SIMSON (4) (SLOT)

Die unieke metodes wat die Rigter Simson aangewend het om Israel van Filistynse oorheersing te bevry.

Dr  JP  Botha

Lees reeks by SIMSON

SIMSON GEE IN

Delila het elke dag tot vervelens toe by hom bly neul totdat hy gevoel het hy word gek daarvan.  Hy het toe sy hart vir haar oopgemaak en vir haar gesê:  “My hare is nog nooit geskeer nie.  Ek is van geboorte af aan God gewy.  As my hare afgeskeer word, sal my krag verdwyn.  Ek sal dan magteloos wees soos enige ander mens.”

Delila het besef dat hy hierdie keer vir haar sy geheim vertel het.  Sy het die leiers van die Filistyne laat kom en gesê:  “Hierdie keer moet julle kom!  Hy het my nou sy geheim vertel!”

Hulle het so gemaak en die geld om haar te betaal, saamgebring. Sy het vir Simson op haar skoot aan die slaap gemaak.  Sy het ‘n man nader geroep om Simson se sewe haarlokke af te skeer.  Sy het seker gemaak dat hy bedwing sal kan word.  Sy krag het verdwyn.

SIMSON DIE GEVANGENE

Sy roep toe uit: “Die Filistyne het jou kom vang, Simson!”  Hy hy het uit die slaap wakker geword en gedink:  “Ek sal weer uit die ding uitkom soos al die vorige kere.”   Maar hy het nie geweet dat die Here hom verlaat het nie.  Die Filistyne het hom vasgebind.  Hulle het sy oë uitgesteek en hom na Gasa toe geneem en hom met twee koperkettings vasgemaak.  Daar in die tronk moes hy toe meel maal, maar stadigaan het sy afgesnyde hare weer begin groei.

‘n Geruime tyd daarna het al die leiers van die Filistyne in Gasa bymekaar gekom om in hulle tempel ‘n groot offerfees vir hulle god Dagon te hou.

Toe die duisende feesgangers die blinde Simson daar sien, het hulle hul god begin loof en gesê:  “Ons god het ons vyand wat ons land verwoes het en so baie van ons doodgemaak het, in ons mag gegee! “

Hulle het begin drink en dronk geword en vir mekaar gesê:  “Bring Simson vir ons dat hy ons kan laat lag.”  Hulle het Simson toe uit die tronk gaan haal om hulle te kom vermaak.  Hulle het hom tussen die twee hoofpilare van die tempel laat staan.

Hy het vir die seun wat sy hand gehou het, gevra om hom te lei.  “Laat my by die pilare van die tempel staan dat ek daarteen kan leun.”

Die tempel was propvol mans en vroue.  Al die leiers van die Filistyne was daar.  Op die dak van die tempel was daar ook omtrent 3 000 mans en vroue wat kom kyk het hoe Simson hulle gaan vermaak.

SIMSON SE WRAAK

Te midde van hierdie oorverdowende spottende rumoer, het die blinde Simson tussen die twee groot pilare gestaan. Toe bid hy:  “Oppermagtige Here, dink tog aan my!  God, maak my tog net een keer so sterk dat ek my kan wreek op die Filistyne vir my oë!”  Hy druk met sy hande weerskante van hom teen die twee hoofpilare waarop die gebou rus.  Toe bid hy weer:  “Laat my saam met die Filistyne sterf!” Hy beur met al sy krag.  Die twee pilare knak en breek middeldeur en die hele tempel stort neer op die leiers van die Filistyne en die duisende wat daarin saamgekoek was.  Met sy dood het Simson baie meer mense doodgemaak as gedurende sy hele lewe.

Sy liggaam is deur sy broers en sy hele familie uit die puin kom haal en tussen Sora en Estaol in sy pa Manoag se graf begrawe.  Hy was 20 jaar lank rigter en leier van Israel, wat sy volk uit die oorheersing van die Filistyne bevry het.

Simson was een van die laaste rigters van Israel wat die volk van hul vyande moes verlos. Ná hom was Samuel die laaste rigter.  Daarna wou die volk opsluit ook ‘n koning hê soos wat die heidennasies gehad het.  Die Here het toe vir Samuel opdrag gegee om vir Saul, as hulle eerste koning te salf.