Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Weet ons hoegenaamd wat dit in praktyk beteken om waarlik en volkome op God te vertrou? Is dit nie dalk waarom dit so haglik met ons volk in hierdie land gaan nie – omdat ons nie in vertroue gehoorsaam aan Hom is nie. Luister wat sê die Psalmdigter in Ps 84: "Hy sal die goeie nie onthou (weghou) aan die wat in opregtheid wandel nie. HERE van die leërskare, welgeluksalig is die mens wat op U vertrou!"
PRAAT MET DIE HERE!
Hannes Ollewagen
Jakobus 5:7-20
“En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word. Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.” (:15&16).
In die gelese gedeelte word daar vanaf verse 13 – 18 in elke vers van gebed melding gemaak. Besef ons nog die krag wat daar in die gebed van ‘n regverdige is? En weet ons as gelowige kinders van God watter voorreg ons het om tot Hom te bid?
Gebed het dalk ook vir u maar net ‘n gewoonte geraak en om hierdie rede het u gebede hul krag verloor. Wanneer ‘n gelowige bid, moet ons in die geloof bid anders moet ons dit eerder laat staan. “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens, moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie – “ (Jak. 1:6&7). Die Woord stel dit vir ons uitdruklik dat ‘n gebed sonder geloof nietig is, inteendeel, ons kan God met sulke gebede vertoorn. Daarenteen is ‘n gebed uit ‘n opregte hart van ‘n ware gelowige ‘n baie, baie kragtige instrument. “...Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.” (:16).
Gelowiges is só bevoorreg dat ons deur gebed die geleentheid gebied word om in die troonsaal van God te verskyn om met Hom te kommunikeer. Dink maar met hoeveel verwagting u sou opgaan na ‘n ontmoeting met ‘n belangrike staatshoof wat u dit vergun om hom te gaan toespreek oor sake wat vir u swaar op die hart lê. U sou ongetwyfeld na so ‘n persoon gaan met groot verwagting dat u besoek positiewe resultate sou oplewer en boonop dat hierdie persoon u sou kan help met u probleme. As ons dan so ‘n sterk vertroue op mense sou plaas, hoe maak ons God nie seer wanneer ons tot Hom bid, maar met ‘n twyfelagtige gesindheid nie?
God is wel ‘n regverdige God wat die ongeregtigheid van die goddelose met strenge tugtiging besoek. Hy is daarenteen vir sy gelowige kinders ook ‘n liefdevolle Vader wat graag wil deelvorm van ons lewens. Dit is daarom dat Hy graag wil hê dat ons na sy Woord sal luister om naby Hom te bly, maar ook dat ons in gebed met Hom sal praat oor alle sake in ons lewens. Die Here hou daarvan wanneer sy kinders met Hom praat net soos wat dit vir ouers ‘n vreugde is om te weet wat in hul kinders se lewens gebeur. “...maar die gebed van die regverdiges is Hom welgevallig.” (Spr. 15:8). “...maar die gebed van die regverdiges hoor Hy.” (Spr. 15:29).
U sal sê dat u dalk al soveel dinge van God gevra het en dit toe nie gekry het nie, daarom bid u dalk nie meer in die geloof nie. U bid maar en as u u bede verkry is dit goed en as u dit nie verkry nie is dit ook maar tot daarnatoe! As u in retrospek moet oordeel oor dit wat u nie in gebed van God verkry het nie terwyl u opreg en in geloof gebid het, sou u reken dat u skade aangedoen is deur God se versuim om nie aan u versoek te voldoen nie? Menigmaal is ons dankbaar teenoor God dat Hy ons nie alles skenk wat ons van Hom vra nie omdat Hy beter as onsself weet wat tot ons heil en tot ons skade sal wees! “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Matt. 7:11).
Ek en u kan gerus by Isak en Rebekka ‘n les rondom gebed leer. Isak was natuurlik ook bekend met God se belofte aan Abraham dat Hy aan hulle ‘n groot nageslag sou skenk. In hulle familie was daar egter die onverklaarbare struikelblok voor hierdie belofte van onvrugbare vrouens. Hoekom sal God aan my ‘n nageslag beloof en dan aan my ‘n onvrugbare vrou skenk – hierdie een plus een gee tog nie twee nie? In plaas daarvan om God te verwyt, doen Isak wat ‘n goeie gelowige betaam. Hy soek die Aangesig van God in hierdie saak. “En Isak het die HERE gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar; en die HERE het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swanger geword het.” (Gén. 25:21).
Nadat Rebekka swanger geword het, het sy moeilikheid met haar swangerskap ondervind. In plaas daarvan om God te verwyt vir haar moeilike swangerskap volg Rebekka die goeie voorbeeld van haar man om die Aangesig van God hierin te soek. “...Daarop het sy gegaan om die HERE te raadpleeg.” (Gén. 25:22).
Dit bring ons by die volgende vraag: “Waarom ontvang ons nie ook altyd antwoorde op ons gebede soos wat die geval was met Isak, Rebekka, Dawid, Hiskía, Elia, Daniël en soveel ander gelowiges nie?” Die antwoord hierop is weereens die gesindheid waarmee ons bid.
Ons moet weet dat wanneer daar verkeerde dinge in my lewe gekoester word, wanneer ek m.a.w. doelbewus met sonde in my lewe volhard, dit my opregte toenadering tot God sal verhinder. Sonde vervreem ons van God en vertroebel ons suiwer verhouding met Hom. Dink maar hoedat Adam en Eva in die Paradys voor God se Aangesig geleef het en vrymoedig met Hom gekommunikeer het. Hy het selfs in die aandwindjie beweeg op soek na hulle. Die oomblik toe Adam en Eva egter gesondig het, was hul skaam vir God en het vir Hom probeer wegkruip aangesien hul nie meer vrymoedigheid gehad het om voor Hom te verskyn nie. Hierdie waarheid word ook vir ons in die Woorde van Jesaja 59:1&2 geleer. “KYK, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.” Eweneens leer ons in Spreuke 28:9: “Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ‘n gruwel.”
Moenie toelaat dat ongeregtigheid u u gemeenskap met God ontneem nie. Dit is dwaas om te dink dat u u eie probleme beter en makliker kan oplos as wat die Here dit kan doen. “As God my dan nie wil help nie, sal ek self regkom!” – is nie die oplossing nie. Bekeer u eerder tot die Here en verwyder dit wat moontlik skeiding maak tussen Hom en u sodat u ook die vreugde van gebedsverhoring en God se krag as ‘n werklikheid in u lewe kan ervaar! “Kof. Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid. Resj. Hy vervul die wens van die wat Hom vrees, en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle.” (Ps. 145:18&19).