GRENSE WORD DEUR GOD GESTEL

Hannes Ollewagen

Ps. 74:1-23

“Aan u behoort die dag, aan U behoort ook die nag; Ú het hemelligte en son vasgestel. Ú het al die grense van die aarde bepaal; somer en winter, Ú het hulle geformeer.” (:16&17).

Die Almagtige God wat die Skepper van hemel en aarde is, is ook die Een wat grense ingestel het. Hy is ‘n God van orde en om hierdie orde te handhaaf, het Hy grense gestel. Hy het vir die somer en winter hul grense gestel. Hy bepaal vir die son sy tyd om onder te gaan en begrens dit hierdeur. Hy het selfs vir die grote oseaan sy grens bepaal wat nie oorgesteek mag word nie. “En wie het die see met deure afgesluit toe dit uitgebreek, uit die moederskoot voortgekom het? Toe Ek die wolk tot sy kleding gemaak het en die donkerheid tot sy windsel. Toe Ek my grens daarvoor uitgebreek en grendel en deure gemaak het; en gesê het: Tot hiertoe mag jy kom en nie verder nie; en hier word ‘n grens gestel vir jou trotse golwe.” (Job 38:8-11).

Dit maak dan ook baie sin dat God vir die mensekinders ook grense sou stel. Hy het tussen verskillende volke grense daargestel om die mensekinders van mekaar te skei.

“Toe die Allerhoogste aan die nasies ‘n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel.” (Deut. 32:8). “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie;” (Hand. 17:26-27).

God het egter nie alleen aan die mens grense gestel om verskillende volke van mekaar te skei nie. Hy het ook aan die mens bepaalde grense gestel om sy handelinge hier op aarde te rig. Dit was selfs die eerste geskape mense-paar wat te doen gekry het met grense wat deur God vir hulle bepaal was. “En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; ...” (Gén. 2:16&17).

Ons dink ook aan God se Wet wat ingestel is en deur Moses aan die volk Israel gegee is. Dit is in Exodus 20 waar ons uit God se Wet konstant met grense te doen kry. Jy mag nie die Naam van die Here ydelik gebruik nie. Ons mag die Naam van God gebruik om Hom te aanbid, om Hom te loof en Hom aan te roep. Maar daar word ‘n grens gestel – ons mag Sy heilige Naam nie ydelik gebruik nie. Die mens word in die vierde gebod verbied om die Sabbat te ontheilig. Die Here God laat ons toe om vir ses dae van die week hard te arbei en vir ons lewensonderhoud te ywer, maar Hy stel vir ons ‘n grens. Een dag van die week is vir Hom afgesonder – dit moet vir die Here heilig wees. Die sesde gebod stel vir die mens ‘n grens en verbied hom om sy hand na ‘n ander se lewe uit te steek. Die sewende gebod omlyn vir ons die grense waarbinne die mens sy dieper emosies en gevoelens in huweliksverband kan uitleef. Die agtste gebod stel vir die mens die grens daar om nie sy hand na ‘n ander se eiendom uit te strek nie terwyl die negende gebod vir ons die grens daarstel om nie ander se karakter met ons mond te skend nie. En die laaste gebod in God se Wet is weereens vir ons ‘n grens wat ons daarop wys dat ons vir ons eie erfdeel wat ons van God ontvang het dankbaar moet wees eerder as om alewig na ‘n ander se afgemete deel te hunker.

Ons leef in ‘n tyd waarin kettery oral verkondig word: dat God se grense nie meer bestaan nie. Dit poog om alle grense wat deur niemand anders as God self ingestel is nie met allerhande teologiese bedrog uitgewis te kry. Die grens van die huwelik tussen een man en een vrou word uitgewis – selfs in die hedendaagse kerke. Die grens om jou liggaam as ‘n tempel van God op te pas, word uitgewis en mense word aangehits om hul liggame met tatoeëermerke en dergelike dinge te skend. Die grense vir die behoud van lewe word uitgewis en jongmense wat onsedelik en losbandig leef, het selfs die reg gekry om gewettigde moord te pleeg deur aborsies uit te voer. Die grense wat deur God ingestel is om in ons samelewing orde te bring en te handhaaf word uitgewis en dan wonder ons waarom die wêreld in so ‘n chaotiese toestand is.

Die tyd waarin ons leef is besig om ‘n nuwe grens te trek –‘n grens tussen hulle wat die wil van God wil doen omdat hulle Hom liefhet en eerbiedig en diegene wat die grense van God doelbewus verontagsaam en selfs probeer uitwis. U sal moet kies aan welke kant van die lyn u wil beweeg, maar weet verseker dat daar ‘n dag van afrekening gaan aanbreek en dan sal hulle wat hulself aan die verkeerde kant van hierdie lyn bevind verlore wees. “...en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei;” (Matt. 25:32). God het selfs ‘n grens gestel vir die tydsduur van hierdie tyd van onreg wat ons in ons tyd beleef. . .