M O S E S... (12)

...vriend van God, wat Israel van Egipte tot by Kanaän gelei het

Dr JP Botha

Lees reeks by MOSES

11. UITSTUUR VAN VERKENNERS

Die Here het hier vir Moses opdrag gegee om twaalf verkenners uit te stuur om die land Kanaän te gaan verken. Hulle moes elkeen ‘n leier wees in een van die twaalf stamme van die volk.  Moses het vir hulle gesê om te gaan kyk hoe die land is, of die inwoners sterk of swak is, of die dorpe inneembaar is en so meer.

Hulle het die land toe gaan verken vanaf die Sinwoestyn.  Hulle was by Regob, by Lebo, Hamat en by Hebron.   By Eskolspruit het hulle ‘n groot tros druiwe gepluk en oor ‘n stok gedra.  Hulle het na 40 dae weer teruggekeer.  Moses het toe met ons by Kades in die Paranwoestyn gestaan.

Die verkenners het by hulle terugkeer ‘n baie negatiewe verslag gegee van hulle sending:  “Die mense wat in die land woon is baie sterk.  Hulle het groot stede met verdedigingsmure om.  Ons het ook die reus, Enak, se nageslag daar gesien.  Ons is heeltemal te swak om die land in te neem.”

Maar Kaleb, een van hulle, wou die volk gerusstel en sê:  “Laat ons optrek en die land in besit neem.  Ons is daartoe in staat!”  Josua, wat ook ‘n verkenner was, het hom gesteun, maar die ander tien het die vreeslikste ontmoedigende stories gesit en verkondig wat die volk geglo het.

Hulle het toe die hele nag gesit en huil en die volgende môre by Moses en Aäron kom kla:  “As ons tog maar liewer in Egipte gesterf het of selfs hier in die woestyn.  Hoekom het die Here ons na hierdie land toe laat kom om hier doodgemaak te word?  Kom ons kies ‘n leier en gaan terug Egipte toe.”

Moses en Aäron het voor hulle neergeval en Josua en Kaleb het begin pleit dat hulle nie teen die Here in opstand moet kom nie.  “Die land wat ons verken het, is ‘n besondere mooi land.  Dis ‘n baie vrugbare land.  Moenie bang wees nie.  Die Here is met ons!”

Toe wou die gemeenskap hulle met klippe doodgooi, maar skielik het almal bewus geword van die Here se teenwoordigheid in die tabernakel, toe Hy vir Moses en Aäron sê:  “Hoe lank gaan hierdie volk nog aanhou om My te misken?  Hoe lank gaan hulle bly weier om in My te glo, al het Ek wonders tussen hulle laat gebeur?  Ek gaan ‘n pessiekte onder hulle laat uitbreek.  Ek gaan alles by hulle wegvat.  Ek gaan jou egter ‘n groot nasie maak wat baie sterker is as hulle!”

Moses sê toe vir die Here:  “U het met u krag hierdie volk uit Egipte weggevat.  Die Egiptenaars sal hoor wat U doen.  Hulle weet van al die wonders wat U gedoen het.  As U nou meteens hierdie volk uitwis, gaan die nasies sê:  ‘Omdat die Here nie die volk na die land kon bring wat Hy vir hulle belowe het nie, het Hy hulle sommer daar in die woestyn doodgemaak.’  Wys tog nou dat U so sterk is as wat U gesê het en dat U nie gou kwaad word nie en dat u liefde sonde en oortreding kan verdra, maar dat U sonde egter nie ongestraf laat bly nie.   Vergeef tog nou hierdie volk se sonde, soos U hulle in u groot liefde verdra het vandat hulle uit Egipte weg is tot nou toe.”

Die Here sê toe:  “Ek sal hulle vergeef soos jy gevra het, maar nie een van hierdie mans sal in die land kom wat ek aan hulle voorouers belowe het nie.  Draai weg van die pad wat na die Amalekiete en Kanaäniete toe lei.  Gaan terug op die pad wat na die Rietsee toe loop.”

12. 40 JAAR IN DIE WOESTYN

Die Here het ook nog vir Moses en Aäron gesê:  “Hoe lank gaan hierdie slegte gemeenskap bly kla oor My?  Sê vir hulle ek gaan met hulle alles laat gebeur waarvan hulle My verdink het.  “Julle lyke sal hier in die woestyn lê.  Nie een van julle bo 20 jaar wat oor My gekla het, sal in die land kom wat Ek beloof het dat julle daarin sal woon nie.  Net Kaleb en Josua sal ingaan.”

Die Here het verder gesê:  Ek sal dat julle kinders die land beleef wat julle versmaai het.  Julle lyke sal hierdie hele woestyn vol lê.  Julle kinders sal die prys betaal vir julle ontrouheid.  Hulle sal soos herders 40 jaar lank in die woestyn rondswerf totdat julle almal dooies in die woestyn is.  Julle sal leer wat dit is om My as vyand te hê.  Ek die Here het dit gesê.  Elkeen wat teen My saamgesweer het, sal in hierdie wildernis doodgaan!”

Die tien verkenners wat die slegte gerug oor die land versprei het, het gesterf van ‘n plaag wat die Here gestuur het.

Die volk was baie hartseer toe hulle hoor wat die Here alles vir Moses gesê het.  Hulle het vroeg opgestaan en begin optrek na die heuwelgebied toe en het vir mekaar gesê:  “Laat ons optrek na die land wat die Here aan ons gee.  Ons het fout gemaak!”

Moses het hulle gewaarsku dat hulle vyande soos die Amoriete en Kanaäniete hulle gaan afmaai, want die Here is nie aan hulle kant nie.  Maar hulle het na die heuwelgebied voortgestorm.   Die heidennasies het egter van bo-af gekom en hulle tot by Horma verjaag.

Vervolg...