KNEGTE VAN DIE ALLERHOOGSTE

Hannes Ollewagen

Lev. 25:23-55

“Want hulle is my knegte wat Ek uit Egipteland uitgelei het; hulle mag nie verkoop word soos ‘n mens ‘n slaaf verkoop nie.” (:42).

“Want die kinders van Israel is my knegte; my knegte is hulle wat Ek uit Egipteland uitgelei het. Ek is die HERE julle God.” (:55).

Ons almal is seker vertroud met die definisie van ‘n kneg. Dit is, eenvoudig gestel, iemand wat dien – een wat gehoorsaam opdragte uitvoer. ‘n Kneg wat weier om sy heer te gehoorsaam sal bes moontlik nie lank onder sy heer se hand vertoef nie.

Die teksverse van ons oordenking pas seker nie te goed in by die hedendaagse “hoofstroom teologie” nie. Die “nuwe evangelie” wat vandag verkondig word, is mos een waarin die mens nie die term diensbaarheid en gehoorsaamheid hoor nie. Wel, hierdie term is ten minste nie op die mens van toepassing nie. Dit is eerder God wat volgens hierdie teologiese dwalinge die mens moet gehoorsaam. As ons ‘n bepaalde hoeveelheid mense by ‘n byeenkoms byeenbring dan SAL God se hand beweeg. Wat ‘n onbybelse en verwaande stelling! Benewens Christus se woorde dat waar twee of drie in sy Naam vergader Hy in hul midde sal wees, lees ons van Daniël se gebed in sy eensaamheid eerder as saam met ‘n massa mense. En hierdie opregte gebed van Daniël, wat homself ‘n kneg van God noem, is verhoor! Daniël se ingesteldheid was nie op homself nie, maar op die koninkryk en wil van God en daarom is sy gebed verhoor. “Hoor dan nou, ons God, na die gebed van u kneg en na sy smekinge, en laat ter wille van die Here u aangesig skyn oor u heiligdom wat woes lê.” (Dan. 9:17).

So ‘n dekade of wat gelede het die satan ‘n geweldige effektiewe strategie aangewend om mense van die ware evangelie afvallig te maak. Hy het met ‘n fyn uitgewerkte plan die knegte van God wat uit die slawerny van sonde (Egipte) uitgelei is, weer tot diensbaarheid van sonde gebring. Dit het hy reggekry deur‘nhalwe waarheid aan te wend om dwaalleer te verkondig. Hierdie dwaling was dat ‘n mens maar kan leef soos jy wil nadat jy ‘n “geloofsbelydenis” geuiter het omdat Jesus reeds vir jou sondes gesterf het. Nou weet ons wel dat Christus inderdaad gesterf het om die skuld vir ons sonde te betaal, maar dat dit nie ‘n vrybrief vir die sonde en ‘n lewe van ongeregtigheid is nie. Inteendeel, daardie prys wat Hy met sy kosbare bloed betaal het, was juis om ons as gelowiges as eiendom te verkry! Hy het ons as sy knegte gekoop.

Namate die waarheid hierdie leuen begin agterhaal het, het die satan nuwe strategieë geformuleer. Hy behaal in ons tyd baie sukses met allerhande vreemde godsdienstige opvattinge waarin dit lyk asof mense God op allerhande maniere probeer beïndruk eerder as om Hom te gehoorsaam. Van een uiterste van bykans totale pasifisme in die geloof tot ‘n ander uiterste van totale oorywerigheid.  Die teologiese terrein lyk eerder na ‘n kompetisie waarin die een die ander probeer oortref as na ‘n ootmoedige en opregte soeke na die wil van God. Indien mense besig was om na die wil van God te soek, sou hulle iewers tot die besef gekom het dat mense wat God wil beïndruk Hom moet gehoorsaam.

God verwag van ons om aan Hom gehoorsaam te wees soos ‘n kneg aan sy heer gehoorsaam is.‘n Kneg wat nie sy heer gehoorsaam nie sal vir hom nie diensbaar wees nie. Dit is tog veronderstel om vir ons ‘n eer te wees om ‘n kneg van God genoem te word. Dink maar aan manne soos Dawid, Job, Daniël, Nehemía en andere na wie daar as knegte van God verwys word. Daardie knegte was gehoorsaam en kon daarom God se wil eerder as hul eie onvaste, menslike wil navolg. Maar nie vandag se “geestelikes” nie. Nee, hulle het mos heeltemal te veel mag – selfs in hul gedagtes die mag om God te gebied om op te tree.

Diegene wat vandag gehoorsaamheid en trou aan die Woord van God verkondig, sal met die sambok van “wettisisme” bygekom word. Terwyl dit waar is dat ‘n lewe van wetsonderhouding sonder liefde vir God nutteloos is, is dit ewe waar dat ‘n gelowige wat uit liefde en eerbied God se Woord gehoorsaam, die wil van God doen. Dit is nie ‘n sonde om aan die Woord van God getrou te bly en dit te gehoorsaam nie.

Sommige sal reken dat ons nie meer God se knegte is nie, maar in Christus met Hom versoen is en sy vriende geword het. En hierdie stelling sal maklik met Johannes 15:15 gemotiveer kan word. “Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.” Maar tog is dit belangrik dat ons altyd die Woord van God in konteks lees en as ons vers 14 van dieselfde hoofstuk ook lees, sal ons weer die belangrikheid van eerbied vir God en gehoorsaamheid aan Hom besef. “Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.”

Ek wil u vandag in ‘n verwarde wêreld maan : bly getrou aan die Woord van God. Bly in dit wat u uit sy Woord leer. Bly getrou en gehoorsaam as ‘n dienskneg van God. Maak seker dat u as kneg van God voortdurend in sy diens besig sal wees sodat u ook eendag die volgende mag hoor –“Goeie en getroue dienskneg. Gaan in in die vreugde van jou Heer!”