Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer ons met probleme in ons alledaagse lewe worstel, is die ideaal om 'n langtermyn oplossing te vind. Korttermyn oplossings is meestal maar krisisbestuur en tydelik. Langtermyn oplossings het ten doel om volhoubare stabiliteit en vrede te bewerk.
DIE GELOWIGE IN PYN EN LYDING (4)
Ds AE vd Berg
Lees reeks by Die Gelowige: Pyn en lyding
MOENIE BANG WEES NIE
"Vrees is onkunde – onkunde oor wat God in ‘n mens se lewe
Skrif: Ps.91
Teks: “Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand – na jou sal dit nie aankom nie”(:7).
Hou jou gees gesond
Alhoewel ons almal ‘n lewe sonder beproewing begeer, weet ons dat dit in hierdie sondebestel net nie moontlik is nie. Daar sal maar altyd sorge en lyding wees. Dis egter belangrik dat ons gees in sulke tye gesond sal bly. Dis uiteraard nie die storms van die lewe wat ons lewe beïnvloed nie, maar hoe ons op hierdie storms reageer wat tel. Oorwinning lê in die instandhouding van ons gees.
Ons lewens is wat ons gedagtes daarvan maak. Die dinge waaraan ons dink, bepaal ons persoonlikheid. Dit maak dat ons lewe die kleur van ons gedagtes aanneem.
Daarom is dit moontlik om ons lewe te verander deur ons gedagtes te verander. Gedagtes kan die hemel in hel verander of van ons hel ‘n hemel maak. Daarom moet ons altyd positief dink en sê: “Wat ek nie kan wegdink nie, gaan ek regdink!”
Aangename gedagtes is van die aangenaamste dinge in die lewe. Ons moet soveel as moontlik daarvan bymekaar maak. As dit vir jou na te veel moeite klink om jou gedagtes te verander, moet jy een ding onthou: Jy doen dit nie net vir jouself nie, maar ook vir die mense die naaste aan jou.
Ons besef nie watter ontsettende mag ons gedagtes op ons liggaam het nie!. ‘n Siek gees veroorsaak dikwels ‘n siek liggaam. Geleerdes noem dit psigosomatiese siektes. Die brein dra dit na die liggaam oor. Daarom moet ons ons liggaam gesond hou deur positief te dink. En dis net moontlik indien ons God toelaat om ons gedagtewêreld te beheer. As ons dit nie doen nie, beheer ons sondige natuur dit en klou ons op die ou einde aan niks anders as ons eie hopeloosheid vas nie.
Die lewe is soos ‘n rondomtalie wat baie vinnig draai. Beproewing bring ‘n mens egter so ‘n bietjie tot stilstand en laat jou vir ‘n slag werklik diep dink. Sulke nadenke maak ‘n mens wys en sulke wysheid bring vrede in die gemoed.
Niemand hou van beproewing nie. Nogtans vorm, brei en verdiep dit ons geestelike lewe. Dit gee ons krag en weerstand, ja, geestelike staal. Die lewe is soos ‘n meulsteen – dit poleer of maal ons fyn, hang net af waarvan ons gemaak is. John Perkins het gesê: “Wat my nie vernietig nie, maak my sterk”. Een ding moet ons weet: God beproef ons nooit tot breekpunt toe nie; slegs tot nuwe groeipunte toe. Daarom is beproewing ‘n uitdaging om te lewe.
Dit maak nie saak hoe hopeloos dinge vir ons hier op aarde lyk nie. Aardse dinge is tydelik en minder belangrik. In Christus het ons die ewige hoop en dis al wat saak maak. Ek is liewer siek en van die redding van my siel seker as wat ek gesond en verlore is. Ja, ‘n saligmakende verhouding met God is belangriker as fisiese welstand. Ek wil eerder siek wees en deur die Here gebruik word as wat ek gesond is en niks vir sy Koninkryk beteken nie.
Ontdek nuwe dinge
Beproewing is ‘n leerskool. Ons leer nie sonder opoffering nie. Daarom moet ons die verswakking van ons gesondheid as ‘n geleentheid sien om nuwe dinge in ons lewe te ontdek. Die verlies van sommige van ons vermoëns lei dalk tot die ontdekking van ander vermoëns waarvan ons nie eens bewus was nie.
Wanneer dit lyk asof ons nooit weer gesond gaan word nie, moet ons God se wil daarmee soek. Kan dit wees dat Hy dalk ‘n nuwe doel vir ons lewe het? Straks bring dit vir ons nuwe uitdagings en perspektiewe wat sin aan ons lewe gee. Beproewing gee ons die tyd om waarlik te leef, al is diè tydjie baie kort. Sit derhalwe alles in!
As ons beproef word, moet ons God nie gedurig met verwytende vrae bestook nie. Soek eerder ‘n nuwe ontmoeting met Hom, ja, ‘n nuwe ervaring van sy teenwoordigheid en grootheid. Om God te midde van ons nood opnuut te vind, is een van die heerlikste winste wat beproewing kan oplewer.
Terminale siekte laat ons opnuut besef dat ons tyd min geraak het. Tyd is nie ons reg nie; dis ‘n voorreg. Ons besit dit nooit. Dis aan ons geleen, ja, ‘n kosbare stukkie leengoed uit die hemel. Die sekerheid van ‘n ewige lewe laat ons egter berus dat ons veilig in God se hand is. Niks wat die moeite werd is, gebeur sonder opoffering nie.
Wanneer ons ernstig siek word, besef ons hoe kosbaar die lewe is en dat gesondheid nie vanselfsprekend is nie. Gesondheid is soos vryheid. ‘n Mens besef nie die waarde daarvan alvorens jy dit eenmaal verloor het nie. Vra maar vir enige gevangene!
Die verlies aan gesondheid dwing ‘n mens om noodsaaklike aanpassings aan jou lewe te maak. Die stryd teen negatiewe emosies alleen is alreeds ‘n groot geveg. Maar as ons hieroor seëvier, behaal ons die soetste oorwinning denkbaar!
Moenie bang wees nie
Moenie bang wees vir beproewing nie. Vrees is maar ‘n natuurlike reaksie op onaan-gename omstandighede. Hoop is weer die reaksie op godsvetroue. In Joh.14 vra Christus van ons om nie bang te wees nie, maar op God te vertrou.
Toe Jesus een stormnag by sy dissipels in die boot geklim het, het die storm onmiddellik bedaar. Dit gebeur nie altyd met die storms van die lewe nie. Soms klim Jesus in ons lewensboot, nie om die storms te bedaar nie, maar om te sorg dat dieselfde storm ons boot vinniger by sy verlangde bestemming uitbring.
Gelowiges moet in tye van beproewing nie alleen om die bewaring van die gevaar bid nie, maar ook vir ‘n verlossing van vrees. Jy moet jou troos daarin vind dat jou hele lewe in God se hande is. Luister hoe treffend stel Ps.91:7,8 dit: “Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand – na jou sal dit nie aankom nie. Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien”
Vrees is onkunde – onkunde oor wat God in ‘n mens se lewe kan doen. Die Bybel sê dat ons niks in die lewe moet vrees nie en dat God ons selfs leer om ons beproewings te verstaan. Kom ons verf ‘n gepaste naam op ons lewensboot en noem dit: Vrees verbode.
Vir ‘n kind is dit normaal om vir die donker bang te wees. Dis egter ‘n tragedie wanneer volwassenes vir die lig bang is! Geloofshelde raak ook maar soms bang. Maar waarom neem hulle nie die loop nie? Omdat hulle in die geloof vasbyt! Lafaards gooi altyd handdoek in. Helde nooit! Daar is in werklikheid net een ding waarvoor ons baie bang moet wees en dis sonde. Die res is onbelangrik.
Vrees is ‘n nare ding. Dit maak jou siek en verlam daardie noodsaaklike krag wat jy vandag nodig het om môre se beproewing te kan dra. Wanneer ons egter leer om nie bang te wees nie, ontdek ons hoe wonderlik dit is om beproewing te verdra en nog steeds geestelik sterk te bly.
Ongelowiges vrees die toekoms omdat hulle bang is dit wat dalk vir hulle mag voorlê. Gelowiges nie. Alhoewel ons nie weet wat vir ons nog voorlê nie, weet ons ten minste in Wie se hande die toekoms is. Gelowiges wat weet aan Wie die laaste uur behoort, durf ons vir geen enkele minuut bang te wees nie.
Gelowiges wat met hoop leef, is nie bang nie. Baie mense hoop vaagweg, maar vrees in die fynste besonderheid. In sulke gevalle word vrees ‘n tronk wat jy om jouself bou. Jy verhoed God om sy doel met jou te bereik.