Hannes Ollewagen
Openbaring 3:14-22
“…Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God: Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm!” – Openb. 14, 15.
Let daarop dat vers 14 nie die woorde of getuienis van Johannes is nie. Die 'waaragtige Getuie ' is met ‘n hoofletter geskryf; dus is dit God se eie getuiens! In vers 15 getuig Hy dan dit wat ons weet – dat Hy alsiende en alwetend is. Ten spyte van die feit dat dit ‘n gemeente is wat aangespreek word, wys Hy die aangesprokenes daarop dat hul werke nie by die geloof pas nie. Hy wys die gemeente daarop dat hulle besig is met godsdiensbeoefening maar hulgesindheid nie reg is nie. Daarom is die werke wat daaruit spruit ook nie voor Hom reg nie. Die boom dra nie vrugte wat by die bekering pas nie.
In vers 17 sien ons die waarskuwing wat vandag in soveel van ons mense se lewens te bespeur is. Hulle ken en aanbid God in tye van swaarkry en nood, maar wanneer hulle finansiële voorspoed beleef, is die gesindheid nie veel anders as dié van die aangeklaagde in die gelese gedeelte nie. Wanneer die vleeslike versorg is, is hulle van mening dat hul nie gebrek aan enigiets verder het nie. Die teksgedeelte beskryf dit dan ook so mooi wanneer dit daarop wys dat iemand wat net vir die vleeslike en aardse bestaan en weelde leef, beklaenswaardig is. Jy is arm van siel, blind vir ware geluk en ewige saligheid. Die naaktheid dui daarop dat weelde nie vir jou waardigheid kan koop nie. Jy is so arm, jy het NET geld. Naaktheid dui gewoonlik op skande en mense wat oppervlakkig en weelderig lewe maak hulself dikwels skuldig aan gedrag wat die spot van die samelewing agter hul rug ontketen.
God wil nie hê dat enige van sy kinders die spot van die wêreld word nie. Hy wil nie hê dat ons die ewige saligheid moet misloop t.w.v. die geluk wat die wêreldse begeerlikhede (geld, genot, sinlike vermaak) op die oog af kan bied nie. Hierdie begeerlikhede ontneem mense menigmaal die goeie van die lewe, soos hul waardigheid, geluk saam met hul families, ‘n ware kennis van God wat vir jou vrede in jou lewe verskaf en ‘n onwrikbare standvastigheid en rigting in jou lewe bied.
Wanneer ‘n gelowige ‘n ware verhouding met God het, het hy die vrymoedigheid om met sy sondes, probleme, hartseer, behoeftes, drome en met sy hele lewe na Hom te gaan. Dan alleen sal die lewe vir hom sin maak. Ons kan met al hierdie dinge na die HERE gaan en Hy sal ons leer wat daarvan nie goed vir ons is nie en wat wel vir ons bestem is. Net soos ‘n aardse vader sy kind sal probeer weerhou van die dinge wat hom skade kan berokken soos dwelms, verkeerde maats, ensomeer, so wil ons hemelse Vader ons ook waarsku teen hierdie dinge wat óns skade kan berokken. Net soos kinders dikwels nie die gevaar van verkeerde maats raaksien nie, so sien ons dikwels nie die verkeerde in ons bedekte afgode nie.
God wys ons nie tereg op ons foute en die verkeerde wat ons uit ons lewens moet uitroei omdat Hy ons geen geluk in die lewe gun nie. Dit is juis omdat Hy ons waarlik liefhet dat Hy ons teen die kwade waarsku; die dinge wat die deur vir Satan sal oopmaak om ons aan te val en skade te berokken. Dit is juis omdat Hy ons liefhet dat Hy ons tugtig. (Vers 19). Dit is omdat God wil sien dat ek ‘n gelukkige gesinslewe geniet – moontlik ook met kinders wat Hy aan my geskenk het - dat Hy beveel dat niks, ook nie die televisie die plek van die huisaltaar in my huis moet beklee nie. Dit is juis omdat God wil sien hoe trots ek op my kinders is dat Hy my beveel om hulle standvastig in die weë van God te onderrig en hulle te leer om beginselvas en gehoorsaam aan Hom te leef. Net soos God ons wil sien wandel op die pad wat lei na die ewige lewe, so wil Hy hê dat ons aan die einde van ons lewens volkome sal uitsien om saam met Hom op die troon te sit sonder om te wil terugkyk en hunker na nog ‘n klein tydjie op aarde.
In vers 20 lees ons hoe God by die deur van ons harte staan en klop en vra om ingelaat te word om op die troon van ons harte te sit vanwaar Hy kan regeer. Sou ons Hom inlaat sodat Hy ons lewens van hierdie troon af kan regeer en rig, of sou ons God se roepstem ignoreer? Wanneer Hy in ons lewens heers, kan ons weet dat Hy ons ook die leiding sal gee om die daaglikse stryd teen sonde te voer en só in gehoorsaamheid aan Hom te probeer leef. Ons kan die stryd teen sonde aanpak met die wete dat ons Leidsman reeds die stryd teen hierdie vyand gewen het. Hy dus weet in watter rigting om ons daartydens te lei. Ons kan die stryd met soveel geloofsekerheid stry dat ons ook aan die einde van ons lewens as oorwinnaars uit die stryd sal tree en saam met Hom kan deel in die ewige vreugde en heerlikheid wat op ons wag.
Die keuse wat ek maak sal in my lewe weerspieël word. My lewe sal getuig of ek die Hemelse Vader glad nie ken nie, en of ek maar net vaagweg bewus is van Iemand wat die sonde die stryd kan aansê en oorwin, en of daardie Heerser ook in my lewe aan die werk is! My werke sal getuig of ek koud, lou of warm is! Wie ‘n lewe ontvang het en besef dat dit ‘n geskenk van sy Skepper is, moet uit dankbaarheid teenoor Hom tot eer van sy Naam leef. Elkeen dan ook wat ‘n oor het, moet hoor wat die Gees aan hom sê.