STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (65)

DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL

Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)

Lees reeks by Studie van die Ou Testament

LES 14

DIE EINDE VAN DIE TIENSTAMMERYK

II KON 17

1.  Hosea die laaste koning van Israel

Hosea was die laaste koning van Israel alvorens die volk na Assirië in ballingskap weggevoer is.  Hy was net so goddeloos soos die meeste van sy voorgangers.   Hy het die troon as moordenaar bestyg nadat hy Peka vermoor het.  Wat die rede vir hierdie opstand was, word nie vermeld nie.  Dit het heelwaarskynlik iets met die internasionale politiek van daardie tyd te doen gehad.  Mense was òf teen òf vír die Assiriese magsuitbreiding.

Peka was teen enige onderdanigheid aan Assirië gekant en Hosea daarvoor.    Tiglat-Pileser III skryf in sy annale dat hy Hosea as koning oor Israel aangestel het.   Dis miskien ʼn bietjie aangedik!  Desondanks bevestig dit die feit dat hy met Hosea gediend was.   Dit het Hosea egter baie duur te staan gekom!

2.  Samaria val

Toe Tiglat-Pileser III oorlede is, is hy deur sy seun Salmaneser opgevolg.   Hosea het ʼn groot kans gevat en sy belasting aan Assirië gestaak en gehoop dat die nuwe koning nie die magsposisie van sy vader sou handhaaf nie.  Hosea het sy fout agtergekom toe Salmaneser teen hom opgetrek en hom weereens onderwerp het.

Hosea het na verloop van tyd weer die belasting gestaak toe hy ʼn bondgenootskap met So, die koning van Egipte probeer sluit het.  Toe dit misluk, het Salmaneser Israel binnegeval en Samaria beleër.   Samaria het twee maal tevore ʼn vyandelike beleg suksesvol kom weerstaan (1 Kon.20:1; 2 Kon.6:24).  Nie hierdie keer nie.  God het geen verlossing gebied nie.  Ná ʼn beleëring van drie jaar is Samaria in 721vC deur die nuwe koning Sargon ingeneem en is Israel as krygsgevangenes na Assirië weggevoer.

3.  Oorsake van die wegvoering

Israel is om twee redes in ballingskap weggevoer.  Eerstens het Assirië groot militêre aansien deur verowerings verwerf; iets waarteen Israel nie opgewasse was nie.   Tweedens het Israel teen God gesondig.  Hulle het die eerste gebod willens en wetens oortree en nie na die waarskuwings van die profete van God geluister nie.   God het hulle gestraf deur die hele geslag tot niet te laat gaan.

4.  Ná die wegvoering

Israel is egter nie huidjie en muidjie weggevoer nie.  Sargon skryf in sy annale dat sy buit uit 50 strydwaens en 27,290 gevangenes bestaan het.   Daar het dus hier en daar mense in die landstreek agtergebly (al die armes en onbeduidendes) en is Samaritane genoem – mense van Samaria.   Hierdie naam het toe nog nie die negatiewe betekenis gehad wat dit in die tyd van die Nuwe Testament verkry het nie.

Sargon het mense uit sy verowerde lande in die ontvolkte gebied laat woon.  Israel was nie die enigste volk wat in krygsgevangeneskap gegaan het nie.  Assirië het dit ook met al die ander verowerde volke gedoen.  Deur hierdie deportasiepolitiek is die ryk vergroot en is nasionale gevoelens uitgewis.  Mense moes niks anders as nuwe ryksburgers wees nie.   Alexander die Grote het dit ook later probeer en klaaglik misluk.

Omdat die nuwe landsbewoners God nie gevrees het nie, het hulle Hom nie met offers of feeste vereer nie.   Die heidene het graag aan hulle afgode geoffer omdat hulle geglo het dat daar ʼn band tussen hulle en die gode van die land was.  God het hulle egter met ʼn leeuplaag gestraf waartydens baie van die heidene omgekom het.

Toe hulle by die koning daaroor gaan kla het, het hulle gemeen dat die leeuaanvalle weens ʼn onkunde oor die verpligtinge teenoor die god van die nuwe gebied was.  Daarom het Sargon een van die weggevoerde priesters laat haal om hulle touwys te maak.   Hierdie priester was, nodeloos om te sê, ʼn kalwerdiensaanhanger en het in Bet-el gaan woon; die hoofsentrum van kalwerdiens.  Daarmee het die sonde van Jerobeam voortgeduur.

Daar word niks van God se reaksie hierop melding gemaak nie.  Hy kan ook in sy toorn swyg (Jes.57:11).   Hierdie toedrag van sake het ʼn godsdiensverwarring geskep.  Sommige het afgode aanbid en ander die Here (2 Kon.17:32,33).   God was kwaad daaroor omdat Hy juis ʼn verbond met Israel gesluit en wette gegee het wat dit allermins toegelaat het.   As Israel nie hulle alles vir Hom wou gee nie, wou Hy niks van hulle hê nie!

Die skrywer begin in 2 Kon 17:34 met die beoordeling van die tragiese situasie deur te sê dat dit die straf van God is omdat Israel die Here nie meer gevrees het nie.   Die vermenging van godsdienste (sinkretisme) het die diens aan God waardeloos gemaak.   Daarvoor was Israel uitsluitlik te blameer.   Die skrywer wys op die wet en die gebod wat God met sy volk gesluit het.   God het nie hier met die gemengde bevolking gepraat nie, maar met die agtergeblewenes van sy volk.  Al het hulle ook saam met heidene gewoon, het Hy hulle nog steeds aan die hand van die wet beoordeel.  Sinkretisme is kenmerkend van vreemde nasies wat gedwing word om saam te woon!

Vervolg...