SOOS DIT REG IS IN U OË

Hannes Ollewagen

Jeremia 18:1-23

“Sal Ek nie soos hierdie pottebakker met julle kan maak nie, o huis van Israel? spreek die HERE.  Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, o huis van Israel!”

Elkeen van ons het seker al hierdie laagtepunt in ons lewens bereik,  daar waar dit vir my voel asof ek ‘n volslae mislukking is – onomkeerbaar en onherstelbaar misvormd.  Om vas te stel of daar grondige rede vir u is om te voel dat u misluk het, moet ons sekerlik eers vasstel wanneer iemand as ‘n mislukking beskou word.  Dit is nou juis hier waar die kinkel in die kabel kom, want ons moet besluit uit watter oogpunt ons hierdie besluit sal benader.  Wanneer ek praat van mislukking, dink ek daaraan as ‘n mislukking in die oë van die wêreld of dink ek daaraan as ‘n mislukking in die oë van die Pottebakker?

  Die een/Een wie se opinie vir my die swaarste weeg, m.a.w. die een/Een wie ek die graagste wil behaag, sal die deurslag gee vir die maatstaf wat ek gebruik om my sukses of dan mislukking te meet.

 

‘n Sakeman/kommersiële landbouer is sekerlik ‘n volslae mislukking wanneer sy onderneming onder finansiële teëspoed gebuk gaan of wanneer hy selfs insolvent verklaar word.  Dit sou beteken dat Job seker as ‘n mislukking beskou is die dag toe hy al sy besittings verloor het.  Dit was dan inderdaad ook hoe die wêreld en die meeste van sy vriende hom beskou het, maar God het anders van Job gedink.  Job was klein en verag in die oë van die wêreld, maar groot in die oë van God.  “En die HERE vra vir die Satan:  Het jy ag gegee op my kneg Job?  Want daar is niemand op die aarde soos hy nie:  ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad.”  (Job 1:8).  ‘n Man wat daarenteen uiterlik goed vertoon en nie skaam is om met sy weelde te spog nie, word sekerlik in die oë van die wêreld as suksesvol beskou.  Wanneer só ‘n persoon God nie in gedagtenis hou nie en hy trots en hoogmoedig raak op sy rykdom en eie eer, sal hy walglik wees in die oë van God.  “So sal God jou dan ook vir ewig omverwerp, jou wegruk en jou uit die tent uitsleep; ja, Hy sal jou ontwortel uit die land van die lewendes. Sela.  En die regverdiges sal dit sien en vrees; en hulle sal oor hom lag en sê:  Kyk, die man wat God nie tot sy toevlug gemaak het nie, maar vertrou het op die grootheid van sy rykdom, sterk was in sy begeerlikheid!”  Ps. 52:7-9.

‘n Vader wat nie vir sy kinders ‘n goeie universiteitsopleiding kan betaal en hulle met ‘n motorvoertuig toerus wanneer hulle klaarmaak met skool nie, sal seker in die gees van ons samelewing ‘n mislukking voel.  Ek is egter van mening dat ‘n vader wat afwesig was in die vaslegging van sy kinders se geestelike grondslag a.g.v die ywer om in die stoflike te voorsien, eerder rekenskap aan God sal moet gee as die een wat in die stoflike afgeskeep het ten einde die geestelike fondament te lê.

‘n Jong man wat nie elke dan-en-wan met ‘n ander meisie gesien word nie, sal seker in die oë van die wêreld as ‘n mislukking beskou word.  So sal ‘n meisie wat nie haar skoonheid misbruik om die toenadering van elke tweede man te probeer ontlok nie, sekerlik nie veel aandag in die oë van die wêreld geniet nie.  Alhoewel sy dalk nie in die oë van die wêreld veel aandag sal geniet nie, kan so ‘n meisie blymoedig weet dat ‘n stille en sagmoedige gees baie kosbaar in God se oë gereken word.    “Julle versiering moet nie uiterlik wees nie:  haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.”  2 Pet. 3:3-4.  Diegene wat ‘n heilige lewe voor God probeer bewandel , het niks om op afgunstig te wees teenoor diegene wat die genot van die wêreld leegtap nie, want hulle doen dit ten koste van die vreugde van die ewige lewe wat hulle kan smaak wanneer hulle hul bekeer.  “Moenie dwaal nie!  Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustiges of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.”  1 Kor. 6:10

‘n Prediker sal seker in die oë van die wêreld ‘n mislukking wees indien hy voor ‘n klein gemeente preek terwyl diegene wat mense in massas in hul gehoor streel met motiveringspraatjies eerder as die Evangelie, as suksesvol beskou sal word.  Ek hoop dat hierdie misleiers die geleentheid sal kry om Eségiël 34 te bestudeer ten einde hulle tot besinning te bring.  “So sê die Here HERE:  Kyk, Ek het dit teen die herders! En Ek sal my skape van hulle hand eis en maak dat hulle geen skape meer oppas nie, sodat die herders aan hulleself nie meer weiding sal verskaf nie; en Ek sal my skape uit hulle mond uitruk, sodat dit hulle nie as voedsel sal dien nie.”  Eség. 34:9

Dit is duidelik dat ons die keuse in die lewe sal moet maak oor wie ons probeer behaag : God of die wêreld.  Dit is onmoontlik om God en die wêreld te probeer behaag.  Ek sê dit omdat ek onthou wat die wêreld met Jesus Christus gedoen het toe Hy as Seun van die mens na die aarde gekom het . . .  Dit is dus duidelik dat die wêreld in vyandskap met Hom is en so ook diegene wat kies om die wêreld te behaag eerder as om God te probeer behaag.  “...weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie?  Wie dan ‘n virend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”  Jakobus 4:4

Dit is dalk met ‘n skok wat u vandag besef dat u miskien groot gereken word in die oë van mense, groot is in die oë van die wêreld, maar ‘n voorwerp wat besig is om te misluk in sy Hand.  Dit is dan wanneer u sal moet kies – verhard u hart en word hard gebak deur die begeerlikhede van hierdie wêreld en u sal stukkend val soos ‘n erdekruik sonder dat daar herstel voor is.  U kan ook die teendeel kies, nl.  om uself voor Hom te verootmoedig, te bely dat u misluk het in sy hand en Hom toelaat en vra om weer  van u ‘n nuwe voorwerp te maak, soos wat dit reg is in sy oë.