VAANDELS VAN GELOOF

HYS DIE VAANDELS VAN ONS GELOOF!

Hannes Ollewagen

In ons volk se geskiedenis was daar al menige oorwinnings waaroor ons kon juig.  Ons voorouers kon juig nadat hulle uit Europa moes vlug ten behoud van die ware geloof in God Drie-Enig.  Hulle het gevlug en veilig en behoue aan die suidpunt van Afrika aangeland om hul te kom vestig in ‘n nuwe land as ‘n nuwe volk, maar steeds hul geloof in dieselfde enigste ware God van hemel en aarde.  Die Afrikanervolk wat hieruit gebore is, kon juig oor oorwinnings by Colenso, Laingsnek, Magersfontein, Majuba, Bloedrivier en menige ander.

Met die slag van Bloedrivier het ons as volk beloof om vir God ‘n volk te wees, sou Hy ons red uit die hande van ‘n oormag.  Hy het inderdaad vir ons ‘n glorieryke oorwinning geskenk en dus verwag dat ons die vaandels sou ophef in die Naam van onse God.  Ons volk het met eerbare en Godsvresende leiers met ‘n vaste geloofsvertroue ook goed weggespring met hierdie onderneming en ons beginselstryd gevoer terwyl ons daarna streef om te leef as ‘n volk tot eer van sy Naam.  Met ‘n vaste geloofsvertroue in God Drie-enig het ons oorwinnings op die slagveld, maar selfs ook op staatkundige terrein behaal totdat ons die grootste moontlike vryheid soos wat ons dit ken verkry het met Republiekwording.

Daar het ons volk in 1961 met ons vaandel omhoog gestaan – knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry!  Daar het die Almagtige God van hemel en aarde ons begeertes as sy volk vervul en die voorspoed wat gevolg het, was byna ongelooflik.

Met die verkondiging van halwe waarhede in die media en selfs in menige kerke, is ons as volk mislei om die vaandel van ons geloof neer te lê, of eintlik net te verruil.  Ons het hierdie vaandels van ons geloof, beginsels en ons vryheidstryd verruil vir o.a. die vaandel van die geld- en sportafgode.   Voortaan sou die sportvaandel van ‘n leeu, haai, bul of ‘n bok bo-oor ons hoofde waai terwyl daar lofliedere gesing word ter verering van sportsterre en sportspanne.    In plaas daarvan dat ek aan die einde van ‘n week se harde werk daarna kon uitsien om geestelik gevoed te word en my Skepper se lof te besing, wens ek die week verby om my ontvlugting van die werklikheid te gaan soek by die sportafgod waar ek vir ‘n wyle kan vergeet van my probleme.

Agter halwe waarhede aan is ons volk mislei tot daar waar ons selfs bereid was om ons beginsels prys te gee en die waarheid vir die leuen te verruil soos wat ons in Romeine 1:25 lees:  “...hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.”  Is dit nie presies wat ons gedoen het toe ons vorige grondwet moet plek maak vir ‘n humanistiese, mensgerigte grondwet nie?

Die tyd het aangebreek dat ons opnuut erns sal maak met die belofte wat ons voorouers aan God gemaak het.  Dit is tyd dat ons weer die vaandel sal opneem en omhoog sal hou – nie die vaandel van Mammon, die sportgod of die eie-ek nie, maar die vaandel van ons geloof en van waarheid en geregtigheid.  Met hierdie vaandel omhoog, moet ons toetree tot die stryd – nie ‘n stryd tot my eie eer nie, maar in die Naam van onse God moet ons toetree tot die stryd. Die stryd waarin ons sal opoffer en sal baklei vir die behoud van ons beginsels, ons volk en vir die behoud van ons Christelike en Godsvresende geloof hier aan die suidpunt van Afrika!

Ons verklaar nie oorlog nie, want die oorlog is dekades gelede alreeds deur die magte van die duisternis teen ons verklaar.  Wanneer ons die ellende van mislukte huwelike, uitmekaar geskeurde gesinne, dwelm- en drankmisbruik, sedelike verval en afvalligheid van God aanskou, besef ons ook dat die vyand al ver gevorder het met sy vernietigingswerk terwyl ons passief en moedeloos sit en toekyk.  Moedeloosheid is menslik – selfs Elia was op ‘n tyd só moedeloos dat hy gewens het om eerder te sterf.  Moedeloosheid moet egter met geloofsvertroue beveg word om te verhoed dat dit ongeloof word, wat sonde voor God is.

Ons lees in Romeine 13:12:  “Die nag het al ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.”  Dit het m.a.w. tyd geword vir ons om die wapenrusting van God op te neem en toe te tree tot hierdie geestelike stryd wat ons huidiglik sonder koeëls moet veg.  Die wapenrusting waarmee ons onsself moet toerus, word vir ons in Efesiërs geïdentifiseer as:

  • Waarheid;
  • Geregtigheid;
  • Bereidheid vir die evangelie van vrede;
  • Geloof;
  • Die helm van verlossing en die swaard van die Gees -  wat die Woord van God is.

Met die vaandel van bereidheid vir die Evangelie van vrede opgehef om oor ons hoofde te wapper en bewapen met die wapenrusting van God, word my wens vir ons stryd vorentoe saamgevat in die woorde van Romeine 16:20:  “En die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel.  Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle! Amen.”

Psalm 20:1-10 (met beklemtoning vers 6)