Terry Virgo
Lees reeks by God gebruik gewone mense!
WEES STERK EN VOL MOED
"... daarom is dit so belangrik dat elkeen in die gemeente geleentheid moet kry om die gawes en talente wat hy van die Here ontvang het uit te leef en tot voordeel van die liggaam van Christus te gebruik... want dit is nie reg om die seën vir onsself te reserveer nie, ons moet ook uitbeweeg na ons gemeenskap, dorp of stad."
Wat doen 'n mens om die Argitek se plan in 'n realiteit te omskep?
Ons kry ook hierdie antwoord in die lewe van Dawid. Hy het nie net seker gemaak dat Salomo presies weet hoe die huis van die Here moes lyk nie maar het hom ook raad gegee oor hoe hy te werk moes gaan om dit te bou. Sy raad sluit nie dinge in soos: "Ontspan maar net en sit terug – dit sal regkom" nie. Nee! Ons sien dat hy vir sy seun sê: "Wees sterk en vol moed". ( 1 Kron 22:13). Om 'n bouprojek aan te pak is nie maklik nie. En die huis van die Here sou nie vanself klaarkom nie. Dit was 'n geweldige onderneming wat baie moed, kundigheid en deursettingsvermoë van die nuwe koning sou verg. Groot klippe moes gekap word om presies op mekaar te pas, pilare moes versterk word om die gewig van die dak te dra, 'n deur moes gemaak word om die nodige toegang te verleen en daar moes genoeg vensters wees om lig en lug in die tempel in te laat.
En asof dit nie genoeg is nie, was daar ook talle ander negatiewe faktore wat in ag geneem moes word, soos veral die ou duiwel wat beslis nie die bouwerk aan die huis van Here ongehinderd sou laat voortgaan sonder om alles in sy vermoë te doen om dit in die wiele te ry nie. Die werk moes dus nie net in son en wind en reën en watse weer ookal voortgaan nie, maar daarbenewens moes die volk van Israel ook nog getrou by hulle godsdienstige voorskrifte hou. Of hulle nou moeg was of nie, die gebedstye moes nagekom word, en so ook die vastye.
Hierdie probleme was natuurlik nie net beperk tot die tempel wat Salomo laat bou het nie. Nee, elke Christen weet ook vandag hoe moeilik dit kan wees om met die werk van die Here voort te gaan as die Satan uit sy pad gaan om liggaam en gees af te takel. Ons weet ook hoe moeilik dit is om aan te hou as die vordering nie na wense is nie, of as mense allerhande afbrekende stories oor die werk waarmee jy besig is, loop en vertel. Dan moet 'n mens maar net weer na 1 Kronieke 22:13 blaai en Dawid se bemoedigede woorde aan Salomo lees: "Wees nie bevrees en wees nie verskrik nie." Neem jou opnuut voor om aan te hou met die werk waartoe God jou geroep het. Wy jou hele lewe aan Hom en moet jou nie steur aan wat mense sê nie.
Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan. Daarom gebeur dit selfs dat leraars en opregte gelowiges huiwerig is om die volle omvang van die visie wat God hulle gegee het, met medegelowiges te deel. Hulle is bang vir verwerping of, in die geval van 'n leraar, selfs dat hulle posisie in die bediening daardeur in gevaar gestel kan word. Daarom pas hulle maar liewer hulle boodskappe aan as om hulle gesinne in gevaar te stel, en die uiteinde van die saak is dat hulle nie hul opdrag van die Here na behore uitvoer nie. Nee, die Here het vandag opnuut geloofstryders nodig, mense wat bereid sal wees om te doen wat gedoen moet word, watter prys hulle ookal daarvoor moet betaal; mense wat sal ag slaan op sy oproep om sterk en vol moed te wees.
Dit is nie maklik om met agterdog of selfs vyandigheid bejeën te word as jy doen wat God jou beveel het om te doen nie, maar ons moet onthou dat hierdie gesindheid eintlik van die duiwel af kom, hoewel hy natuurlik mense gebruik om dit te openbaar. Die Here sê immers in sy Woord vir ons dat "ons worstelstryd ... nie teen vlees en bloed is nie maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug "(Ef 6:12). Hierdie magte sal alles in die stryd werp om die nuwe en kragtige werking van die Heilige Gees en die gemeenskap van Christus teen te werk. Daarom geld Paulus se woorde aan die Efesiërs vandag nog vir ons: "...word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte" (Ef 6:10). Geen gelowige kan staande bly of enigsins 'n oorwinning in die stryd behaal tensy hy die stryd in God se krag aandurf nie.
Jesus het gesê dat Hy sy Kerk gaan bou en dít is die enigste iets op aarde wat vandag nog ewigheidswaarde het. Dit is al wat saak maak. Daarom sien ons hoe Hy wêreldleiers na vore laat kom en weer wegneem, hoe Hy nasies verander en in die lewens van ons volk en individue ingryp – alles gebeur omdat Hy besig is om sy Kerk te bou.
Ons staan op die vooraand van God se seën en 'n kragtige herlewing. Sê vir die Here dat jy vandag vir Hom wil werk, bely opnuut dat jy jou hele lewe aan Hom onderwerp en tot sy diens stel en vra Hom om jou te help sodat jy ook kan help om aan sy Huis te bou.
Gebruik al die bronne wat Hy jou gee
"En kyk, deur my moeitevolle arbeid het ek vir die huis van die Here... in groot hoeveelheid... in gereedheid gebring... (1 Kron 22:14). Dawid het talle oorwinnings op die slagveld behaal en het alles wat hy daar buitgemaak het gegee om vir die bou van die tempel te betaal. Dit het onder meer honderdduisend talente goud en 'n miljoen talente silwer en ' n groot hoeveelheid koper en yster en hout en klippe – te veel om eers geweeg te word – ingesluit (vers 14).
Jesus het ook vir óns genoeg boumateriaal nagelaat om sy Kerk hier op aarde te bou. Ons weet watter verskriklike prys Hy aan die kruis betaal het sodat ons "uit sy volheid... genade op genade" kon ontvang (Joh 1:16). En die wonder van die dinge wat Hy vir ons nagelaat het lê daarin dat hulle nooit kan opraak nie!
'n Mens deins soms terug voor die omvang van die taak wat Hy jou oplê – totdat jy besef dat Hy jou ook die middele gee om dit mee te doen, en dat Hy geen beperking daarop plaas nie. Jy hoef nie te onthou dat jy swak of onkundig is nie want jy kan maar net elke keer na sy stoorkamer gaan en nóg krag, nóg wysheid, of wat jy ookal nodig het, gaan haal. Daar is oorgenoeg in voorraad!
Dawid het ook vir Salomo gesê: "Verder is daar by jou werksmense in menigte: klipkappers en ambagsmanne in klip en hout, en allerhande kunstenaars in allerhande werk". (1 Kron 22:15). Die Here gee dus nie net vir ons oorgenoeg bronne nie maar ook oorgenoeg hulp in die vorm van medewerkers en Hy wil hê dat ons van mekaar se talente en kundigheid gebruik moet maak om sy Huis te bou.
Jesus gee ons dus nie net sy genade nie maar ook sy 'hande', sy liggaam, sy kerk. "En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en lereaars " (Ef 4:11). Só verskaf Hy nie net boumateriaal nie maar ook die kundigheid en arbeid om sy Huis hier op aarde te bou soos Hy dit wil hê.
Daarom is dit so belangrik dat elkeen in die gemeente geleentheid moet kry om die gawes en talente wat hy van die Here ontvang het uit te leef en tot voordeel van die liggaam van Christus te gebruik.
Ons moet seker maak dat ons op die regte fondament bou. As dit die geval is, en as ons waarlik die werk van die Heilige Gees in ons gemeente kan sien en ervaar, moet ons egter nóg 'n stap verder gaan, want dit is nie reg om die seën vir onsself te reserveer nie, ons moet ook uitbeweeg na ons gemeenskap, dorp of stad.
Die Kerk moet volgens God se bouplan gebou word en ons moet baie seker maak dat ons nie daarvan afwyk en ons eie planne begin volg nie. Nee, ons moet hou by die plan wat Hy ons gegee het, en gebruik maak van die boumateriaal en die bouers wat Hy voorsien. Doen ons dit nié, is ons besig om die gawes wat ons opgestane Here ons gegee het, te ignoreer.
Bepaal jou by God se opdrag
"Rig nou julle hart en siel daarop om die Here julle God te soek," (1 Kron 22:19). Só het Dawid Salomo en sy onderdane bemoedig en hy herhaal dit later, byna asof hy die belangrikheid van hierdie gedagte daardeur wou onderstreep: "En jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien Hom met 'n volkome hart en met 'n gewillige siel... As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind". (1 Kron 28:9). Die Here het 'n plan en doel met Salomo se lewe gehad maar dan moes hy sy hele hart daarop rig.
Net so het Hy ook 'n plan met jóú lewe: "Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee. Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na my vra met julle hele hart". (Jer 29:11-13). Dit is opvallend dat die Here hier van 'n bepaalde volgorde praat: eers moet ons Hom aanroep, daarná na Hom toe gaan en tot Hom bid. Dán moet ons na Hom soek – en uiteindelik met ons hele hart na Hom vra.
Die Here het vir Elia belowe dat Hy reën sou stuur maar ondanks dié belofte het Elia in ongeloof aangehou om God se belofte te herhaal in sy gebede: "Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondergrondelike dinge wat jy nie weet nie." So sê ons hemelse Vader in Jer 33:3 ook vir ons. Glo jy dit? Ja? Dan sal jy nie ophou bid nie!
Moenie wag nie maar begin sommer dadelik bid, in groot groepe maar ook in klein groepies waar dit nie anders kan nie, en verwelkom mense wat 'n besondere salwing vir die gebed ontvang het in julle midde. Roep die Here aan en hou daarmee vol tot Hy Sion 'n sieraad van die hele aarde maak!
Luister Elia... vervolg