LOOF DIE HERE!

Hannes Ollewagen

Psalm 103:1-22

“Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.” (Vers 19)

Is ons nie geneig om hierdie klein versie, gevul met groot waarheid, só maklik te vergeet nie?  Die HERE is in die hemel en van daar af heers en regeer Hy oor alles!  Hy is in beheer van elke ding wat hier op aarde gebeur en nié gebeur nie.

Soms gaan ek deur stormagtige tye in my lewe en wil by God weet hoe Hy so met my kan handel?  Ek probeer dan altyd om so vroom en opreg voor Hom te leef!  Dit mag van ons almal waar wees, maar die feit van die saak bly staan dat Hy God en ek mens is.  Hy het nie nodig om enigiets aan my te verduidelik nie.  Hy het my op aarde geplaas met 'n spesifieke doel en Hy kan my seker daarvoor gebruik?  (Job 41:2:  “Wie het eerste aan My gegee, dat Ek hom moet vergelde?  Wat onder die ganse hemel is, is myne.”).  Wat is God aan my en u verskuldig?

  Niks!!  Nie eers ‘n antwoord nie.  Hy het ons alreeds onverdienstelik van die ewige verderf gered en het ons op hierdie aarde as intrumente in sy Hand geplaas om ook ander van die verderf te help red;  dan wil ek nog verwaand wees om te dink dat ek Hom kan voorskryf om vir my hier op aarde te gee wat ék vra en dalk in my eie oë verdien?

Dit is so dat God vir my en u meer liefhet as wat ons menslike verstand kan begryp en Hy sal dan ook die goeie nie onnodig van ons onthou nie.  Hy wil nie hê dat ons onnodig moet swaarkry nie, maar sy eerste prioriteit is ons sieleheil,  en om ons siele van die verderf te red sal Hy met ons handel soos Hy weet nodig is.  Sy Seun het nie verniet gesterf nie.  Hy het Hom ook liefgehad toe Hy Hom aan ons afgestaan het om ons sondes, onregverdiglik, op Hom te neem.  As daar nou een Mens was wat die reg gehad het om voor God te kla oor die feit dat Hy onregverdig behandel word, was dit ons Verlosser, Jesus Christus.  Hy het egter in stille gehoorsaamheid sy marteling, spot en hoon verdra en die eensame pad na Gólgota gestap.  Hy het geweet dat die weë van sy Vader, ook óns Vader, volmaak is.

Loof die Here:
Vers 3:  “wat al jou ongeregtigheid vergewe, wal al jou krankhede genees,”
Vers 4:  “wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede.”

Volgende keer wanneer ek voor God my lot gaan bekla, laat ek eers selfondersoek instel en kyk of ek nie tog maar ook meer slae verdien as wat Hy my gee nie.

Dank die Vader dat Hy ons só genadig is dat Hy ons nie na ons ongeregtighede vergeld nie, want dan sou nie een van ons voor Hom kon bestaan nie.  (Vers 10).

Dank en loof Hom dat Hy nie van ons sieleheil vergeet wanneer ons dit doen nie. Hy sal ons nooit verlaat en verlore laat gaan nie!

Loof Hom omdat Hy Hom telkens oor ons ontferm soos wat ‘n vader hom oor sy kinders ontferm! (Vers13).  Loof die HERE, al sy werke, op al die plekke van sy heerskappy!  Loof die HERE, o my siel! (Vers 22).