M O S E S... (7)

...vriend van God, wat Israel van Egipte tot by Kanaän gelei het

Dr JP Botha

Lees reeks by MOSES

AGSTE PLAAG:   SPRINKANE!

Die Here het vir Moses gesê Hy maak die farao en sy beamptes onwillig om  Hom te gehoorsaam, sodat Hy rede kan hê om al die rampe oor die land te bring.  Hy doen dit sodat almal kan weet dat Hy die Here is.  Hy stuur toe weer vir Moses en Aäron na die farao toe.  Hulle sê toe vir hom:

“Die Here, die God van die Hebreërs vra vir jou:  Hoe lank gaan jy aanhou weier om na My te luister?  Laat my volk gaan, sodat hulle My kan gaan aanbid.  As jy aanhou weier, gaan Ek môre sprinkane oor jou hele land laat kom.  Daar sal so baie van hulle wees dat jy nie eers die grond onder hulle sal kan sien nie.  Hulle sal alles wat van die haelstorm oorgebly het, wegvreet.  Hulle sal selfs die bome wat weer begin uitloop het, kaalstroop.  Hulle sal in jou paleis en jou amptenare se huise en in al die huise in Egipte inkruip.  Dit gaan die grootste ramp wees wat Egipte nog  getref het.”

Moses het toe sy rug op die farao gedraai en weggestap.  Toe pak die amptenare die farao:  “Hoe lank gaan U nog toelaat dat hierdie rampe aangaan?  Laat tog maar die mans gaan om te gaan offer.  Sien U nie dat Egipte in duie stort nie?”

Hy het toe vir Moses en Aäron teruggeroep en sê vir hulle:  “Gaan dan en bid vir die Here, julle God.  Sê net vir my wie gaan almal saam?”

“Ons gaan almal saam, van oud tot jonk.  Ons vat ons seuns en ons dogters en al ons vee saam.  Ons neem almal deel aan die fees van die Here.”

Farao is van mening dat die Here hulle almal eers beslis sal moet help, as hulle almal moet gaan.  Hy meen hulle het een of ander skelm plan in die kop.  Hy laat net die mans toe om te gaan, want dis waarvoor hulle gevra het.  Toe jaag hy hulle weg.

Daarop sê die Here vir Moses hy moet sy stok oor Egipte uitsteek, sodat die sprinkane kan kom. Die Here het die hele dag en die nag ‘n oostewind laat waai.  In die oggend het die wind die sprinkane begin aanbring. Hulle het op die hele Egipte toegesak.  Dit was oral net sprinkane.  Nooit van te vore en nooit daarna was daar ooit weer soveel sprinkane in Egipte nie.  Hulle was oor alles.  Die grond was toe onder hulle.  Al die plante en vrugte wat na die haelstorm oorgebly het, is weggevreet.  Daar het nie ‘n krieseltjie groenigheid oorgebly nie.  Daar was nie ‘n boom of ‘n plant oor in die hele Egipte nie.

Die farao het Moses en Aäron toe dringend laat roep.  Hy sê vir hulle:  “Ek het verkeerd gemaak met julle God en met julle.  Vergewe my tog hierdie keer.  Pleit tog by die Here julle God om hierdie dodelike ramp te laat ophou.”

Moses is weg van die farao af en het tot die Here gebid.  Hy het ‘n sterk wind uit die weste laat waai wat die sprinkane in die Rietsee ingewaai het.  Daar het nie ‘n enkele een in Egipte oorgebly nie.  Die farao het egter weer hardkoppig geword, sodat hy steeds geweier het om die Israeliete te laat gaan.

NEGENDE PLAAG :   STIKDONKER

Die Here het Moses beveel om sy hand in die lug op te steek.  Dit het stikdonker geword oor die hele Egipte.  ‘n Mens kon amper daaraan vat.  Vir drie dae lank kon die mense nie mekaar sien nie en kon nie ‘n voet versit ne.  By die Israeliete was dit egter helder sonskyn.

Die betekenis van die plaag lê  daarin dat duisternis die gevaarlike tyd is wat hier die teken is van onheil en die oordeel van die Here.  Terwyl Egipte dus in onheil verkeer, verkeer Israel in die lig van die Here.  Die songod was die hoofgod van Egipte.  Die Here verslaan hom hier op eie terrein, dit is in die land waar hy as hoofgod vereer is.

Toe roep die farao vir Moses.  “Loop en aanbid die Here.  Net julle skape en beeste moet hier bly. Julle vroue en kinders kan saam met julle gaan.”

Moses se antwoord was:  “Al ons diere moet saam met ons gaan.  U sal tog nie vir ons van u eie diere gee om te gaan offer nie.  Ons kan nie voor die tyd weet watter offers ons gaan nodig kry nie.”

Die farao het weer hardkoppig gemaak.  Hy weier toe om hulle te laat gaan.  “Loop hier weg!” skree hy vir Moses.  “Sorg dat ek jou nooit weer sien nie!  As ek jou ooit weer sien, maak ek jou dood!”

“Nou goed dan!” sê Moses.  “Ek sal U nooit weer sien nie.”

TIENDE PLAAG:  DOOD VAN OUDSTE SEUNS

Toe sê die Here vir Moses:  “Ek gaan nog ‘n verdere ramp oor die farao en Egipte laat kom.  Hy sal julle daarna laat gaan.  Hy sal so graag van julle ontslae wil raak dat hy julle gaan wegjaag.  Sê vir die mans en die vroue van die volk dat hulle by hulle bure goue en silwerware moet eis.”  Die Here het hiermee beoog dat die Israeliete nie brandarm wegtrek uit Egipte nie, maar die goud en silwer en ander waardevolle dinge kan gebruik op pad terug na Kanaän.  Die Egiptenaars sou ruim gee, want teen hierdie tyd het hulle al groot agting en bewondering gekoester vir Moses, oor al die plae wat hulle moes trotseer.  Daarom het hulle ruim gegee en gehoop om die Israeliete daardeur gouer te laat wegkom, sodat die vreeslike plae kan einde kry.

Moses het toe vir die farao gesê:  “Teen middernag gaan die Here deur Egipte beweeg.  Dan sal die oudste seun in elke gesin in Egipte sterf, vanaf die oudste seun van U, die farao, tot die oudste seun van die onbelangrikste bediende.  Selfs onder die vee sal die een wat eerste gebore is, getref word.  ‘n Droewige gehuil sal in Egipte opklink soos daar nog nooit was nie en nooit weer gehoor sal word nie.  By die Israeliete sal dit doodstil wees.  Daar sal ‘n hond nie eers vir ‘n mens of ‘n dier grom nie.  Dit sal duidelik wees dat die Here onderskei tussen Israel en die Egiptenaars.  Al die amptenare van Egipte sal dan voor my, Moses, kom neerval en smeek:  Trek tog en vat al jou volgelinge saam met jou!  Eers dan sal ek gaan.” Moses is kwaad van die farao af weg.

Alles het net so gebeur soos die Here vir Moses gesê het, maar terselfdertyd het die instelling van die Paasfees plaasgevind, wat ons daarmee saam sal behandel.

Vervolg...