‘n waarheid wat elke Christen moet onthou, naamlik dat die sonde van nalatigheid dikwels tot verdere sonde aanleiding gee. Dit beteken dat as ‘n  mens nalaat om te doen wat jy moét doen, die volgende stap dikwels 'n sonde is. As jy nie aktief met die dinge van die Here besig is nie laat jy die deur na jou hart en lewe wawyd oop staan en kan die sonde makliker in jou lewe inkom. Die beste beskerming teen die sonde is om besig te wees met die dinge van die Here. Dawid was nie in daardie stadium daarmee besig nie en was daarom 'n makliker prooi vir die Satan.

Jesus het in die tuin van Getsemane vir Petrus, Johannes en gesê: "Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie" (Matt. 26:41) Hulle het egter aan die slaap geraak en is heeltemal onverhoeds betrap toe Jesus gevange geneem is — soveel so dat Petrus 'n man se oor afgekap het, en hulle almal beangs op die vlug geslaan het.

Petrus het darem probeer volg, maar doen dit net op 'n afstand en het hom tussen 'n klomp nuuskieriges wat Jesus nie geken bevind. Hulle het hom egter herken as een van "die Galileër'  se volgelinge, maar hy, wat dag na dag by Jesus was, het dit heftig ontken(vgl. Matt. 26:73, 74). So het hy netjies in die strik wat die die duiwel vir hom gestel het, getrap. Petrus se verloëning van Jesus sê vir ons baie duidelik dat enigeen, selfs die getrouste volgeling van die Here kan struikel as hy tussen die verkeerde mense en op die verkeerde plek is. As jy besef dat jy 'n probleem het met sekere versoekings, vra jouself af of jy nie dalk deur jou eie onverskilligheid die deur na daardie soekings laat oopstaan het nie. Raak betrokke en aktief by jou kerk en gemeenskap.  Doen mee aan die dinge van die Here want jy is veilig solamk jy by Hom is en doen wat Hy jou gee om te doen.

Swakheid

Dawid het 'n swakheid gehad wat hom 'n maklike prooi vir versoeking van die Satan gemaak het: hy was op seksuele gebied kwesbaar. Hy het naamlik alreeds 'n hele paar vrouens gehad en ons lees in Deuteronomium 17:17: "Ook mag hy nie bale vroue aanskaf nie." Dawid het hom nie daaraan gesteur nie. Op die oog af was die situasie onder beheer, maar Dawid het nietemin 'n swakheid gehad wat hom besonder vatbaar gemaak het vir seksuele versoekings. En ons weet wat die verskriklike gevolge was toe hy uiteindelik voor die versoeking geswig het.

Dawid het gekyk

Die eerste fout wat Dawid gemaak het, was dat hy na Batseba gestaan en kyk het. 'n Mens sou seker kon sê dat hy tog nie verkwalik kan word vir die blote feit dat hy haar gesien het nie. Hy het immers op die paleis se dak gestaan en haar van daar af sien bad. En as dit dan so onskuldig was, sou die verhaal net daar geëindig het, want hy sou weggedraai en ingegaan het.

Ons is soms geskok as ons sien watter soort tydskrifte oop en bloot op winkelrakke lê, nie waar nie? Maar die feit dat hulle daar Iê en dat ons daaraan blootgestel word, beteken nie dat ons hulle moet optel en deurblaai nie, of hoe? Net so was dit nie vir Dawid nodig om na haar te staan en kyk nie.

Die wet wat die Here deur Moses aan sy volk bekendgemaak het, het uitdruklik bepaal dat dit verbode was om na 'n naakte vrou te kyk. Daar staan in Levitikus 18:16: "Jy mag die skaamte van jou broer se vrou nie ontbloot nie; dit is die skaamte van jou broer." Om na 'n vrou se naaktheid te kyk, was dus so goed as om haar van haar man te steel! En as sy nog ongetroud was, het die wet bepaal, dan sou sy eendag iemand se vrou word en was dit nog steeds so erg soos diefstal.

Die rede vir hierdie wet was dus nie, soos in die Victoriaanse tyd bepaal is, dat daar iets onheiligs aan naaktheid is nie. Die Here sê nêrens in sy Woord dat naaktheid binne die huwelik verkeerd is nie. Ons lees tewens in 1 Korintiërs 7:4: "Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so ook het die man nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou." Intimiteit is deel van die huwelik en binne daardie verhouding is dit iets moois en heiligs.

Maar tussen mense wat nie getroud is nie, is dit 'n heel ander saak. Dan mag 'n mens nie eers met wellus na 'n ander man of vrou kyk nie! Jy moet eenvoudig vir jouself sêdat hy of sy nie aan jou behoort nie, en dan is dit jou plig om weg te kyk.

Dawid het dadelik uitgevind dat die vrou getroud was en net daar moes hy alle verdere gedagtes aan haar kortgeknip het. Maar ons ken die verhaal en ons weet dat dit nie gebeur het nie. Dawid was nie waar hy veronderstel was om te wees nie en hy het nog nooit regrtig werk gemaak van die verkeerde begeertes in sy hart nie. Daarom is die Godsman — die man na God se hart — so maklik deur sy eie wellus oorweldig.

Ek dink nie daar is baie mense wat kan sê dat hulle verhouding met God eers naastenby is soos wat Dawid s'n was nie. Dink net hoe hy aan die koning getrou gebly het terwyl hy vir sy lewe moes vlug. n onthou jy nog hoe hy gehuil het toe hy van Saul en Jonatan se dood gehoor het? Die Here het hom liefgehad — en tog sien ons hoe hierdie geloofsheld soos 'n doodgewone mens voor die versoeking van ‘n buite-egtelike verhouding swig.

Dawid se wellus

Wellus is 'n verskriklike ding. Onder normale omstandi ghede sou ‘n mens immers jouself afvra wat die gevolge van 'n daad is, nie waar nie? Jy sou darem dink aan die konsekwensies voordat jy sommer aan iets toegee. Maar as wellus eers van 'n mens besit neem verdwyn jou rasionele denke en vergeet jy van alles en alles en almal wat in die proses kan seerkry. Dis asof niks anders meer vir jou saak maak nie. Al wat saakmaak is om jou begeerte te bevredig. Dit is wat met Dawid gebeur het.

Maar onthou: dit is nie nodig om voor die versoeking te swig nie. Jy kan dit te bowe kom. God wil hê dat jy vir Hom moet leef en volgens sy standaarde moet leef. Hy wil nie hê dat jy jou verbeelding en begeertes vrye teuels moet gee nie. Watter standaarde stel jy vir jouself? Hoe tree jy op as jy alleen is? Wat doen jy en waaraan dink jy? Kan die Here ook die dinge wat jy dan doen en dink, goedjeyr?

Baie mense sê dat ons nie te kras moet wees in ons oordeel as ons na Dawid se lewe kyk nie. Hy was immers 'n baie besonderse mens.  Hy was 'n koning uit 'n spesifieke tyd in die geskiedenis, en het boonop in 'n Midde -Oosterse land geleef. Ander konings sou in soortgelyke situasie nie gehuiwer het nie — hulle sou eenvoudig die vrou laat haal het as hulle haar wou hê. Ons kan Batseba seker lik ook nie kwalik neem nie, of hoe? Sy kon tog seker nie weier om te gaan toe die koning haar ontbied het nie. Nee wat, ons moet darem die omstandighede in ag neem voordat ons 'n oordeel uitspreek.

Nee! Dawid was nie sommer 'n "gewone mens" nie! Hy was ‘n man na die hart van God! Daarom moes hy lewe soos 'n mens van die lig en nie soos die wêreld nie.

Die Here is wel -deeglik bewus van die sedelike agteruitgang dwarsoor die wêreld. Hy sien hoe jong mense in alle lande verlei en mislei word. Hy weet van die skuldgevoelens in hulle harte, en Hy hoor ook hoeveel Christene al hierdie dinge afmaak met 'n "Ag, almal doen dit!" En Hy sien hoe hulle die wêreld se standaarde hulle eie maak.

Is dit ook jou verskoning? Dat "almal" dit doen - wat dit ook al mag wees? Het jy die wêreld se standaarde jou eie gemaak? Is dit wat dieWoord van God ons beveel om te doen? Sê Hy dat ons maar met die dinge van die wêreld kan speel en ons daarmee besig mag hou?             NEE!  NEE!

Dawid was nie maar net nog 'n koning van daardie omgewing nie. Hy was God se gesalfde. Die ander konings, die goddelose leiers van die wêreld, kon maak soos hulle wil — maar Dawid het ‘n sekere standaard gehad waarvolgens hy moes lewe. Net soos ek en jy.                   .

Die feit dat ander mense by buite-egtelike seksuele verhoudings             betrokke raak, is nie vir ons 'n verskoning om dit ook te doen nie. Pasop, die samelewing waarin ons lewe, is vol slaggate en versoekings en maak dit nie vir die gelowi ge altyd maklik om te leef volgens God se standaarde en norme nie.

Geen jong man het die reg om seksuele eise aan 'n meisie te stel as hy haar ‘n paar maal uitgeneem het nie En geen meisie het die reg om uitlokkend aan te trek om reaksie by 'n man te ontlok nie. Geen mens het die reg om 'n ander se toekoms te verwoes nie.

Wil jy regtig hê dat die Here jou moet gebruik? Moet dan nie met die wêreld "speel" nie. Moenie kompromieë met die sonde aangaan nie. 'n Mens raak nie maklik weer ontslae van die skuldgevoelens as jy die           duiwel eers'n houvas op jou lewe laat kry het nie.                              {~ x

Die Bybel sê vir ons dat die regverdiges net so veilig "soos 'n jong leeu" is (Spr. 28:1) Pas op dat jy nie dalk so op die rantjie van die afgrond staan nie, want dan is dit des te makliker om in die moeras van ons tyd in te val. Die Here wil hê dat jy net so vreesloos en net so veilig soos 'n jong leeu moet wees. Bid tot Hom en vra Hom om jou daarmee te help.

Ouer mense dink dikwels dat dit net die jonger geslag is wat met seksuele versoekings geteister word. Onthou net dat Dawid al byna vyftig was toe hy owerspel gepleeg het! Wees dus gewaarsku. Voel dit dalk asof jou huwelik niks meer as 'n "gewoonte" geword het nie? En lyk die jong meisie by die kantoor deesdae vir jou mooier en vriendeliker as ooit tevore? As jy ja moet antwoord, moet jy onmiddellik ligte sien flits! Sê dan vir jouself dat jy nie voor die versoeking gaan swig nie en vra die Here om jou daarin te versterk.

Hoe het jy gevoel toe jy die verhaal van Dawid en Batseba die eerste keer gelees het? Was jy nie ook geskok om te sien dat hierdie dapper soldaat voor sy wellus kon swig nie? Hoe lkon hy alles wat hy vir die Here gedoen het, in gevaar stel vir 'n oomblik se plesier?

En tog doen ons dit vandag nog. As Dawid voor die versoeking swig, is ek en jy sekerlik nie daarbo verhewe nie. Die Bybel sê duidelik:  “En die liggaam is nie vir hoerery nie, maar vir die Here ... Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat 'n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery bedryf, sondig teen sy eie liggaam. Of weet julle nie dat julle liggaam 'n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is nie, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie?" (1 Kor. 6:13, 18,19)

Die Gees van God woon in jou. As jy dus teen jou eie liggaam sondig, sondig jy ook teen Hom en ontheilig jy die tempel vvan God.  Jy is 'n nuwe mens. Lewe dan soos 'n nuwe mens! God is in jou en Hy sal jou help. Verheerlik Hom ook met jou liggaam.

Vergifnis!... vervolg