OM DIE KRUIS OP TE NEEM

Lees reeks  by Hannes Ollewagen

Markus 8:34 – 38

Vers 34:  “…Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg.”

In hierdie gedeelte van vers 34 word daar vir ons 3 opdragte/voorwaardes gegee om Jesus te volg:
1.  Jy moet jouself verloën

2.  Jy moet jou kruis opneem

3.  Jy moet Hom volg

1.  Jouself verloën – dit beteken jy moet eers die eerste gebod in die Wet kan nakom, nl. om die Here jou God lief te hê met jou hele hart, jou hele siel en jou hele verstand asook al jou krag.  M.a.w. jy moet die Here jou God liewer hê as wat jy jouself het.  Jy moet bereid wees om jou behoeftes en begeertes ondergeskik te stel aan sy Wil vir jou.

  Wat anders is ware liefde as om jou begeertes onselfsugtig op te offer om dié van ‘n ander te akkommodeer of te bewaarheid.  Jy ag dus ‘n ander se geluk belangriker as jou eie.  Dit is die liefde wat ons tot God moet hê wanneer ons onsself verloën – dat ons Hom gehoorsaam sal wees ongeag wat die prys vir daardie gehoorsaamheid is.

2.  Jou kruis opneem – Die pad om Jesus te volg word nie deur Hom voorgestel of aan ons voorgehou as iets wat gesaai is met voorspoed en geluk nie – inteendeel Hy waarsku ons van die begin af dat ons ons kruis sal moet opneem indien ons Hom wil volg.  Jy gaan ‘n kruis kry wat jy sal moet dra na jou eindbestemming.

3.  Jy moet Hom volg – Weereens raak ons daardie punt aan van waarom Jesus as mens aarde toe gekom het.  Natuurlik om ons sondes en ongeregtighede op Hom te neem en dan ook om as voorbeeld vir ons hier op aarde te kom wys hoe Hy van ons verwag om te lewe.  Hy het m.a.w. ook sy kruis opgeneem en was daarin ook vir ons ‘n voorbeeld hoe ons ons kruis moet opneem en met volharding dra.  Hy het self sy kruis opgeneem en na sy eindbestemming gedra – Hy het die pad reeds voor ons uitgeloop met sy kruis en die weg vir ons gebaan – daar word bloot van ons as kinders van God verwag om in sy spore te volg.  Jesus sit by sy eindbestemming (aan die Regterhand van ons Vader) om sy oë op ons te hou om ons te ondersteun wanneer ons swak is of selfs op te help wanneer ons val of struikel. Moet egter nie verwag dat Hy die kruis wat ek en jy besluit het om op te neem en te dra van jou skouers gaan afhaal nie, want ons het die opdrag gekry om die kruis op te neem en om gefokus te bly om dit na ons eindbestemming te dra om sodoende ons loon te ontvang, soos wat Jesus ook sy loon van die Vader ontvang het nadat Hy in gehoorsaamheid sy kruis by sy eindbestemming aangebring het.

Elkeen van ons moet dus opnuut en eerlik in sy hart antwoord op Jesus se uitnodiging vandag:

Gaan ek myself verloën, my kruis opneem en my Heiland volg na my eindbestemming op die smal en eensame pad OF gaan ek my Heiland verloën en my kruis neerlê en die breë pad volg vol van wêreldse genot en plesier saam met die res van die wêreld na ‘n eindbestemming waar my Heiland nie te vinde is nie...