...vriend van God, wat Israel van Egipte tot by Kanaän gelei het
Dr JP Botha
Lees reeks by MOSES
WEER WATER UIT ‘N ROTS
Hier by Kades was daar nie genoeg drinkwater nie. Toe sak die volk weer op Moses en Aäron toe. Hulle het die gang en die klank van hulle deuntjie al baie goed geken. Hierdie keer het dit só gebeur: “Ons moes maar liewer saam met die ander voor die Here doodgegaan het. Hoekom het julle die Here se mense na hierdie woestyn toe gelei, sodat ons hier saam met ons vee kan doodgaan? Waarom het julle ons uit Egipte weggevat en na hierdie onleefbare plek gebring? Hier is nie landerye of vyebome of granate nie. Hier is nie eers water om te drink nie.
Moses en Aäron het na die ingang van die tabernakel gegaan en daar gaan kniel. Toe kom die magtige Teenwoordigheid van die Here na hulle toe en Hy sê vir Moses: “Gaan vat die stok voor die altaar. Kry al die mense bymekaar. Onderwyl hulle staan en kyk, moet jy die rots beveel om water te gee. Daar sal genoeg water uitkom vir al die mense en al hulle diere.”
Moses het toe al die mense by die rots bymekaar gekry. Hy het die stok by die ark gaan haal. Maar toe sê hy vir die mense: “Luister, julle klomp opstandiges! Moet daar vir julle water uit die rots kom?” In plaas van dat hy toe met die rots praat, soos die Here hom beveel het, slaan hy met die stok twee keer teen die rots. Daar het water uitgeborrel. Almal, ook die vee het gedrink tot hulle versadig was.
Daarna het die Here vir Moses en Aäron gesê: “Julle het my nie genoeg vertrou om vir die Israeliete te wys hoe heilig Ek is nie. Daarom sal jy nie hierdie mense inlei in die land wat Ek sal gee nie.” Die plek is daarna “Waters van Meriba” genoem, want Israel het daar met die Here getwis. Hy het daar vir hulle gewys hoe heilig Hy is.
Vervolg...