Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons wat sê ons is kinders van die Here en leef in goeie verhouding met Hom, kan ons werklik sê ons leef met volkome vertroue in Hom – of leef ons eerder met wantroue in Hom? Hierdie is 'n fyn skeidslyn maar as ons onthou dat Hy die getroue Een is, sal ons minder sukkel om onsself volkome aan Hom oor te gee.
HARTSTOG VIR DIE WAARHEID EN ONVERGEEFLIKE SONDE
Ds Andrè van den Berg
Die Bybel is vol ernstige waarskuwings. Een wat egter bo al die ander waarskuwings uitstaan, is die onvergeeflike sonde. Maar wat is dit presies? In Mt.12 sê Christus dat dit lastering teen die Heilige Gees is. Markus en Lukas skryf ook daarvan in onderskeidelik 3:28-30 en 12:10.
Mattheus en Markus se uitsprake hieroor moet egter in ʼn ander verband as Lukas s’n gesien word. In Matteus en Markus gaan dit oor die Joodse kerklui wat Jesus daarvan beskuldig het dat Hy al sy wonders deur die mag van die Satan verrig het. In Lukas gaan dit egter oor die openlike verloëning van Christus tydens vervolging.
Die sonde teen die Heilige Gees gaan dus nie bloot daaroor om Jesus se werk aan Satan toe te dig nie. In al drie die Skrifgedeeltes is dit sonde wat teen Jesus self gerig is. Nogtans noem Christus dit lastering teen die Heilige Gees.
Johannes praat ook in sy Sendbrief van ʼn onvergeeflike sonde: “As iemand sy broeder ʼn sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee – vir die wat nie ʼn sonde tot die dood doen nie. Daar is ʼn sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie” (1 Joh.5:16). Johannes brei nie verder hierop uit nie wat ons laat vermoed dat die gelowiges presies geweet het waarvan hy praat omdat die vroeë kerk hieroor gepraat en gelowiges gewaarsku het.
Die brief aan die Hebreërs werp egter die meeste lig op die onvergeeflike sonde. Hierdie brief is aan Jode geskryf wat toe alreeds baie jare Christene was maar wat om een of ander rede moeg geword het vir die geestelike wedloop en dit oorweeg het om na die Joodse godsdiens met sy seremonies terug te keer. Die skrywer probeer alles in sy vermoë om hulle van hul beoogde geloofsversaking te laat afsien. In hoofstuk.2 waarsku hy hulle dat hulle geen verskoning vir sulke geloofsversaking het nie en dat God hulle daarvoor sal straf.
In hoofstukke 4-5 neem hy sy lesers terug in die geskiedenis en herinner hulle aan God wat Israel, op pad na Kanaän, weens hul ongeloof gestraf het. Toe hulle wou omdraai terug Egipte toe, het hulle aan God ongehoorsaam geword. Gevolglik het ʼn hele geslag in die woestyn gesterf en Kanaän nooit gesien nie. Die skrywer waarsku Christene om nie in dieselfde strik te trap nie – jy draai nie op jou spoor terug nie!
Die Israeliete het ʼn belofte van God vir ʼn nuwe vaderland gehad. Dit sou egter inspanning kos om dit te bereik. Presies dieselfde met Christene – hulle is die ewige lewe saam met Christus in die Nuwe Jerusalem (geestelike Kanaän) beloof. Hoe durf mens daaraan dink om óm te draai?!
In hoofstuk 6 waarsku hy dat indien Christene na die Joodse geloof terugkeer, hulle Christus verwerp en nooit weer tot bekering kan kom nie omdat hulle willens en wetens die rug op Hom draai. Sulke mense vertrap immers God se onuitspreeklike kosbare gawe in Christus. En omdat God niks aan mense het wat terugdraai nie, is die hel al wat vir sulke mense oorbly!
Die klem van die onvergeeflike sonde val dus op ʼn sonde wat gepleeg word nadat kennis van die waarheid ontvang is: “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie” (Heb.10:26).
Die Joodse Christene se versoeking om op die geloofspad terug te draai, het hoofsaaklik oor tydelike, stoflike voordele gegaan. Die Joodse kerk se rituele was minder veeleisend as dissipel-wees. Daarbenewens was Christene se lewens gedurig bedreig omdat die Romeinse owerheid die Christelike geloof as iets onwettig beskou het terwyl die Joodse geloof wettig en dus nie gevaarlik was nie. Jode het die Christelike kerk ook as kultureel melaats beskou. Indien die Christene na die Joodse kerk sou terugkeer, sou daardie stigma verdwyn.
Die skrywer herinner die Christene daaraan dat hulle erfgename van ʼn nuwe verbond is. Hulle het die vervulling van Ou Testamentiese profesieë gesien en durf nie maak asof niks gebeur of verander het nie. Gevolglik is die vernietigende sonde die bewustelike verwerping van die waarheidsgetuienis oor Jesus Christus en kom op die verloëning van die Persoon en werk van Christus neer.
Die Jode en hul godsdiensleiers was deeglik op hoogte met die Ou Testamentiese profesieë. Desondanks het hulle hul oë vir die vervulling daarvan gesluit. Daarbenewens is Christus se leer en optrede telkens met wonders bevestig soos voorspel is:
“En in dié dag sal die dowes Skrifwoorde hoor, en uit donkerheid en duisternis sal die oë van die blindes sien... en die behoeftiges onder die mense sal juig in die Heilige van Israel” (Jes.29:18,19).
“Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ʼn takbok, en die tong van die stomme sal jubel...” (Jes.35:5,6).
Die duidelikste voorspelling wat in vervulling gegaan het, is Jes.53 waar die profeet die lyding en dood van die Messias voorspel het. Het die Jode dit dan nie gelees of die rabbi’s daaroor gepreek nie? Hulle het hulle doelbewus teen al die getuienis oor die Messias verhard en gevolglik die Lig wat in die wêreld gekom het, verwerp: “Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie” (Joh.1:11).
Jesus van Nasaret was sintuiglik waarneembaar. Hy het soos enige ander mens gelyk. Dus was dit maklik om na Hom te luister of om die rug op Hom te draai. Dit sou nie ʼn onvergeeflike sonde wees nie. Dink aan Christus se gebed vir sy laksmanne op Golgota dat God hulle moes vergewe omdat hulle nie geweet het wat hulle doen nie.
Die Heilige Gees, so anders as Jesus, is nie sintuiglik waarneembaar nie. Hy werk innerlik. Maar sy getuienis draai altyd om die as van dieselfde tema: die heerlikheid en verheerliking van Christus. Gevolglik was die Jode se sonde eintlik teen die Heilige Gees wat die onomstootlike getuienis oor Jesus Christus in hulle hart gegee het. Daarom het Jesus van die lastering teen die Heilige Gees gepraat.
Stefanus kla net voor sy steniging die Joodse kerklui aan: “Julle hardnekkige en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle” (Hand.7:51). Die woord weerstaan beteken letterlik dat hulle teen die Heilige Gees ingebeur het. Wanneer hulle die geesvervulde prediking hoor, sê vers 54 dat hulle woedend in hul harte was. Letterlik staan hier dat die Jode se harte middeldeur gesny is. Dieselfde wat op Pinksterdag in Jerusalem gebeur het. Die hoorders is diep in hul hart getref (Hand.2:37).
Hand. 2 en 7 leer ons dat die Gees kragtig en oortuigend in beide gelowiges en verlorenes se harte werk. Wesenlik was dit dieselfde prediking maar met twee uiteenlopende reaksies, alles aan twee verskillende soorte harte te wyte - een van klip en een van vlees.
Wanneer Jesus in Luk.12:10 met die dissipels oor die laster teen die Heilige Gees praat, doen Hy dit met ʼn spesifieke doel. Hy wys hulle op die versoeking wat daar gaan ontstaan om Hom tydens die vervolging wat op hande was te verloën. Gelowiges wat weens hul getuienis van Jesus Christus voor die hof is, het uiteraard ʼn geskiedenis van dissipelskap gehad. Jesus was vir hulle ʼn werklikheid in hul lewe. Om ter wille van tydelike voordele onder druk te swig en die rug op Christus draai, sou hulle ʼn onvergeeflike sonde pleeg.
Die onvergeeflike sonde word dus eerstens deur mense gepleeg wat in hul hart weet dat Christus werklik die Messias is soos wat die Evangelie van Hom getuig. Die Heilige Gees het hul innerlik oortuig. Hulle was waarskynlik ook eens deel van ʼn gemeente wat die genade van Christus ervaar het. Tweedens word hierdie sonde gepleeg deur mense wat willens en wetens die rug op Christus draai. Dit hoef nie noodwendig openlik te wees nie. Dit kan ook meer subtiel wees deur op te hou om in die geloofswedloop te hardloop. En dit vind nie noodwendig met ʼn skielike omswaai plaas nie. “Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie” (Heb.2:1). Sulke mense, sê die skrywer van Hebreërs, kan nie weer tot bekering gebring word nie. Diegene wat hom bearbei vind dat hulle niks regkry nie. Die Here het hom aan sy eie verdorwenheid oorgegee. So ʼn persoon het selfs geen begeerte na redding nie. Besorgdes se pastorale besorgdheid laat hom koud.
Wat dan van Esau se geval wat in trane begeer het om sy dwaasheid reg te stel volgens die skrywer van Hebreërs in hoofstuk 12:17 ? Dit was nie ware berou nie, maar hartseer oor die seën wat hy deur sy vingers laat glip het. Dieselfde met Saul en Judas Iskariot. Hulle het jammer vir hulself gevoel en dis nie ware berou nie!
Judas was seker die mees uitstaande voorbeeld. As een van die 12 was hy vir drie jaar deel van die binnekring. Hy moes geweet het wie Jesus presies was. Het hy dan nie ook die Gees sien werk toe hy saam met die ander dissipels op hul eerste sendingtog uitgestuur is nie? Nogtans het hy Jesus vir geld verraai sonder dat die ander dissipels enigsins vermoed het dat hy agteraf gekonkel het.
Judas se geval verskil van Petrus s’n wat in ʼn oomblik van vrees Jesus verloën het. Dit was nie beplan nie en daarbenewens het Petrus nie geld vir sy verloëning ontvang nie.
Wat is hierdie sonde nié? Hierdie sonde word nie onbewustelik gepleeg nie. Op twee plekke in die Nuwe Testament waar die onvergeeflike sonde dalk ʼn moontlikheid kon wees, is daar sprake van vergifnis – vir die soldate aan die voet van die kruis wanneer Christus bid dat God hulle sal vergeef omdat hulle nie weet wat hulle doen nie en Paulus: “...my wat vroeër ʼn lasteraar en ʼn vervolger en ʼn geweldenaar was. Maar aan my is barmhartigheid bewys, omdat ek dit onwetend gedoen het in ongeloof” (1 Tim.1:13).
Mense wat in vrees lewe dat hulle moontlik die onvergeeflike sonde gepleeg het maar opreg vrede met God begeer, het dit verseker nie gepleeg nie. Die onvergeeflike sonde lei tot ʼn hardheid van hart en ongeêrgdheid oor die Here. Ons lees van talle mense wat Christus aanvanklik verwerp het en later wel tot bekering gekom het waarvan Paulus seker die beste voorbeeld is.
Gelowiges kan wel vir ʼn tyd lank afdwaal, maar nooit verlore gaan nie. Dis soos ʼn skip wat van sy anker af wegdryf, maar steeds daaraan gekoppel bly. In Joh.10 belowe Jesus dat die skape wat die hemelse Vader Hom gee, nooit verlore sal gaan nie.
Hierdie skape bevind hulle onder ʼn ander groep mense wat op die oog af net soos hulle lyk – die godsdienstiges. Al onderskeid is dat die skape vrug dra en die godsdienstiges nie. Jesus onderstreep in die Bergpredikasie die verskil tussen godsdienstig en godvrugtig as Hy van bome praat wat goeie of slegte vrugte dra. Dis selfs moontlik om ʼn opwindende, verrykende ervaring van die waarheid van die Evangelie te hê sonder om die saligmakende geloof te hê.
Dink maar aan Demas waarvan Paulus aan Timoteus skryf dat hy die kerk verlaat het omdat hy die wêreldse dinge liefgekry het. Dis moontlik om so naby aan Christus te kom, maar nogtans nooit die geloofstap te neem nie. Dis soos Cecil John Rhodes gesê het: “Yet so near; yet so far” .
ʼn Godsdienstige persoon wat nie kind van God is nie, vertoon slegs goed. Hy lyk soos die gemeente Sardis in Openb.3 wat die naam gehad het dat dit lewend was, maar eintlik was dit dood!
In die vroeë Christelike kerk het dit gebeur dat mense vir ʼn tyd lank aan die gemeenskap van die heiliges deel gehad het, maar op die ou einde vals blyk te gewees het. Johannes praat van hierdie mense wat aanvanklik in die eerste Christengemeentes tuis was, maar hul na ʼn tyd afgeskei het omdat hulle nooit werklik deel van die liggaam van Christus was nie:
“Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie, want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie” (1 Joh.2:19).
Om hierdie rede roep Paulus gelowiges op om hulself op die proef te stel of hulle in die geloof is: “Ondersoek julleself of julle in die geloof is; stel julself op die proef...” (2 Kor.13:5). Dis waarom die skrywer van Hebreërs sy lesers so dringend waarsku om te volhard in die leer van Christus en nie na die Joodse godsdiens terug te val en die gevaar staan om die onvergeeflike sonde te begaan nie. ʼn Heilige lewe het een uitstaande kenmerk – die gehoorsaamheid aan die Woord van God en ʼn hartstog vir die waarheid.
Mt.12:31-32; 2 Pet.3:20-22