Hannes Ollewagen
Hábakuk 3:1-19
“Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil. Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.”
Dit is maklik om in tye van voorspoed lofprysinge te uiter en oor die goedheid van God te praat, aangesien ons dit eerstehands ervaar. Wanneer die lewe egter vir ons ‘n bietjie moeilik raak, om dit lig te stel, word die diepte van ons geloof gemeet. Daar word in hierdie tye bepaal of ons geloof maar net oppervlakkig is – tot daar waar dit m.a.w. vir ons voordelig is. Aanbid en loof ek God bloot vir dit wat ek van Hom kan ontvang, of dien ek Hom waarlik uit liefde wat diep wortel geskiet het en dus ook groei?
Die gelykenis deur Jesus Christus vertel van die saad wat op verskillende dele van die aarde gesaai is, kom spontaan in ‘n mens se gedagtes met aanhoor van voorafgaande. Die huidige omstandighede in ons land het al beter gelyk, maar wat die grootste vrees en onrus by baie mense veroorsaak, is dat die toekomsverwagting menslikerwys nie baie goed daaruitsien nie. Ons beleef die afgelope paar jaar daadwerklik in vele opsigte jare van droogte waarin alles stadig maar seker besig is om weg te kwyn, agteruit te gaan en in vele opsigte tot niet te gaan. Die voorspoed en tye van oorvloed het opgedroog en teëspoed, verval en swaarkry kring al wyer uit. Namate die ongeregtigheid en ongeêrgdheid van mense vermeerder, druk die swaar Hand van die Almagtige al hoe harder op ons land. Die dag waarop die nasies gedors gaan word, kruip elke dag nader, tog is daar min mense wat hul waarlik tot God wend.
Ek het as kind in ‘n baie gelowige huis opgegroei en het menigmaal die lied oor hoe ons sal juig en lofsange sing selfs in tye van teëspoed en ellende hoor weerklink. Alhoewel elke tydgeleuf maar sy voor- sowel as teëspoed het, was die jare waarna ek verwys uiters rooskleurig in vergelyking met vandag se omstandighede. Sou dit wees dat die maer jare vir ons volk aangebreek het en ons land besig is om weg te kwyn en ten gronde te gaan, wat staan ons te doen? Is dit nie ons verantwoordelikheid om te jubel en te juig voor God soos wat ons onderneem het om te doen nie? Staan ons nie skuldig voor ‘n onderneming wat ons jare gelede gedurende lofsang aan Hom gemaak het wat nou nie nagekom word nie? Wanneer ons kyk na hoé 'getrou' ons volk was oor die afgelope paar dekades teenoor ons ondernemings wat aan God gemaak is, wil ons dalk nie nóg ‘n aanklag by die reeds ellelange lys voeg nie. . .
Ek kan u verseker dat daar weinig opregte gelowiges is wat dit maklik het onder die huidige omstandighede in ons land, maar ons het die verantwoordelikheid om nie moedeloos te word nie. Ons het die troos dat die HERE Here ons sterkte is en dat ons op Hom kan wag en vertrou om ons weer sterk te maak en ons voete te maak soos die van herte en ons te laat tree op hoogtes. Dit is moeilik om in tye van beproewing met ‘n lied in die hart rond te loop en boodskappe soos hierdie kan ons selfs opstandig maak, want dit klink altyd asof die skrywer uit ‘n posisie van totale bevoorregting praat en nie self deel in die swaarkry nie. Ek wil allermins verkondig dat ons huidige omstandighede in die nabye toekoms gaan verbeter, want laasgenoemde is ongelukkig nie waar nie. Alles sal eers aansienlik versleg totdat ons as volk begin om ons ondernemings aan God weer na te kom en Hom in waarheid te aanbid en te dien. Ons moet na Hom terugkeer en ophou om ons hoop op prinse te stel wat Hom selfs in die openbaar verloën!
Ons liefde, gehoorsaamheid en diensbaarheid aan Hom is veronderstel om ons hoogste strewe in die lewe te wees. Alhoewel ons derhalwe nie die versekering het dat ons omstandighede in die nabye toekoms gunstig sal verander nie, het ons die blye versekering dat Hy ons nie in ons nood in die steek sal laat nie. Hierdie is genoeg rede tot diepe dankbaarheid, aangesien sy Lig selfs die grootste duisternis kan verdryf.
Ons het lank genoeg ons ondernemings teenoor Hom agterweë gelaat. Laat ons begin om te doen soos wat ons onderneem het om te doen en daardeur vir God laat sien dat ons diens aan Hom veel dieper gewortel as as lippediens sonder enige bedoeling. Ons kan deur gehoorsaamheid aan Hom toon dat ons Hom waarlik liefhet en opreg in Hom glo en dus op Hom wag as ons sterkte en ons heil!
Ons moet onthou dat ons jubelsange gerig is tot die ewige Lig van die wêreld wat selfs die donkerste duisternis sal verdryf. Duisternis is slegs aanwesig waar lig afwesig is. Sou ons God welkom voel tussen ons lof- en jubelsange, sal daar geen plek vir die duisternis verder wees nie.