ONDER GOD SE BESKERMING...

... IN STORMAGTIGE TYE

Hannes Ollewagen

Deut. 6:1 – 25

Met die herdenking van ons volksplanting en die besef dat dit alleen deur genade van God was dat ons voorsate heelhuids hier te lande gekom het, verrys die gedagte seker weer opnuut by ons dat alles op aarde wel met ‘n doel gebeur?

God het dit in sy Alwetenheid goedgevind om vir Hom ‘n geringe volkie af te sonder en te vestig hier aan die suidpunt van Afrika.  Hierdie klein “halfwegstasie/landjie” het die heenkome geword waarheen onder andere die Franse Hugenote kon vlug toe hul lewens en geloof bedreig is en hulle ter wille van hulle geloof in God ALLES moes agterlaat om hulself hier te kom vestig.  Deur die wonderlike werking van ons Almagtige Vader het hier uiteindelik ‘n nuwe volk uit al die onderskeie aankomelinge ontstaan wat die Here sou vrees en dien.

In verse 1 – 9 gee God dan ook vir ons die opdrag wat om in hierdie land te doen waarheen Hy ons voorvaders gelei het.

  • Ons moet erken dat Hy die enigste ware God is.
  • Ons moet Hom vrees en sy insettinge en gebooie onderhou (m.a.w. Hom gehoorsaam).
  • Ons moet Hom liefhê met ons hele hart en siel en met al ons krag. (m.a.w. daar mag geen plek vir afgodery in ons harte/lewens wees nie).
  • Ons moet sy Woord in ons harte bewaar.
  • Ons moet ons kinders alles aangaande God leer – tydig en te alle tye!

Dit is vir my angswekkend om te aanskou hoeveel mense dit bloot ‘n ouer se plig ag om in aardse dinge uitstekend vir sy kind te voorsien, selfs te verseker dat dié ‘n goeie akademiese opleiding ontvang, dit terwyl die geestelike opvoeding van die kind skade ly.  Al sou jou kind die wêreld win maar in sy siel skade ly, wat sal dit hom baat?  As ouers hul kinders nié God se gebooie en geloftes wat ons aan Hom verskuldig is leer nie, hoe moet hulle dit eendag aan húl kinders leer?  Hoeveel tyd spandeer ouers nie aan hul kinders se opvoeding selfs tot by tersiêre opleiding nie, maar daar is nie eers 15 minute in 'n dag om die kind in God's Woord te onderrig nie!  Daarby verwyt ons God ook nog wanneer ons daardie beginsellose kind  na 'n universiteit stuur waar hy die ouer se swaarverdiende geld op aardse plesiere deurbring.  En hoe sou hy weet dat dit verkeerd is as sy ouers hom niks van ‘n Godsvresende lewe en -waardestelsel geleer het nie?

Ek kyk vandag rondom my na omstandighede in ons land en my siel word erg ontroer deur die feit dat ons selfs ‘n groter bedreiging vir onsself inhou as wat ons menige vyande doen  As ons nalaat om selfs in die klein en basiese dingetjies getrou te wees, hoe kan ons verwag dat God aan ons belangriker sake sal toevertrou?  As ons nie eers ons kinders dienooreenkomstig God se voorskrifte kan opvoed nie, hoe sal ons ‘n land daarvolgens regeer?  Dit voel soms asof die skip waarop ons na ons eindbestemming moes reis, reeds gesink het nadat ons die ysberg gesien maar nie betyds weggedraai het nie.

Gelukkig is ek nie God se raadgewer nie, maar bloot sy nederige dienskneg.  Uit my kennis van Hom weet ek:

  • Hy is Here oor alles, selfs van die storms.
  • Hy straf die ongeregtigheid, maar sal nie vir ewig die toorn behou nie.
  • Hy maak nooit beloftes wat Hy nie nakom nie.
  • Hy sal nooit laat vaar, die werke van sy Hande nie!

Daarom weet ons dat God op die regte tyd, ook verlossing aan ons sal skenk uit hierdie stormagtige omstandighede waarin ons verkeer.

Laat ons dan seker maak dat elkeen van ons wat onsself kinders van God noem, intussen in ootmoed voor Hom leef om ywerig al sy insettinge te onderhou terwyl ons in geloof op Hom wag!