M O S E S... (1)

...vriend van God, wat Israel van Egipte tot by Kanaän gelei het

Dr JP Botha

Lees reeks by MOSES

DIE BABA IN DIE MANDJIE

Dit is die jaar 1526 vC.  Die son se laaste strale skitter oor die fyn kabbeltjies van die breë Nylrivier en werp ‘n goue skynsel oor die welige palmiet en fluitjiesriet langs die oewer.  Langs die waterkant dwaal ‘n paar diensmeisies van die goeie prinses, Hetsjepsoet, wat ‘n veiligheidsogie moet hou oor hierdie goeie dogter van die farao, onderwyl sy op haar gewone beskutte plekkie ‘n bad neem in die verkwikkende lou water van die rivier.

Meteens hoor prinses Hetsjepsoet ‘n dringende roep van een van haar meisies.  Sy stap nader en kom met verbasing tussen die riete in die vlakwater op ‘n diggemaakte mandjie af, waarin daar ‘n baba van ongeveer drie maande oud lê.

Toe sy opkyk, staan daar ‘n jongmeisie langs haar.   Hierdie meisie was ek, Mirjam, wat hier langs die rivier vir die veiligheid van my klein boetie moes waak, waar my ouers hom langs die rivier in die riete weggesteek het, sodat die farao se soldate hom nie ontdek en vermoor nie.

Die outjie se droewige gehuil gryp haar in die hart en sy buk om hom uit sy ongemaklike ou bootjie op te tel en te vertroos.

Ek sê toe: “Prinses, kan ek nie vir u ‘n Hebreeuse vrou gaan haal om hierdie seuntjie op te pas en te soog nie, totdat hy groot genoeg is vir u om hom in die paleis te neem?”

Sy het dadelik daarmee genoeë geneem en ek het so vinnig as wat ek kon na ons huis toe gehardloop en my liewe ma, Jogebet, gaan haal en sy is met die drie maandeoue baba, haar eie kind, in haar moederarms daar weg om hom veilig in ons eie huis vir prinses Hetsjepsoet groot te maak.  Sy het hom Moses genoem, want sy het gesê sy het hom mos uit die water gehaal.

DIE ISRAELIETE WORD VERDRUK

Ons het in Egipte ‘n verskriklike tyd beleef.  Daardie geseënde tyd toe Josef onderkoning van Egipte was en Jakob en sy seuns en hulle kinders gelukkig in Egipte gewoon het, was verby.  Die Hebreërs of Israeliete se getalle het later met rasseskrede uitgebrei.  Die farao het niks hiervan gehou nie.  Hy het niks geweet van Josef se geseënde werk in Egipte nie en het in die Israeliete se getalsvermeerdering in Egipte net onheil vir die Egiptenare sien kom.  Daarom het hy drastiese planne in werking gestel om die Israeliete se getalsterkte in Egipte so te verminder dat hulle sy eie regering nie sou bedreig nie.

Omdat die Egiptenare toe bang geword het vir die Israeliete, het hulle hul verplig om soos slawe te werk en het die lewe vir hulle bitter moeilik gemaak. Hulle moes stene maak en klippe kap en buite in die veld werk.  Hulle moes die stede Pitom en Rameses vir die farao bou, om sy voorrade daarin te stoor.

Toe bedink die farao nog ‘n ander duiwelse plan om die Israeliete se getalsvermeerdering in die wiele te probeer ry.  Hy gee die twee Israelitiese verpleegsters, Sifra en Pua, opdrag wanneer hulle Israelitiese vroue by geboorte van hulle kinders bedien, om elke seuntjie wat gebore word, net daar dood te maak, en die dogtertjies te laat lewe.

Hierdie twee gelowige vroue, wat die Here gedien het, het geweier om die seuntjies by geboorte te vermoor.  Toe die koning dit agterkom, het hy hulle laat roep en voor stok gekry.  Hulle het vir hom gesê: “Die Hebreeuse vroue is baie sterk.  Teen die tyd dat die kraamverpleegster by hulle kom, het hulle alreeds geboorte gegee.  Hulle is nie so stadig soos die vroue van Egipte nie.”

Die Here het toe hierdie twee verpleegsters kennelik geseën en vir hulle huisgesinne gegee.

Die farao het toe sy neerlaag teen die vroue probeer vergoed deur aan elke Egiptenaar opdrag te gee  om elke Israelitiese seuntjie wat gebore word, in die Nylrivier te verdrink, terwyl hulle die dogtertjies maar kon laat lewe.

Onder hierdie verskriklike omstandighede het ons arme verdrukte Israeliete hier in Egipte gelewe.  My ouers se huis het maar ongeveer eenhonderd meter van die dreigende vloedwaters van die Nyl af gestaan, waarin reeds ‘n groot getal van die volk se seuntjies verdrink is.  My pa, Amram, was met sy tante, Jogebet, my moeder, getroud.  Hulle was albei uit die geslag van Levi.  Ek het ‘n broertjie gehad, Aäron, wat die aanslae van die bose Egiptiese magte vrygespring het.  Hy was drie jaar oud toe klein Moses gebore word.  My ouers en ek was gaande oor dié mooi jongste kind.

Nadat ons hom drie maande lank weggesteek het, het die gevaar om ontdek te word, te groot geword.  My moeder het toe ‘n mandjie van papirus gevleg en waterdig gemaak en hom daarin tussen die riete neergelê.  Ek het bedags in die omgewing die wag gehou, totdat die prinses hom ontdek het en hom as haar eie kind aangeneem het.  My moeder het hom gedurende die volgende drie jaar van sy lewe liefderik versorg, waarna hy aan die waardes, geleerdheid en rykdom van die koninklike hof blootgestel is en onder andere sy sluimerende skryfkuns ontwikkel is.  Ons het maar min van ons liewe broer Moses se verblyf aan die Egiptiese hof te siene gekry, maar ons was innig dankbaar dat hy die lot van honderde Israelitiese kinders vrygespring het.

Vervolg...