M O S E S... (3)

...vriend van God, wat Israel van Egipte tot by Kanaän gelei het

Dr JP Botha

Lees reeks by MOSES

MOSES BY DIE BRANDENDE BOS

Onderwyl Moses sy skoonpa se skape opgepas het, het hy al dieper in die woestyn in beweeg en by Horeb uitgekom, die berg van God.  Daar het die engel van God skielik aan hom verskyn in ‘n vlam wat in ‘n bos brand.  Dit het Moses verbaas.  Hy het die vlam dopgehou.  Die bos het aanhou brand en glad nie uitgebrand nie.  Moses het gedink daar moet ‘n rede voor wees en begin naderstap om ondersoek in te stel.  Toe die Here sien Moses kom nader, roep Hy uit die bos na hom:  “Moses, Moses!”

“Hier is ek,” antwoord Moses.

“Moenie nog naderkom nie. Trek uit jou sandale.  Die plek waar jy staan is heilige grond,” hoor hy.

God sê toe vir hom: “Ek is die God van jou voorouers – die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.”

Toe Moses dit hoor, hou hy sy hande voor sy gesig, want hy was bang om na God te kyk.  Toe praat die Here verder met hom:  “Ek het gesien hoe swaar my  volk in Egipte kry.  Ek het gehoor hoe hulle teen hulle slawedrywers om hulp roep.  Ek is baie bewus van hoe swaar hulle kry.  Daarom het Ek gekom om hulle van die Egiptenaars te bevry en hulle weg te lei uit Egipte na hulle eie mooi land.  Dit is ‘n land met oorgenoeg kos.  Die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete bly nou daar.  Die volk se noodroep het by My uitgekom en Ek het raakgesien hoe die Egiptenaars hulle verdruk en swaar laat werk.  Gaan nou!  Ek stuur jou na die farao toe.  Jy gaan my volk, die Israeliete, weglei uit Egipte.”

Dit was vir Moses ‘n groot skok.  Hy staan sprakeloos, maar kry uiteindelik uit:  “Maar wie is ek dan om voor die farao te verskyn?  Hoe kan U dit van my verwag om die Israeliete uit Egipte weg te lei?”

Die Here antwoord:  “Ek sal by jou wees.  Wanneer jy die volk uitgelei het uit Egipte en julle God by hierdie berg kom aanbid, sal dit vir jou die bewys wees dat dit Ek is wat jou gestuur het.”

Hoor net hoe stribbel Moses teë: “As ek by die volk van Israel kom en vir hulle sê, ‘Die God van julle voorouers het my na julle toe gestuur’, sal hulle my nie glo nie.  Hulle sal vra: ‘En wie is jy?’ Wat moet ek dan vir hulle sê?”

 

Die Here het weer geantwoord:  “Ek is soos wat Ek is. Sê maar net vir hulle: Ek Is het my na julle toe gestuur. Sê vir hulle:  Die Here, die God van julle voorouers – die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob het my na julle gestuur.  Dit sal altyd my Naam wees en dit is wat elke geslag My sal noem.  Gaan maak nou die leiers van Israel bymekaar.  Sê vir hulle: Ek het die Here, die God van julle voorouers – die God van Abraham, Isak en Jakob – by die bos wat brand, ontmoet.  Hy het vir my gesê: Ek is oor julle bekommerd,  want ek het raakgesien wat met julle in Egipte gebeur.  Ek sal julle uit die onderdrukking in Egipte wegneem na die land waar die heidene nou bly.  Dis ‘n land waar daar volop kos is.

“Die leiers van die Israeliete sal aanvaar wat jy sê.  Julle moet dan almal saam na die koning van Egipte toe gaan en vir hom sê: ‘Ons het die Here, die God van die Hebreërs ontmoet.  Laat ons toe om drie dae die woestyn in te gaan, sodat ons daar offers vir die Here ons God kan bring.’

“Ek weet dat die koning van Egipte julle nie sal laat gaan nie.  Hy sal gedwing moet word.  Daarom sal Ek ingryp en Egipte hard slaan met allerhande verskriklike dinge wat Ek met hulle sal laat gebeur.  Dan eers sal hy julle laat gaan.  Ek sal sorg dat die Egiptenaars julle dan goed behandel.  Hulle sal julle dan oorlaai met geskenke.  Julle sal nie met leë hande van daar af weggaan nie.  Die Israelitiese vroue moet dan silwer en goue juweliersware en mooi klere eis van hulle Egiptiese bure en van die Egiptenaars wat in hulle huise is.  Laat julle seuns en dogters dit dan dra.  So sal julle die Egiptenaars deeglik beroof.”

Vervolg...