M O S E S... (11)

...vriend van God, wat Israel van Egipte tot by Kanaän gelei het

Dr JP Botha

Lees reeks by MOSES

BY KADES-BERNEA IN DIE  WOESTYN

Uiteindelik het ons onder hierdie goedgekontroleerde omstandighede Sinaï verlaat en gaan kamp opslaan by Kibrot-Taäwa.  Die volk wat meer as twee jaar lank rustig by Sinaï gekamp het, was nie meer aan die ontberings van die trek gewoond nie en het sommer direk by die Here begin kla dat hulle swaarkry.  Hy het toe in sy toorn vuur onder hulle laat uitbreek.  Dit het tot by die kant van die kamp gebrand en die benoude volk het beangs na Moses om hulp geroep.  Hy het tot die Here gebid en die vuur het bedaar.  Daarna is die plek Tobera genoem.

By ons volgende kampplek, Kibrot- Hattaäwa, het ‘n klomp skobbejakke uit die gemengde bevolking ‘n onbedaarlike lus vir vleis gekry en ‘n vreeslike gekerm daaroor aan die gang gesit.  Dit was so erg en aansteeklik dat al ons Israeliete begin neul het:  “Waar kan ons tog vleis kry?  In Egipte kon ons net soveel vis eet as wat ons wou.  Daar was komkommers en waatlemoene en prei en uie en knoffel.  Maar nou stik ons aan die manna waarteen ons elke dag moet vaskyk!”

Die heerlike manna wat God nog elke môre aan die volk voorsien het,  was soos koljandersaad.  Dit het ‘n vaal kleur gehad.  Hulle het dit van die grond af opgetel en tussen klippe gemaal of met ‘n vysel stukkend gestamp, in ‘n pot gekook en daarvan plaatkoeke gemaak.  Dit het soos oliekoeke gesmaak.

Toe die Here die eerste keer vir die volk manna gestuur het, het Hy ook eenkeer vir hulle kwartels gestuur vir vleiskos.  En nou hoor Moses hoe die stamme van die volk by hulle tente staan en kerm.

Moses vra toe vir die Here:  “Waarom het U my met hierdie volk opgesaal?  Is ek hulle pa?  Het ek hulle gemaak dat U vir my sê:  Dra hulle rond soos ‘n oppasser ‘n suigling ronddra en vat hulle na die land wat ek vir hulle voorsate beloof het.  Waar gaan ek vleis kry vir hierdie hele volk?  Ek kan nie alleen hierdie hele volk versorg nie.  Hulle is te veel vir my.  As U dit van my verwag, maak my dan liewers dood sodat ek nie na hierdie ellende hoef te sit en kyk nie.”

Die Here se antwoord aan Moses was dat hy 70 leiers moet kies wat saam met hom vir die volk verantwoordelik moet wees.  Moses het dit gedoen en die Here het toe sy Gees ook oor hierdie manne laat kom.

Toe sê die HERE:  “Sê vir die volk:  Heilig julle self vir môre.  Julle sal dan vleis kry om te eet.  Die Here het gehoor hoe julle kerm.  Die Here sal vir julle vleis gee, nie net vir één dag, of vir twee, of vir vyf, of vir tien, of vir twintig dae nie.  Julle sal ‘n maand lank vleis eet tot dit by julle ore uitkom en julle daarvan naar word.  Julle het mos die Here wat tussen julle woon, verwerp.”

Moses was egter nog in die war.  Hy sê:  “ Here, as ons al ons skape en beeste slag, sal dit genoeg wees vir hierdie meer as 600 000 manne wat kan veg?  Sal dit genoeg wees as ons al die visse van die see vir hulle bymekaar maak?  Hoe kan U vir ‘n maand lank vir hulle genoeg vleis gee om te eet?”

Die Here sê vir hom:  “Dink jy die Here kan nie?  Jy sal nou sien of Ek kan doen wat ek sê.”

Die Here het toe ‘n wind laat waai wat kwartels aangebring het.  Hulle het reg rondom die kamp geval, ‘n dagreis ver in alle rigtings en byna ‘n meter diep.  Die volk het twee dae lank net kwartels bymekaar gemaak.  Elkeen het minstens 50 houers vol voëls gemaak.  Hulle het die voëls reg rondom die kamp oopgesprei.

Maar toe het die Here se woede teen die volk losgebars.  Hy het ‘n dodelike siekte onder hulle laat uitbreek.  Al die mense wat so lus was vir vleis, is dood en is daar begrawe, by Kibrot-Taäwa.

Na hierdie gebeurtenis is die volk na Gaserot toe.

Ons  het ‘n tyd lank hier gebly.

Onderwyl ons hier by Gaserot gestaan het, het ek, Mirjam, Moses se suster wat hierdie verhaal skryf hoe hy ons volk van Egipte na Kanaän lei, skielik moeg geword om onder leiding van my ou jonger boetie te staan en saam met al die ander sy bevele te gehoorsaam.  Ek het met Aäron daaroor gepraat.   Hy het met my saamgestem dat die  Here beslis nie net deur Moses praat nie, maar ook deur ons.  Ons het ook niks daarvan gehou dat Moses met ‘n Kussitiese vrou getroud was nie.

Die Here het gehoor wat ons sê en praat toe met ons aldrie.  Hy stuur ons na die tabernakel toe en het self in ‘n wolkmassa daarheen afgekom en by die ingang gaan staan.  Hy het vir Aäron en vir my nadergeroep en sê toe vir ons:  “Luister wat Ek sê:  As daar ‘n profeet in Israel is, maak Ek my aan hom bekend deur gesigte en drome.  Met Moses, wie Ek kan vertrou, praat ek direk.  Hy weet hoe die Here lyk.  Moet julle dan nie baie versigtig oor Moses praat nie?”

Onderwyl die wolk weer weggaan, is ek, Mirjam skielik oor my hele lyf so wit soos sneeu.  Aäron het dit gesien en sê vir Moses: “Meneer, moet ons asseblief nie straf vir die dom ding wat ons gedoen het nie. Moenie toelaat dat haar toestand voortduur nie!”

Moses het hard na die Here geroep:  “O God, laat sy asseblief tog gesond word!”

Die Here sê toe vir Moses:  “As haar pa haar in die gesig gespoeg het, sou sy sewe dae lank die vernedering daarvan moes dra.  Verban haar nou vir sewe dae uit die kamp uit.  Eers daarna mag sy terugkom. “

Die volk het gewag tot ek weer van die melaatsheid gesond was en weer in die kamp terug was, voordat ons weg is van Gaserot af en in die Paranwoestyn gaan kamp opslaan het.

Vervolg...