Hannes Ollewagen
Joh. 20:1-18
Ten spyte van die feit dat Jesus aan sy volgelinge vertel het dat Hy ná drie dae uit die dood sou opstaan en hulle later weer sou ontmoet, word hulle só oorweldig deur die dreigende probleme waarvoor hulle nou te staan kom dat Maria Jesus nie eers herken nie, al staan Hy reg voor haar.
Dit is maklik vir my en u om met ‘n beterweterigheid ons koppe te skud en in ‘n menslike 'verhewendheid' te wonder waarom sy Hom nie kon sien of glo dat dit Hy is nie. Hy het dan vooraf vir hulle gesê dat Hy uit die dood uit sou opstaan. Hulle moes mos onmiddellik geweet het dit is wat gebeur het. Dieselfde gedagtes maal deur mens wanneer ons lees van Petrus wat vir Jesus verloën het – hoe kon hy so iets doen? Hy wat daagliks saam met Christus gewandel het, wie self, met sy eie oë, die wonderwerke wat Hy doen gesien het! Hoe kon hy?
Ek lees my Bybel ten minste een maal per dag; ek sien elke dag die wonder van die skepping rondom my raak. Ek beleef eerstehands die genade van Hom wat my opwek met nuwe krag, gesondheid, lewenslus, verstand en al daardie mooi dinge, tog is ek geneig om soms te swyg wanneer daar dinge gesê word wat nie tot eer van sy Naam is nie. Waarom hou ek my met telefoongesprekke, leesstof, TV-programme, vriende en partytjies besig, wat alles behalwe tot stigting of voordeel van my geloof of enigiemand rondom my is? Waarom is ek bereid om beginselstandpunte in te neem, totdat die saak te naby aan my kom, dan moet die reëls tog bietjie gebuig word want ‘n mens kan tog nie só eng wees en die duiwel in alles wil sien nie. As ek die duiwel op ‘n afstand kon sien, hoe kan ek hom nie nou nog meer duidelik sien as hy naby my is nie? Dalk omdat hy homself voordoen as ‘n engel van die lig? Is ek nie besig om myself blind te staar in hierdie wêreldse dinge tot so ‘n mate dat ek Christus nie meer raaksien nie? Hoe hard sal Hy met my moet praat voordat ek sy roepstem in my lewe sal herken?
Soos wat Christus vooraf vir sy volgelinge gesê het hulle moet glo dat Hy sal sterf, weer opstaan uit die dood en opvaar na die hemel, so het Hy ook aan ons te kenne gegee hoe die lewe in ons tyd sal ontaard. Hy het ons gewaarsku dat die kerke se leer besoedel sal raak en dat ons so opreg soos die duiwe en so versigtig soos die slange sal moet wees. Hy het ons gewaarsku dat die wêreld toenemend boosaardig sal raak en dat dit sal blyk dat die goddelose die oorhand bo die regverdige kry. Hy het ons gewaarksu dat mense al meer afvallig van die suiwer leer sal word en dat daar dwaalleer verkondig sal word wat groot aanhang sal kry omdat mense in hul gehoor gestreel wil wees en nie die waarheid wil hoor nie. Hy het ons ook gewaarsku oor oorloë en gerugte van oorloë. Waarom is ons dan soms so vervaard en verstaan ons nie al hierdie dinge nie?
Waarom hoor ons ook nie God se fluisterstem wat vir ons sê dat ons nie bang hoef te wees nie? Hy het dan steeds alles in volle beheer, selfs hierdie chaos rondom ons. Is dit dalk kleingelowigheid?
Dit het tyd geword dat elkeen van ons 'n eerlike selfondersoek loods om die oorsprong van ons swak handelinge vas te stel sodat ons daadwerklik daaraan kan werk. God duld nie louheid of koudheid van sy kinders nie; Hy verwag volle oorgawe, passie, liefde en warmte in ons verhouding met Hom. Laat ons daarmee hand aan die ploeg slaan!