VEELWYWERY...

...SONDE OF NIE?

Ds Andrè van den Berg

Efes.5:25-33

In Suid-Afrika beoefen die staatspresident en talle van die swart stamkonings veelwywery.   Alhoewel dit die eerste Suid-Afrikaanse staatspresident is wat dit doen, is veelwywery geen nuwe verskynsel nie.   Dit kom al eeue lank onder sommige kultuurgroepe voor en word in ons land selfs met die Wet op Gebruiklike Huwelike (Wet 120 van 1998) gesanksioneer.

Toe Suid-Afrika ʼn Christelike grondwet gehad het, is kulturele veelwywery ontmoedig.  Maar nadat hierdie grondwet in 1994 geskrap is, het veelwywery met die Wet op Gebruiklike Huwelike regsgeldigheid verkry.  Wat leer die Woord van God oor die huwelik?  Wat is reg?  Monogamie (een-vrou huwelik) of poligamie (meer-vroue huwelik)?

Die duidelikste aanduiding dat God monogamie voorstaan, kom van Christus self toe Fariseërs Hom by geleentheid oor die wettige redes vir egskeiding gevra het: “En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af gemaak het nie... Om hierdie rede sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? ... “(Mt.19:5,6).  Jesus haal Gen.1:27 en 2:24 hier aan.

Nog ʼn belangrike Bybelse aanwysing is Efes.5:22-33 waar Paulus ʼn parallel van die verhouding tussen man en vrou aan die een kant en Christus en sy kerk aan die ander kant trek.  En dis slegs in ʼn monogamie moontlik.  Christus het net een bruid (die kerk) en nie baie nie.

Die 10de gebod  eis dat gelowiges nie ʼn ander man se vrou mag nie begeer nie. Dis veronderstel dat daar net een vrou is.  In die NT is veelwywers glad nie in die kerk opgeneem nie.  Daar is vir ampsdraers selfs ʼn duidelike aanwysing:  “ ʼn Opsiener moet onberispelik wees, die man van een vrou....” (1 Tim.3:2).  En dit het nie slegs vir voorgangers gegeld nie, maar ook vir gewone lidmate.  Paulus sê in Efes.5:28 dat elke man sy eie vrou en elke vrou haar eie man moet liefhê.

Die OT maak van talle geseënde monogame huwelike melding soos Isak en Rebekka, Josef en Asnat asook Moses en Sippora.  Die enigste oorlewendes van die sondvloed was vier monogame huwelikspare.  Hoe moet gelowiges die veelwywery waarvan die Bybel melding maak dan beoordeel?

Alles wat in die Bybel staan, dra nie noodwendig God se goedkeuring weg nie.  Waar het veelwywery begin?   Nie uit die saadlyn van Set nie maar wel dié van Kain.  Die eerste veelwywer waarvan die Bybel melding maak, was Lameg: “En Lameg het aan sy vroue gesê: Ada en Silla, hoor na my stem! ... “ (Gen.4:23).  Daarna lees ons van die weerbarstige Esau wat met twee heidenvroue getroud is wat sy ouers baie hartseer besorg het.  “En hulle was vir Isak en Rebekka ʼn bitter verdriet” (Gen.26:35).

In Deut.17:17 verbied God selfs die konings van Israel om veelwywery te beoefen: “Ook mag hy nie baie vroue aanskaf nie, dat sy hart nie afwyk nie...” Let op die gevolge van hul ongehoorsaamheid waarvan die stryd tussen Dawid se seuns by sy verskillende vroue in 2 Sam.13 en 1 Kon.2 opgeteken is.  Let op wat met Salomo gebeur het nadat sy baie vroue hom tot afgodery verlei het; die koninkryk van Israel het in twee geskeur!  As Salomo net met een vrou getroud was, sou dit nooit gebeur het nie.  In 1 Sam.1 lees ons ook van Samuel se moeder, Hanna, wat deur haar man se tweede vrou bespot en verneder is.

Wat dan van godvresende veelwywers?  Abraham en Sara was benewens ʼn laagtepunt in hul huwelikslewe verder monogaam.  Daardie laagtepunt was toe hy met Hagar getroud is ten einde vir hom ʼn erfgenaam te verwek.   Dit was nie om wellustige redes nie.   Sara het vir alle praktiese redes sy enigste vrou gebly.  En watter bitterheid het hierdie huweliksdriehoek nie opgelewer nie!

Jakob wou met Ragel alleen trou, maar is mislei om haar ouer suster eerste te neem.   Jakob was op daardie tydstip glad nie op ʼn geestelike hoogtepunt nie.  So ook nie Dawid toe hy beide Abigail en Ahinoam vir hom as vroue geneem het nie (1 Sam.26:42,43).

Waarom het God dit toegelaat?  Dis alles gevalle waar God dit weens die verhardheid van mense se harte dit onder sekere omstandighede verdra het.  Dit was egter nooit sy ideaal nie.  Genesis 2 sê een man, een vrou.  Nêrens in die Skrif moedig God enigsins veelwywery aan nie.

Veelwywery het soveel probleme veroorsaak, dat dit na hul terugkeer uit die ballingskappe glad nie onder die Jode verder voorgekom het nie.   Monogamie was selfs in die NT tye as ʼn reël nie deur Grieke of Romeine beoefen nie.

Die hedendaagse oplewing in veelwywery is die gevolg van die verafgoding van menseregte in ons land.  Wat mense wil hê, is skynbaar belangriker as wat God sê!    Die vroue-teoloog, Christina Landman, het openlik gesê dat die Bybel nêrens veelwywery verbied nie.   Wat wil sy daarmee sê?   Dat dit God geval?   Allermins!    As die Bybel iets nie direk verbied nie, beteken dit nie dat so ʼn iets God se goedkeuring per se wegdra nie. In die NT lees ons van geen geval van veelwywery nie.  Huwelike in die OT waar daar meer as een vrou was, was altyd baie ongelukkig.

Die sedelike verval van die Westerse wêreld getuig toenemend van buite-egtelike verhoudings.  Die Amerikaanse sepies is vrot daarvan!   God het nooit gesê dat ons deel van die hoofstroom moet wees nie.  Hy vermaan ons dan in sy Woord om anders te wees.

Daar is ʼn paar Skrifgedeeltes, tesame met die voorbeelde van Christus, Paulus en ander, wat enkellopende mans aanmoedig om die opsie om ongetroud te bly, te oorweeg sodat hulle geheel en al aan die Here se werk toegewy kon wees.  Nie dat die huwelik sonde is nie.   Dis nie goed dat die mens alleen is nie tensy hy daardeur ʼn baie hoë vlak van toewyding aan Christus kan hê.

Vandag leef duisende paartjies sommer net eers saam voordat hulle tot trou kom.  Hierdie saamblyery word as ʼn gemeenregtelike huwelik omskryf.  Dis ʼn baie verkeerde benaming.  Vir gelowiges is die Bybel se omskrywing van die huwelik die enigste ware omskrywing.  Gelowiges moenie dat ʼn omskrywing van die huwelik wat die wêreld wat die vlees behaag gemaak word, God se verklaring van die huwelik verdring nie.  God het die huwelik ingestel en nie die mens nie!

Volgens die Bybel bestaan die huwelik uit ten minste twee elemente:

(i) Een of ander huwelikseremonie.   Die huwelik tussen Boas en Rut ( Rut 3&4) wys vir gelowiges dat ʼn huwelik nie ʼn verhouding is wat ligtelik aangegaan mag word nie.  Daar is ʼn spesifieke oomblik dat jy ten volle getroud is.  Paulus beeld die verhouding tussen man en vrou met die verhouding tussen die gelowige en Christus uit.  Net soos wat daar ʼn spesifieke oomblik is dat jy met Christus in ʼn geloofverhouding tree, so ook as jy trou.

(ii) Die huwelik is ʼn vertrouensverbintenis.   “En Ek het by jou verbygegaan en jou gesien; en kyk jou tyd was die tyd van liefde... Ja, Ek het vir jou gesweer en met jou ʼn verbond aangegaan...  en jy het myne geword” (Eseg.16:8).  Hierdie vertrouensverbintenis moet ook ʼn eienskap in elke gelowige se huwelik wees.  En dis uiteraard slegs in ʼn monogame huwelik moontlik.

Waarom het God veelwywery in die Bybelse tyd toegelaat?  Die Bybel sê nie vir ons presies waarom nie.  Daar is egter ʼn paar sleutelgedagtes waarna gekyk kan word.

(i)  Ongelyke getalle.  Daar was van oudsher af altyd meer vroue as mans op die aarde.  Statistiek toon dat daar tans 51% vroue teenoor 49% mans in die wêreld is.   Dit was waarskynlik dieselfde prentjie in die antieke tyd.   Vermenigvuldig dit met miljoene en daar was tienduisende vroue meer as mans.

(ii)  In die ou tyd was daar baie meer gevegte met hoë menseslagting as vandag.  Dit het die getalleverhouding nog verder in gedrang gebring.

(iii)  Dan was daar ook die patriargale gemeenskappe wat dit vir vrouens feitlik onmoontlik gemaak het om vir hulself te sorg.  Die meeste vrouens het geen opleiding of geleerdheid gehad nie.  Gevolglik was hulle van hul vaders, broers en mans afhanklik vir oorlewing.   Dit het vrouens in ʼn onbenydenswaardige posisie geplaas.  Gevolglik lyk dit asof God moontlik veelwywery toegelaat het om daardie vroue wat nie wat nie andersins met ʼn man kon trou nie, te versorg en te beskerm.   ʼn Man kon ʼn menigte vroue neem en sodoende vir hulle sorg.

Alhoewel dit nie die ideaal was nie, was die lewe vir ʼn vrou in ʼn huishouding met meer as een vrou baie beter as ʼn lewe uit prostitusie, in slawerny of desnoods ʼn hongerdood.   Daarbenewens het veelwywery dit vir die mensdom makliker gemaak om te vermeerder soos God reg aan die begin opdrag gegee het.  Een man kon ʼn menigte vroue per jaar swanger maak as om net een kind per jaar te verwek.

Hoe sien God veelwywery vandag?  Selfs toe dit in die Bybelse tyd toegelaat was, hou die Bybel monogamie as die ideaal voorgehou.  God se aanvanklike bedoeling was ʼn een-man-een vrou huwelik.  “Daarom sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef.  En hulle sal een vlees wees” (Gen.2:24). Alhoewel hierdie teks eerder sê wat ʼn huwelik is en nie hoeveel mense dit insluit nie, staan die enkelvoud wat hier gebruik word baie duidelik uit.

In die NT word sekere standaarde vir ʼn geestelike leier neergelê.  In 1 Tim.3:2, 12 en Tit.1:6 word gesê dat so ʼn persoon die man van een vrou moet wees.  Hierdie standaarde geld sekerlik nie net vir geestelike leiers nie, maar vir alle gelowiges.  Gelowiges word opgeroep om heilig te lewe – anders as die wêreldlinge wat o.a. veelwywery beoefen.

Waarom het dinge verander?   Het God op ʼn goeie dag besluit om iets wat Hy aanvanklik toegelaat het verder te verbied?   Nee, God het bloot begin om die huwelik na sy oorspronklike plan te begin herstel.  Veelwywery is slegs toegelaat om ʼn probleem op te los.  Dit was nooit die ideaal nie.

In vandag se moderne gemeenskappe is daar geen nodigheid vir veelwywery nie.   In die meeste kulture kan vrouens na hulself omsien.  Dit los die enigste positiewe ding van veelwywery op.   In die meeste moderne volke is veelwywery vandag onwettig en strafbaar.  In Rom.13:1-7 word gelowiges opgeroep om die wette van sy land te gehoorsaam behalwe as dit met die God se bevele bots.

Nêrens gee God ʼn opdrag in sy Woord om veelwywery te beoefen nie.  Dis nie sy ontwerp vir die huwelik nie.  Gevolglik vereer geen veelwywer God nie. Moderne veelwywery staan in die teken van ʼn herlewing van die heidendom.  Dis ʼn tree uit die lig terug in die donker.  Ons swem verbete teen ʼn stroom van agteruitgang.  Slegte regering laat ons eens sonnige land ʼn baie donker toekoms tegemoet gaan.   As ons nie ʼn einde aan hierdie verval gaan maak nie, kan dit  ʼn einde aan ons maak!