...vriend van God, wat Israel van Egipte tot by Kanaän gelei het
Dr JP Botha
Lees reeks by MOSES
AFGODEDIENS BY BAÄL-PEOR
Hoe is dit tog moontlik dat Israel so maklik elke keer sy goeie voornemens om die Here van harte te dien, in die wind slaan en hom laat verlei om nuttelose afgode saam met die heidene te vereer en agter hulle aan te drentel, terwyl hulle tog feitlik daagliks in sy magtige teenwoordigheid verkeer, wanneer hulle wonderwerke geniet wat Hy male sonder tal tot hulle voordeel verrig?
Die volk het hulle weer besoedel onderwyl hulle by Sittim gebly het, want hulle het by die Moabitiese vroue gaan slaap. Hulle is deur die vroue verlei en uitgenooi om saam met hulle te eet en die gode van Moab te aanbid.
Toe die Here dit aanskou, het Hy baie kwaad geword. Hy het vir Moses opdrag gegee om die leiers van die volk bymekaar te maak en hulle by die tabernakel op te hang, sodat sy woede kan bedaar. Moses gee toe opdrag aan die stamhoofde om elke persoon wat Baäl-Peor begin aanbid het, dood te maak.
Onderwyl Moses en baie van die volk nog staan en huil by die ingang van die tabernakel, kom daar ‘n man aan met ‘n vrou uit Midian. Die priester Pinehas – hy was ‘n kleinseun van Aäron – het opgespring, ‘n spies gegryp en die man en vrou agternagesit na sy tent toe. Hy het die man daar met die spies deurboor en die vrou dwarsdeur haar maag gesteek.
Toe het die plaag waarmee die Here die volk intussen getref het onmiddellik opgehou om te woed, maar daar was reeds 24 000 mense dood. Die Here het vir Moses gesê dat die priester Pinehas die Here se woede weggeneem het met sy optrede toe hy God se eer onder die Israeliete beskerm het, anders sou Hy hulle voor die voet uitgewis het. Hy het God se eer beskerm en daarom het hy versoening gebring vir die Israeliete.
Die Here het vir Moses opdrag gegee om die Midianiete aan te val en uit te roei, want daardie vrou was die dogter van die Midianitiese leier.
‘N TWEEDE SENSUS
Die Here het vir Moses en die priester Eliaser – Aäron se seun - opdrag gegee om weer ‘n sensus-opname te doen van hulle mans bo 20 jaar. Hulle was op die vlakte van Moab, langs die Jordaan, regoor Jerigo. Dit is gedoen. Uit die Rubenfamilie was daar 43 730 man en uit die stam van Simeon was dit 22 200; uit Gad 40 500; Juda 76 500; Issaskar 64 300; Sebulon 60 500; Manasse 52 700; Efraim 32 500; Benjamin 45 600; Dan 64 400; Aser 53 400 en Naftali 45 400. Die totale aantal mans wat in Israel getel is, was 601 730.
Ná die sensus het die Here aan Moses opdrag gegee om die land te verdeel tussen die groepe wat getel is, volgens elke groep se grootte. Die land moet deur loting verdeel word. Die Leviete, ouer as ‘n maand, was saam 23 000. Hulle het nie saam met die ander Israeliete grond gekry nie. Die Here het ook die erfreg van vroue, wie se mans in die woestyn dood is, goedgekeur.
MOSES WYS SY OPVOLGER AAN
Na hierdie dinge het die Here vir Moses gesê: Klim op die berg aan die oostekant en kyk daarvandaan af na die land wat ek vir die Israeliete gaan gee. Nadat jy klaar gekyk het, sal jy ook by jou vaders versamel word soos jou broer Aäron. In die Sinwoestyn het julle altwee my bevel verontagsaam. Toe die volk met julle baklei het, het julle nie by die Waters van Meriba, by Kades in die Sinwoestyn, vir hulle gewys hoe heilig Ek is nie.”
Die goeie, maar bekommerde ou Moses het toe vir die Here gesê: “Here, God wat asem gee aan alles wat leef, wys tog ‘n nuwe persoon aan wat hulle kan lei, sodat die volk van die Here nie leierloos word soos skape wat nie ‘n herder het nie.
Die Here sê: “Vat Josua, die seun van Nun. God se Gees is in hom. Sit jou hande op hom. Laat hom voor Eliaser die priester en voor die hele volk gaan staan. Gee hom dan die opdrag om hulle te lei. Dra jou gesag aan hom oor, sodat al die Israeliete na hom sal luister. Hy sal saam met die priester Eliasar werk. Wanneer hy oor ‘n saak moet beslis, sal Eliasar met die lot die wil van God bepaal. So sal Josua en die volk van Israel weet wat hulle moet doen.
Moses het gedoen wat die Here gesê het. Hy het Josua aan die priester en die volk voorgestel, sy hande op hom gesit en sy pligte op hom oorgedra soos die Here dit aan hom voorgeskryf het.
Vervolg...