M O S E S... (4)

...vriend van God, wat Israel van Egipte tot by Kanaän gelei het

Dr JP Botha

Lees reeks by MOSES

MOSES KEER TERUG NA EGIPTE

Ná hierdie lang betoog van die almagtige Here, het Moses nog verder teëgestribbel:  “Hulle sal my nooit glo nie!  Hulle sal nooit doen wat ek vir hulle sê nie!  Hulle sal vir my sê dat ek nie regtig die Here ontmoet het nie.”

Toe vra die Here vir hom:  “Wat het jy daar in jou hand?“

"’n Herderstok. "

"Gooi dit op die grond neer."

Toe hy dit doen, word dit ‘n slang.  Om te keer dat Moses nie weghardloop nie, sê die Here:  “Gryp hom aan die stert.”

Moses doen dit en die “slang” verander weer in sy kierie.  Die Here sê: “Dit sal hulle oortuig dat jy die Here, die God van hulle voorouers ontmoet het.”  Verder sê Hy: “Sit jou hand onder jou klere in.” Moses doen dit en toe hy weer sy hand uithaal, was dit spierwit melaats.   “Sit nou weer jou hand onder jou klere in,” sê die Here vir hom.  Toe hy sy hand uithaal, is dit so gesond soos die res van sy lyf.  “As hulle ná hierdie twee tekens nog nie glo nie, moet jy water uit die Nyl gaan skep en dit op die grond uitgooi.  Dit sal verander in bloed..”

Toe kla Moses dat hy nie goed kan praat nie.  As hy vinnig iets moet sê, dan stotter en hakkel hy.  Toe sê die Here vir hom:  “Loop, en gaan maak soos Ek vir jou sê.  Ek sal jou goed laat praat en vir jou voorsê wat jy moet sê.”

Toe maak Moses sowaar nog beswaar.  Hy sê:  “Ag Here, asseblief, stuur tog iemand anders...!”

Die Here het Hom vir die onwillige Moses vererg en die feit dat Hy hom nie net daar verpletter het nie, spreek van die barmhartige, genadige en liefdevolle God se eindelose geduld met ongehoorsame mense wat teen sy wil handel.

“Nou goed,” sê God vir hom.  “Wat van jou broer, Aäron, uit die Leviete?  Hy kan tog goed praat en hy is alreeds op pad om jou te kom ontmoet.  Hy gaan bly wees om jou weer te sien.  Jy moet dan vir hom voorsê wat om te sê.  Ek sal julle help om te praat en vir hulle sê wat moet gebeur.  Aäron sal namens jou met die volk praat.  So sal hy jou mond wees.  Jy sal soos God wees wat vir hom voorsê wat om te sê.  Sorg dat jy jou herderstok by jou het, sodat jy die tekens kan doen wat ek jou geleer het.

Uitendelik was Moses gewillig om die groot taak wat die Here hom oplê aan te pak en daar uitvoering aan te gee.  Hy het na sy skoonpa, Jetro teruggegaan en huiwerig vir hom gevra:  “Kan ek asseblief maar teruggaan na my familie in Egipte?  Ek weet nie eers of hulle nog leef nie”.  Jetro het gesê::  “Jy kan met graagte gaan.”

Voordat Moses weg is, het die Here hom weer moed ingepraat en hom verseker dat almal wat hom wou doodmaak alreeds dood is; hy moenie bang wees nie.

Moses het toe sy vrou en kinders bymekaar gekry, hulle op donkies laat klim en die reis begin.  Hy het sy herderstok saamgeneem.  Die Here het gesê as hy in Egipte aankom, moet hy na die farao toe gaan en die tekens wat hy hom geleer het, doen.  Die Here sal die farao dan hardkoppig maak, sodat hy sal weier om die volk te laat trek. Dan moet jy vir hom sê: Kyk, Israel is my oudste seun.  Jy het geweier om my seun toe te laat om te gaan en my te aanbid.  Daarom gaan Ek nou jou oudste seun doodmaak.”

Moses en sy gesin het langs die pad oorgeslaap. Die Here het na Moses toe gekom om hom dood te maak.  Sy vrou Sippora het ‘n skerp mes gevat en haar seuntjie, Manassa se voorvelletjie daarmee afgesny. Hy was nog nie besny nie.  Sy het dit teen Moses se geslagsdeel gedruk en vir hom gesê:  “Jy is nou my bruidegom wat met bloed beskerm word.” Die Here het hom hierna laat bly lewe.

Intussen het die Here vir Aäron gesê hy moet Moses in die wildernis ontmoet.  Hy het dit gedoen en by die berg van God op Moses afgekom en hom omhels.  Daarna het Moses vir hom alles vertel wat hy moes kom uitvoer en ook van die tekens wat hy moes doen.

Aäron het hom nou vergesel na Egipte toe.  Daar aangekom, het hulle al die leiers van die Israeliete bymekaar geroep.  Aäron het vir hulle alles vertel wat die Here vir Moses gesê het en onderwyl hulle na hom gestaan en kyk het, het Moses die tekens gedoen.  Dit het hulle oortuig dat die Here vir Moses en Aäron gestuur het.  Hulle het hul koppe gebuig en op hul knieë neergesak toe hulle hoor dat die Here bekommerd is oor Israel en hulle ellende raakgesien het.

Moses en Aäron het van die leiers af direk na die farao gegaan en vir hom gesê:  “Die Here, die God van Israel sê jy moet sy volk toelaat om in die woestyn vir Hom ‘n fees te gaan hou.”  Farao spot toe en sê:  “Wie is hierdie Here nogal dat ek na Hom moet luister om Israel te laat gaan?  Ek sal dit nooit doen nie, want ek ken nie ‘n Here nie.”

Moses en Aäron sê toe:  “Ons het die God van die Hebreërs ontmoet.  Laat ons toe om drie dae ver in die woestyn in te trek, sodat ons offers vir die Here ons God kan bring.  As ons dit nie doen nie, sal Hy beslis siekte of oorlog teen ons laat uitbreek”.

Die koning van Egipte het hulle sarkasties en uit die hoogte aangekyk.  Toe sê hy:  “Waarom probeer julle die volk uit die werk uithou?  Loop terug en gaan doen julle werk!  Julle is alreeds meer as die inwoners van die land en nou probeer julle hulle van die werk af weghou.”

Die farao het die selfde dag nog vir die Egptiese slawemeesters laat weet om nie meer vir die Israeliete strooi te verskaf om by die stene gevoeg te word om dit sterk te maak nie.  Hulle moes voortaan self die strooi gaan soek, maar hulle moes net soveel stene maak soos altyd.  Die farao sê hulle het lui geword.  Daarom kerm hulle om vir hulle God te gaan offer.  Hy gee die slawedrywers opdrag om hulle nog harder te laat werk, sodat hulle nie sulke slimstories kan uitdink nie.

Hulle het toe oral in Egipte stoppels gaan versamel vir die stene.  Die slawemeesters het hulle gedryf en geslaan omdat hulle nie meer dieselfde kwota stene as vroeër kon lewer nie.  Israelitiese opsigters het toe by farao gaan kla.  Al antwoord wat hulle gekry het, was: “Julle het lui en laks geword.  Dis hoekom julle kom vra om vir die Here te offer.  Gaan terug na julle werk toe!  Julle sal nie strooi kry nie!  Sorg dat julle dieselfde hoeveelheid stene lewer!”

Toe die Israelitiese opsigters van farao af weer buite kom, gewaar hulle vir Moses en Aäron, wat vir hulle staan en wag en sê vir hulle: “Die Here sien wat julle aangevang het.  Hy sal julle straf vir die gemors waarin julle ons by farao en die slawedrywers laat beland het. Dis julle skuld dat hulle ons wil doodmaak!”

Moses het by die Here hieroor gaan kla: “Waarom maak U so lelik met u mense?  Waarom het U my  dan gestuur?  Vandat ek by farao was behandel hy hierdie volk net al hoe slegter.  U het nog niks gedoen om hulle te red nie!”

Die Here se antwoord aan hom was: “Nou gaan jy sien wat Ek met die farao gaan doen.  Ek gaan hom dwing om my volk te laat gaan.  Hy gaan hulle selfs uit die land wegjaag.”

Vervolg...