HY SIEN IN ELKE HART

Hannes Ollewagen

1 Sam. 16:1-13

Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan. (:7).

n Mens sou in Engels sê: Dont judge a book by its cover. Ons het gelukkig in ons moedertaal ewe mooi uitdrukkings waarmee ons hierdie Engelse gesegde kan verwoord. Ek reken die spreukwoord dat n mens nie n man aan sy baadjie moet takseer nie in hierdie konteks dalk meer toepaslik sal wees.

Alhoewel ons nie met hierdie lewenswaarheid onbekend is nie is ons tog geneig om telkens daarin te struikel. Ons sal byvoorbeeld geneig wees om n persoon wat finansiëel welaf voorkom anders te behandel (weens ons gebrekkige oordeelsvermoë?) as die volgende persoon met n veel eenvoudiger voorkoms. Eweneens sal ons dikwels mense met n groot geleerdheid se kwalifikasies só hoog aanslaan dat ons nie eers so n persoon se gebreke raaksien nie. Daarenteen kan ons só krities wees teenoor ander mense dat ons nie hul goeie bedoelinge of dade daarby raaksien nie.

Ons as Afrikanervolk is binne volksverband skuldig daaraan dat ons vernaam van mening is dat ons politieke leiers geleerde mense moet wees. Dit is natuurlik net logies dat leiers mense met bevoegdhede en wysheid moet wees. Die wysheid hier ter sprake kom egter van binne en van Bo eerder as uit universiteitsopleiding en handboeke. Die leiers wat hierdie wysheid besit, verstaan dat hul leiding van mense veel meer as net hul stoflike en aardse bestaan behels, maar dat hul ook leiding moet bied wat mense se ewige sieleheil tot voordeel sal strek.

Ons lees in die gedeeltes uit 1 Samuel 15 en 16 dat Saul juis daarin gefaal het om homself waardig soos n Godvresende leier te gedra. Saul se fokus het van God verskuif en hy was primêr op sy aardse koninkryk ingestel eerder as om op sy diensbaarheid aan God te fokus. Hy het homself daarom gediskwalifiseer as n leier van God se volk waarna God aan Samuel bevel gegee het om n nuwe leier vir sy volk aan te wys. Ten tye van die aanwysing van die nuwe leier maak Samuel voorwaar die fout om die nuwe leier wat God aanwys op grond van sy voorkoms te beoordeel waarna God hom in vers 7 hierop teregwys. God het aan Samuel laat verstaan dat dit wat Hy hoog aanslaan binne die hart van die mens lê waar ander mense dalk nie kan sien nie, maar daardie verborgenheid is vir die oë van God wél sigbaar....want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes... (1 Kron. 28:9). Ons leer hieruit ook dat God nie die onregverdige of bevooroordeelde oordeelsvermoë van n mens het nie, maar dat Hy met reg oordeel. Laat tog die boosheid van die goddelose mense n einde neem, maar bevestig U die regverdige, ja, U wat harte en niere toets, o regverdige God! (Ps. 7:10).

Saul was nie die laaste mens wat sy fokus van God na homself laat verskuif het nadat hy in n posisie van aansien beland het nie. Dink maar gerus hoe skerp Christus die skrifgeleerdes en Fariseërs in Matt. 23 oor dieselfde sonde aanspreek. Hulle het só behep geraak met hul eie aansien en posisies dat hulle godsdiens n leë en oppervlakkige vertoon geraak het wat op die oog af aanneemlik was, maar dit was vir God verwerplik. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid. (Matt. 23:25-28). En hoe het hulle Hom gehaat omdat Hy regdeur hul uiterlike vertoon tot binne hul harte kon sien! Hulle het Hom só erg hieroor gehaat dat hul Hom uiteindelik sou vermoor.

U moenie dink dat hierdie boodskap vandag net tot politici, skrifgeleerdes, regeringslui of Fariseërs gerig is nie. Dit spreek tot elkeen van ons. Het u nie dalk ook in u beroep as dokter só behep geraak daarmee om soveel moontlik pasiënte per dag te sien ten einde u bankrekening vol te stop en die mees aansienlike spreekkamer in die omgewing te bou dat u God nie meer dien met die gawe wat Hy u geskenk het nie? Dalk is u geroep om die Woord van die Here aan ander te verkondig, maar het u só gesteld geraak op u eie aansien en gewildheid voor mense dat u eerder u eie saak as die saak van die Here dien? Ons kan die beroepe op hierdie wyse die een na die ander deurgaan om vas te stel of u daarin u eie saak dien en of u werklik die saak van die Here in gehoorsaamheid dien.

Dit is my nie gegee om die oordeel hieroor te fel nie aangesien ek sekerlik so maklik soos Samuel deur die uiterlike vertoon bedrieg kan word. U moet egter weet dat u eendag voor die Regterstoel van Christus sal verskyn wat n regverdige oordeel sal fel Hy wat weet wat die bedoeling van elke hart is. ...en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat harte en niere deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke. (Openb. 2:23).