WAAROM VERHOOR GOD NIE ALLE GEBEDE NIE?

Ds Andrè van den Berg

“Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid…” (Jak. 4:3)

Gebed is ʼn voorreg wat God slegs vir die mens bestem het omdat die mens na God se beeld en gelykenis gemaak is.  Hierdie Bybelse uitdrukking beteken egter nie dat ons soos God lyk nie want die Bybel leer ons dat God Gees is.   Om na die beeld van God geskape te wees, beteken dat God vir Hom in die mens ʼn gespreksgenoot geskape het.   Dink daaraan dat die mens die enigste van God se skeppings is wat met Hom kan praat.  Daarom is dit vir elke mens ʼn hemelse voorreg om met sy Skepper te praat.  Elke gebed is soos ʼn hek wat na die hemel oopgemaak word!

Soos wat die maan ʼn beduidende invloed op seegetye het, beïnvloed gebed ons geestelike lewe.   Hoe sterker ons gebedslewe is, hoe hoër is ons geestelike gety.   Die teenoorgestelde is egter ook waar.  Hoe minder ons bid, hoe swakker is ons geestelike lewe.

Mense besef nie altyd die krag van gebed nie.   Geen natuurkrag kan daarmee vergelyk word nie.   Dis kragtiger as swaartekrag, elektrisiteit of atoomkrag.   Daarom vind gelowiges hul grootste krag in gebed en vrees Satan gebed.   Hy spot met ons godsdiens, kerkgang en goeie werke, maar hy sidder wanneer ons bid!

Die wonder van gebed is dat die Here as Drie-enige God ten nouste by gebed betrokke is.   Die Heilige Gees lê versugtinge in ons hart waarna Christus dit na God se genadetroon neem wat dit op grond van Jesus se versoeningsoffer aan die kruis aanhoor.   Daarom is gebed baie soos ʼn posduif wat altyd sy pad terug huistoe vind – dit kom van die hemel af en keer weer daarheen terug.

Gebed is nie staties nie, maar lewendig.   Dit neem verskeie vorms aan.  Gebed kan bv. met skuldbelydenisse gesout of met dankseggings gegeur wees.   Dit kan ook deur middel van sang of selfs met trane by God bekend word.   Daar is feitlik net soveel soorte gebede as wat daar blomme in die veld is!

Een ding kan ons baie seker van wees - God geniet dit as ons soos kinders met Hom praat.  Daarom leer Jesus ons bid: “Onse Vader wat in die hemel is…” (Mt.6:9).   Geen geheim is te groot dat ons dit nie in God se oor kan fluister nie en geen wens te dwaas of te vermetel dat ons nie met Hom daaroor kan praat nie.  God luister na ons soos ʼn vader na sy kinders.

Gebed is nie net hoorbare woorde nie.   Die Skotse hervormer John Knox het een aand, diep bewus van Skotland se geestelike verval, van die kerk af oppad terug huistoe in die sneeu neergeval en vir ʼn uur roerloos in gebed bly lê.   Al hoorbare woorde wat hy geuiter het, was: “Here, gee vir my Skotland!” En God het!   Kort daarna het ʼn herlewing in Skotland uitgebreek.  Ja, egte gebed is om so op God ingestel te wees, dat jy nie eers agterkom dat jy bid nie.

Gebed is ook meer as blote woorde.  Selfs ʼn enkele traan is genoegsaam om ʼn gelowige se versugtinge aan God bekend te maak.  Vir ons hemelse Vader is geen smeking van sy kinders ooit tevergeefs nie.   Soos 'n vader vir sy kinders goed wil wees, wil God ook vir Syne goed wees.   Jesus leer ons om deur gebed goeie dinge van God te vra: “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid? “ (Mt.7:11).

Net so min as wat jy jou kind iets sal beloof wat jy nooit van plan is om vir hom te gee nie, net so min doen God dit aan sy kinders.   As Hy jou deur die Heilige Gees lei om vir iets besonders te bid, kan jy seker wees dat Hy dit wil gee!

God wou in die tyd van Elia na ʼn groot droogte reën oor Israel laat uitsak, maar  Elia moes eers daarvoor bid.   Samuel moes ook eers bid voordat Israel voorspoedig kon wees.  Daniël moes ook eers bid alvorens die Jode verlos kon word.  God het selfs heidene geseën nadat Paulus tot Hom gebid het.  Dis hoe God dikwels werk; Hy gee nie alvorens ons by Hom gevra het nie.

Gebed bereik nie net die sagste harte nie, maar breek selfs die hardste van harte.  By geleentheid was 'n padbouer besig om op sy knieë 'n granietblok met 'n hamer en klipbytel te breek toe ʼn predikant verbykom. "Jou werk is nogal baie soos myne; ek moet ook dikwels harde klippe breek" het die predikant gesê. "Dis nogal waar, dominee, maar as u harte van klip wil breek, sal u soos ek dit op u knieë, moet doen!"

Slegs gebede wat uit sondaars se harte kom, bereik God se hart.  Dit gaan nie oor die opsê van mooi woorde nie.   God word nie met die pouvere van mooi digterlike uitdrukkings beïndruk nie.   Daar is dikwels meer egte gebed in stamelaars se woorde as in ʼn welsprekende mens se vloeiende taalgebruik.

Gelowiges moet in die geloof bid.   Gebede sonder geloof is soos voëls sonder vlerke of bokke sonder pote - nutteloos.   Dis soos 'n amptelike dokument sonder die nodige handtekening of seël daarop en gevolglik onontvanklik.

Gelowiges moet doelgerig bid en versigtig wees vir stereotipering.  Sulke gebede tref nooit die teiken nie omdat dit nie rigting het nie.  Dis soos soldate wat rond en bont vuur en sonder om die teiken te tref.

Gelowiges moet ook volhardend bid.   Koue gebede verkry nie warm antwoorde nie.   Gelowiges leef nie altyd op dieselfde geestelike hoogte nie.   Daar kom dae dat dit vir jou voel asof jy deur koning Dawid se dal van doodskaduwee gaan en nie lus het om te bid nie.  Dis juis dan dat jy volhardend moet bid en God vra om jou van biddeloosheid te verlos.

Die profeet Jeremia het ervaar hoe gebed vanuit die diepste put tot in die hoogste hemel opstyg en God hom uit die modderput verlos waarin die koning hom laat gooi het.   Jeremia het nie hard na God geroep nie.  God is nader aan sy kind as wat ons dink.  Daar is geen afstand so kort as dié tussen God en ʼn bidder nie.

Daar is sekere genadegawes wat God nie vir ons op ʼn ander wyse as deur volhardende gebed gee nie.   Sekeres val soos 'n ryp vrug in ons skoot.  Vir ander moet jy die boom deeglik skud alvorens dit los.   God sal egter niks van sy kinders terughou as hulle reg daarvoor vra nie.   God trek nooit sy arm terug solank as wat jy opreg vra nie.

Gebede het al baie wonders laat plaasvind.   Moses het gebid en die plae het in Egipte opgehou (Ex.7-11).   Gelowiges het gebid en siekes is genees.  Sommige het selfs uit die dood opgestaan (1 Kon.17).   Ja, daar is geen ensiklopedie in die wêreld so groot soos dié van gebedsverhoring nie.  Wie opreg na God soek, soek nooit tevergeefs nie.  God beantwoord alle knielpos.

God gee altyd na sy voorneme en dikwels baie anders en selfs meer as wat ons van Hom vra.  Soms bid ons vir silwer en Hy gee dit nié -  net om daarna vir ons goud te gee.  Soms bid ons vir liggaamsgesondheid en Hy gee ons geestelike gesondheid.   Was dit nie vir Paulus se geestelike lewe beter toe God hom die nodige genade gegee het om die doring in die vlees te verdra nie?  God sê vir elke kind van Hom: "My genade is vir jou genoeg" (2 Kor.12:9).

Laat ons ook versigtig wees hoe ons bid.  As God nêrens in sy Woord 'n seën beloof nie, het ons geen reg om dit van Hom te vra en geen rede om dit van Hom te verwag nie.   Dit sal so vermetel wees soos iemand wat nie 'n batige bankbalans het nie maar nogtans geld opvra!

Moet ook nie nalaat om vir ander te bid nie.   Dis ʼn Bybelse opdrag: “...terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges” (Efes.6:18).  In I Thess.5:25 sê Paulus: “Broeders, bid vir ons”. Jy kan niemand 'n groter weldaad bewys as om vir hom te bid nie.   Dis ʼn bewys van die onderlinge liefde wat daar onder gelowiges moet wees.

Gelowiges moet ook nooit nalaat om vir hul stad, dorp of gemeenskap te bid nie -  hoe sleg dit ook al is.    Kyk hoe het Abraham by God vir Sodom en Gomorra se behoud gepleit!

Ons het nou gekyk na wat gebed is en nié is nie.  Die rede waarom God nie alle gebede verhoor nie het talle antwoorde.   Die probleem met die meeste is dat daar verkeerd gebid word.   Daar word òf nie na die wil van die Here gevra nie òf sy wil nie aanvaar nie.   Nog ʼn rede is dat baie mense nie bid nie maar bedel!   Ander wil weer vir God opdragte gee in plaas van vir diens aan te meld.    Die groot doel van gebed is om die Vader se wil te soek en Hom te vra dat dit ook ons wil sal word.

Gebed is nie daar om God te probeer gebruik nie, maar eerder om jouself aan God te gee.  Gebed is ook nie daar om God oor ons behoefte in te lig nie, maar om Hom te vra waar Hy ons benodig.   Gebed is die belydenis van ons eie onwaardigheid en swakheid.   Gebed is die hart van ons geestelike lewe; moenie dit verwaarloos nie!