LOOF HOM, O MY VOLK!

Hannes Ollewagen

Psalm 66:1-20

Vers 1 van die gelese gedeelte lui:
“…Juig tot eer van God, o ganse aarde!”
Dit klink só wonderlik, dog so onwaarskynlik in die tydsbestek waarin ons leef.  Hoe kan die hele aarde tot die eer van God juig indien hulle Hom nie ken nie?  Hoeveel mense en volkere leef van so ‘n aard dat God se Naam daardeur verheerlik kan word?  Ons was en is veronderstel om so ‘n volk te wees – ‘n volk aan Hom verbind met ‘n gelofte om in trou voor Hom te leef.  ‘n Volk wat op so ‘n wyse moes leef dat sy Naam daardeur verheerlik sou word en dat ons tot sy eer kon juig.  Wanneer ons egter na onsself op die volkereverhoog kyk, faal ons klaaglik in hierdie roeping.

Daar is wel volksgenote wat besef dat ons heeltemal te ver op ons pad wég van God gestap het, en dat ons na Hom sal moet terugkeer.  Dit is egter geen maklike koers om in te slaan nie aangesien dit ‘n stroomop-stryd is waarin mense  in die teenoorgestelde rigting begeesterd voortbeur.  Die stryd terug na God en sy weë voel soms so lank en vermoeiend dat ons glo ons nooit weer daar sal uitkom nie.  Dit voel asof ons so ver afgedwaal het dat Hy nie meer te vinde is nie en die bose nou oral die oorhand kry.

Liewe volksgenoot en gelowige in God Drie-enig, wees verseker:
“Hy heers vir ewig deur sy mag; sy oë hou wag oor die nasies.  Laat die wederstrewiges hulleself nie verhef nie. Sela.”
Die grootste fout wat ons kon maak, was om van ons God weg te dwaal.  Terwyl Hy dan ons vyand as ‘n tugroede gebruik om ons terug na Hom te lei, is die grootste fout wat ons vyand kan maak, om hulself as oorwinnaars oor ons te verhef, want Hy alleen is oorwinnaar en regeer oor alles.  Ons vyand sou nie oor ons kon heers as Hy dit nie toegelaat het nie.

Hy het ons wel in die net gebring en ‘n swaar las op ons heupe gelê, soos waarna verwys word in vers 11.  Dit is egter jammer om te sien dat hierdie las steeds nie swaar genoeg blyk te wees om menige volksgenote op hul knieë voor Hom te kry nie.  Hy het nie die las om ons heupe gelê vir enige onverklaarbare of onregverdige rede nie, maar juis om ons weer op ons knieë tot op die grond voor Hom te dwing.  Steeds is daar menige van ons wat in eie krag probeer voortbeur, maar weier om die knieë voor Hom te buig en ons geloftes aan Hom te betaal.

Hy is besig om ‘n suiwering in ons volk te bewerkstellig en om ook tussen ons te louter.  Ons word getoets en die opregtes word uitgesif om verder gelouter te word, soos wat ‘n mens silwer louter.  (Vers 10).  Hierdie is geen lekker, vinnige of aangename proses nie.  Dit is hard, maar deeglik, want Hy wil tog sekerlik trots op sy eindproduk wees?

Ons almal sien uit na die dae waar Hy ons sal uitlei in oorvloed, maar ons wil nie die suiwering en loutering meemaak nie.  Ons wil nie die knieë voor Hom buig terwyl ons die swaar las om ons heupe moet dra nie?  Ons versuim menigmaal om ons offers van gehoorsaamheid, eensgesindheid, nederigheid, ootmoed, liefde , verdraagsaamheid en geloof te bring.  Ons versuim om ons geloftes te betaal . . .

Mag ons as godsvresende volk na Hom terugkeer sodat Hy ons gebede sal aanhoor en luister na die stem van ons smekinge.  Geloofd sy God wat ons gebede nie sal afwys en sy goedertierenheid nie aan ons sal onttrek wanneer ons in ware ootmoed na Hom terugkeer nie!