VERMANING OM HEILIG TE LEWE
Lees reeks by Hannes Ollewagen
2 Kor. 6:11-18
In hierdie gedeelte vermaan Paulus ons met erns om afgesonderd en heilig vir God te probeer lewe. Die eerste reaksie van mense is mos natuurlik dat dit nou weer ‘n stel van “moets” en “moenies” is wat tog so kenmerkend van die konserwatiewe Christelike geloof is. Dit is egter nie die geval nie.
Inteendeel. Wanneer VERMAAN ‘n mens iemand? Vermaan jy elke tweede persoon met wie jy in gesprek tree? Glad nie! Ek vermaan net diegene vir wie ek lief is en vir wie ek omgee, omdat ek nie wil hê hulle moet seerkry of skade ly nie. Dit is presies net so wanneer God ons vermaan om weg te bly van die sonde - Hy weet watter verpletterende gevolge die sonde het. Hy moes immers die volle prys vir sonde betaal en daar is dus niemand met ‘n meer grondige kennis van sonde (en die leed wat daarmee gepaard kan gaan) as Hy nie.
Dit is juis waarom God ons vermaan om ons eerder te weerhou van die sonde as om die versoekings te probeer weerstaan wanneer ons op verkeerde terrein verkeer.Jesus weet self hoe slinks Satan kan wees wanneer hy ons versoek aangesien Hy self deur hom versoek is. Daarom vermaan Hy ons om weg te bly van verkeerde dinge, aangesien Satan elke moontlike gaping sal gebruik om die kinders van God tot ‘n val te probeer bring of skade te berokken. Hy wil ons uit liefde probeer beskerm teen die aanslae van Satan, maar dit kan slegs gebeur as ons gehoorsaam is aan sy stem. Dink maar aan ‘n soldaat wat sy eie rigting inslaan op ‘n slagveld en die bevele van sy bevelvoerder verontagsaam – dit is byna onafwendbaar dat so ‘n roekelose en eiewyse soldaat sy lewe gaan verloor.
Vers 16: “…Want julle is die tempel van die lewende God, …”
Dus lewe God binne-in elkeen van ons. Met hierdie wete in gedagte is dit uiters belangrik om onsself die vraag/vrae af te vra: Sal God welkom voel in my lewe op die manier wat ek leef? Kan ander sien dat Hy in my leef – dat ek ‘n tempel vir die Heilige God van hemel en aarde is?
As God onder ons wandel soos ons in vers 16 lees - byna soos my skaduwee elke sekonde van die dag my volg - sal ek steeds leef soos wat ek elke dag leef? Sal ek steeds my medemens behandel soos wat ek hulle tans behandel? Sal my werks- en/of sake-etiek dieselfde wees as wat dit tans is? Sal ek dieselfde gewoontes en lewenstyl handhaaf as wat ek tans doen met dieselfde voorkeure, vriende, ens.? In ander woorde: is my lewe waarlik geskik om te dien as 'tempel' vir God waarin Hy kan woon en sal ek kan uitsien om elke dag saam met Hom te wandel?
In vers 17 & 18 sê die Here (nie Paulus nie), dat Hy ons nie alleen sal laat wanneer ons onsself van die wêreld en goddeloses afsonder nie – inteendeel, Hy beloof dat Hy ons self sal aanneem om sy seuns en dogters te wees!! Wat ‘n voorreg om te kan dink dat ek ‘n kind van die ALLERHOOGSTE en grootste Koning van alle tye kan word! Maar gaan ek dit dan ook in my lewe weerspieël deur te leef soos ‘n koningskind van die Almagtige Heilige God van hemel en aarde?
“Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.” (2 Kor. 7:1).