Ds AE van den Berg
1 Kon.18:1,17-39
Daar word jaarliks op Goeie Vrydag weersinswekkende beeldmateriaal op TV vertoon - Filippyne sonder hemde wat hulself met karwatse stukkend slaan; karwatse wat stukke glas of metaal bevat sodat bloed sal vloei. Etlike van hierdie skynmartelare laat hul selfs ten aanskoue van duisende nuuskieriges kruisig om glo die pyn wat Christus aan die kruis op Golgota beleef het self te beleef. Hierdie ritueel staan as penitensyn bekend. ʼn Mens hoor die Engelse woord penance wat boetedoening beteken duidelik hierin.
Die skynmartelare beskou hierdie selfkastyding as genoegsame boetedoening vir hul sondes wat deur die jaar gepleeg is en die heiligste vorm van geloof wat ʼn mens op aarde kan bereik. Hulle skuld is afgelos. Daarbenewens glo hulle dat hulle spesiale guns van God as vergoeding vir hul lyding ontvang en dat Hy met ʼn spesiale oor na hul wense luister. So ʼn skynmartelaar onderneem om homself een maal per jaar vir ses jaar lank te martel waarna die twyfelagtige eer aan ʼn familielid oorgedra mag word. Sulke optredes versterk glo familiebande, veral in tye van nood wanneer familielede na so ʼn persoon as ʼn tipe van Christusfiguur opsien.
Dis werklik tragies dat hierdie optredes in die naam van godsdiens plaasvind omdat dit ʼn verwronge beeld van die Christendom die wêreld instuur. Dis in werklikheid ʼn sinnelose vertoning waardeur niks anders as valse bewondering verkry word nie.
Die Roomsgesinde Filippynse regering moedig hierdie bisarre skouspel aan omdat dit duisende toeriste lok en geld daaruit gemaak word. Daarbenewens matig die Filippynse regering hom die titel van die mees Christelike land ter wêreld aan - 94% Christene. Wat hulle vir die Christendom aansien, verskil hemelsbreed van wat die ware Christendom is. Feitlik al 94% behoort aan die Roomse Kerk (RK), ʼn kerklike karikatuur wat net die skyn van die Christendom het, maar in werklikheid ʼn herlewing van die ou Babiloniese afgodsdiens is.
Die optrede van die Filippynse martelaars ondermyn in werklikheid die saligmakende waarheid dat Christus ten volle vir ons sondes gely het sodat ons die ewige lewe kan verkry. Al wat ons moet doen, is om sy offer persoonlik vir onsself toe te eien. Niemand hoef homself te pynig ten einde verlossing van sonde te verkry nie. “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so verwyder Hy ons oortredings van ons” (Ps.103:12).
Hierdie fanatiese boetedoening is egter nie net tot die Filippyne beperk nie, maar kom ook in talle ander Roomse lande voor. Dit geniet net nie TV-dekking nie. In Italië slaan skynmartelare hulself ook met stokke vol spykers. Hierdie skouspel word ook onder die Shiite Moslems in Irak gevind wanneer hulle die Ashurafees vier. Hulle slaan hulle hulself ook stukkend om die dood van Hussain, ʼn kleinseun van Mohammed te gedenk wat in 680nC vermoor is en daarna as ʼn martelaar vereer word.
Hierdie bisarre seremonies laat die klem baie sterk op werke en nie op genade val nie en is ʼn ydele manier om vir mense te wys hoe gelowig hulle is. Dis niks anders as geveinsdheid nie en verskil niks van die Fariseërs nie! “Pasop dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te word; anders het hulle geen loon by julle Vader wat in die hemele is nie” (Mt.6:1).
Niemand boet vir sy sonde deur selfkastyding nie. Daarvoor het Jesus alreeds aan ʼn kruis gesterf. Wat moet sondaars doen om gered te word? Hierdie vraag is eeue gelede deur ʼn gevangenishoof aan Paulus en Silas gevra waarop hulle geantwoord het: “.... Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word...” (Hand.16:31). Dis dwaas om te dink dat jy deur selfkastyding God se guns kan wen.
Dis in die Westerse wêreld ongehoord dat mense tot sulke uiterstes kan gaan ten einde hulle voor God te reinig. Katolieke maak egter in Derdewêreld lande opvallend baie van godsdienstige feesdae soos die Semana Santa (heilige week) in die Filippyne. Let op hoe hierdie Roomse feesdae van afgodery wemel. Baie van hierdie rituele dateer uit die Spaanse koloniale era met ʼn onmiskenbare heidense inslag.
In die Filippyne het die heilige week wat met Palmsondag, die Sondag net voor Goeie Vrydag, begin, ʼn karnavalgees wat ʼn mens eerder aan sinnelike genot as aan geestelike verdieping laat dink. Drankverkope en dobbelspeletjies floreer op straat. Mense is verward oor hoe ʼn heilige week deurgebring moet word!
Is dit godsdiens of ʼn bose kultuur wat selfkastydings goedpraat? God beveel dit nêrens in die Skrif aan nie. Selfkastyding is ʼn baie algemene praktyk by heidene en valse godsdienste. Die Bybel vertel van heidene wat hul liggame mishandel het. Die gebeure by Karmel waar Elia en die Baal-profete uitgedaag het om vuur uit die hemel te laat neerdaal, is ’n treffende voorbeeld: “En hulle het hard geroep en hulself volgens hul gebruik met swaarde en spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het” (1 Kon.18:28). Let daarop dat dit volgens hulle die gebruik was om hul liggame te skend.
As gevolg van heidense tradisies het God ʼn wet teen liggaamskending gemaak: ” Julle mag .... geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die Here“(Lev.19:28).
In die NT was die sny van die self met besetenheid geassosieer. Dit was kenmerkend van die gedrag van bose geeste. Die besetene van Gadara het sy liggaam met klippe stukkend geslaan en naak rondgeloop. Satan haat God en laat gevolglik mense hul eie liggaam aanval omdat dit ’n tempel van die Here is. Ja, ons liggame is kosbaar vir God. Solank as wat dit ons siele huisves, is dit tempels van God: “Of weet julle nie dat julle liggaam ʼn tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?” (1 Kor.6:19).
Daarom roep die Woord van God gelowiges op om nie aan die wêreld gelykvormig te word nie: “Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ʼn heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Pet.,2:9). Ons kom juis uit die duisternis na die lig. Jy gaan mos nie op jou spoor terug nie!
Gelowiges moet hul liggame ag. Dis nie ons eie om daarmee na goeddunke te handel nie. Die Heidelbergse Kategismus sê dat ons nie aan onsself behoort nie, maar met liggaam en siel aan God. Ons liggaam behoort aan Hom wat ons geskape het.
Oral waar heidene tot bekering kom, raak hulle vrywillig van heidense simbole ontslae, vanaf die Amasone-woude tot in die Verre-Ooste. Heidene wat Jesus in hul lewe toelaat, raak bewus van tradisionele booshede en laat vaar dit omdat dit met hul nuutgevonde geloof in Jesus bots: “Julle mag nie agter ander gode aanloop uit die gode van die volke wat rondom jou is nie” (Deut.6:14).
Gelowiges is wel vry in Jesus, maar mag hierdie vryheid nie misbruik om te doen wat hulle wil nie: “Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ’n aanleiding vir die vlees nie…” (Gal.5:13). Die Christelike vryheid mag nooit ’n dekmantel vir boosheid wees nie. “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie” (Gal.5:1).
Ons moet nooit heidense gebruike probeer goedpraat nie. Om liggame te skend is ’n ontwyding van die liggaam as ’n tempel van God. Sulke ontheiliging kom op ’n skreiende opstand teen die Skepper daarvan neer. En Hy straf! “Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig en dit is julle” (1 Kor.2:16,17).
Paulus skryf aan eertydse heidene: “Ek is met Christus gekruisig en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Gal.2:20). Kinders van God moet vry van heidense simbole en seremonies wees. Geen gelowige moet uit vrye wil sy liggaam kasty nie.
Moenie soos die wêreld doen en lyk nie: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor.7:1).
Jy het net een lewe. Leef reg want Jesus is oppad. En Hy kom as Regter! “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10). Nie net wat ons deur die liggaam verrig het nie, maar ook met die liggaam gedoen het!
Sonder jou dus baie duidelik van die heidendom af: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus” (1 Thess.5:23).
In sy brief aan die Galasiërs is die apostel Paulus besorg oor ʼn dwaalleer wat in die kerk begin kop uitsteek het. Dwaalleraars het ʼn vreemde verlossingsleer begin verkondig, naamlik dat sondaars op grond van hul goeie werke gered kan word, iets wat die Evangelie geskaad het! “Maar al sou ons of ʼn engel uit die hemel julle ʼn evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ʼn vervloeking wees!” (Gal.1:8). Die Roomse Kerk sou jare later dieselfde dwaalleer verkondig. “ … Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie” (Gal. 3:10).
Die Bybel praat baie anders oor redding - dis ʼn saak van genade en genade alleen. Redding word deur geloof en nie deur goeie werke verkry nie. “ … Menere, wat moet ek doen om gered te word? Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin” (Hand. 16:30-31).
Die kernfout van Rome se verlossingsleer (soteriologie) is haar ontkenning van Christus se genoegsaamheid aan die kruis. Rome ag Hom nie as Redder nie. Dit wat Hy op Golgota gedoen het, is nie genoegsaam nie, maar moet met bykomstighede soos die misoffer en allerlei goeie werke wat uit boetedoening voortspruit aangevu
ʼn Kerk wat boetedoening as voorwaarde vir vergifnis vereis, rand die Godheid van Christus aan. Nêrens in die Skrif eis God boetedoening nie; slegs bekering. Dis ʼn doelbewuste daad van sondeversaking: “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees … want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jes. 55:7).
Boetedoening verskil ingrypend van bekering. Boetedoening is selfkastyding, terwyl bekering ʼn berouvolle toevlug tot Christus is. Christus het nêrens gesê dat sondaars eers vir hul sondes moet boet alvorens hulle gered kon word nie. “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee (Matt. 11:28). Omdat Hy alreeds die straf vir sonde gedra het, durf sondaars nie nog daarvoor te ly nie. “En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die Here julle God; want Hy is genadig …” (Joël 2:13).
Rome glo dat boetedoening heilsaam vir die gees is en sondaars die geleentheid bied om ʼn lewensommekeer te maak. Weer eens verskil sy niks van die ander afgodsdienste nie. Boeddhisme en Hindoeïsme leer ook dat vergifnis deur selfkastyding geskied. Gevolglik is Rome se boetedoening niks anderste as valse bekering nie. In plaas daarvan om Christus toe te laat om hul stukkende harte te genees, kasty sondaars hul liggame. Boetedoening is sinneloos. Dis ʼn uiterlike handeling sonder die nodige innerlike verandering.
Die Roomse leer verskil ingrypend van die suiwere Bybelse leer oor die regverdiging deur genade alleen (Rom.1:17). Geestelike despotisme is nie verbruikersvriendelik nie. Dit hou sondaars weg van Jesus, die genadige Verlosser. Rome leer dat wanneer sonde vergewe is, die straf nie heeltemal verdwyn nie. Daar bly altyd iets agter waarna sondaars self iets moet doen ten einde God tevrede te stel, naamlik boetedoening, goeie werke en selfs selfkastyding. Dis ʼn leuen! Die Bybel verseker sondaars dat benewens die bekering hulle niks verder hoef te doen om God tevrede te probeer stel nie. Jesus het alreeds alles gedoen.
Ongelukkig stroom duisende mense nog steeds op Goeie Vrydag na plekke soos die Filippyne en elders om te sien hoe selfkastyders hul met Christus se lyding probeer vereenselwig. Dit herinner ʼn mens sterk aan die Babiloniese Molog-dienste. Molog (Baäl) sou miskien so ʼn skouspel geniet het omdat hy ʼn wrede afgod was wat pyniging, bloed en lyding geniet het. Nee, Christus se lyding en kruisdood is hoegenaamd. Dit het geen menslike aanvullings nodig nie want sy genade is genoegsaam!