LIEFDE VIR GOD OF...

 LIEFDE VIR DIE WêRELD?

Hannes Ollewagen

1 Joh. 2:3-17

“Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.Want alles wat in die wêreld is — die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe — is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” (:15-17).

Geliefdes, wat ‘n uitdagende vermaning is dit nie wat ons hier ontvang nie! Ja, as ons absoluut eerlik moet wees, sal ons ruiterlik erken dat ons almal dikwels hierin struikel. Ons is dan hier op aarde. Ons leef dan hier. Ons bring dag na dag ons tyd hier deur. En in die proses streef ons daarna om die tyd hier benede so gelukkig as moontlik te wees. Ja, ons wens om voorspoedig en gelukkig te wees. Ons raak ongelukkig dikwels in die nastrewing van ons geluk en voorspoed so maklik daarin verstrengel om ons doelwitte te bereik dat ons God se wil nie meer in ag neem nie.

Wanneer ons kyk na die lewe van onse Here Jesus Christus hier op aarde was sy voorbeeld presies die teenoorgestelde. Hy het nie vir een oomblik daarop aangedring dat sy begeertes voorrang moet geniet nie. Hy het nie vir een oomblik dit onder diegene rondom Hom se aandag gebring dat Hy eintlik die Koning van alle konings is om vir Homself gemak en onderdanigheid van ander te bewerk nie.

“Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.” (Markus 10:45).   Dit wat vir Hom belangrik was, was om aan God diensbaar en gehoorsaam te wees.

Ek wonder hoeveel gelowiges in ons tyd dieselfde kan sê, geliefdes? Wanneer ons rondom ons kyk, sien ons baie mense wat graag ander mense met hul rykdom wil beïndruk ten spyte daarvan dat God geen behae daarin het nie.

“Hoogheid van oë en trotsheid van hart — die glans van die goddelose is sonde.” (Spr. 21:4).

En hoeveel mense sien ons wat waarlik daarna streef om eerder in goeie werke ryk te wees en hul rykdom op ‘n God welbehaaglike wyse aan te wend?

“Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet;dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam,” (1 Tim. 6:17&18).

Geliefdes, het dit nie ook vir soveel van die vroue in ons tyd bekoorlik geword om na die eer van hierdie wêreld te streef nie? Ja, om ‘n vrou te wees wat weet wat sy wil hê en vir niks en niemand terugstaan nie.   ‘n Vrou wat haarself in geen opsig van ‘n man verskillend sien nie en aan geen man onderdanig sal wees nie. Ja, ‘n sterk en onafhanklike vrou wat menigmaal haar eie begeerte na sukses en eer so hoog sal ag dat sy haar kinders deur die mishandeling van ‘n egskeiding sal laat gaan. En dit terwyl die mooi beeld van ‘n vrou wat God vir ons in sy Woord skets baie anders as hierdie vrou van die wêreld lyk.

“...maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig,” (1 Pet. 3:4&5).

Ons het ook in die afgelope paar weke opnuut mense se strewe na eer en verheffing in eie geledere gesien. Ja, soveel mense wat hulself bykans opdring as leiers van ‘n volk omdat die eer van mense vir hulle so aanloklik lyk! En verblind deur hul eie begeerlikheid besef hierdie mense nie dat God nie ‘n leier sal kies wat die eer van die stryd op homself eerder as op God sal wil vestig nie. En om dieselfde begeerte te bevredig is daar ook soveel mense wat hulself as profete voordoen.

Ongelukkig nie om die eer van God te soek of God se waarskuwings in waarheid aan mense te rig nie geliefdes, maar om bekendheid te verwerf! Ja, om hul eie eer te soek. Moenie vir een oomblik dink dat God nie die bedoeling van die hart ken nie. Ja, moenie vir een oomblik dink dat Hy deur dieselfde oppervlakkige dinge as mense beïndruk word nie.  

“Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.” (1 Sam. 16:7).

Geliefdes, mag die Here ons harte deur sy inwonende Heilige Gees aanraak om ons ook daarop te wys waar ons harte aan die wêreld met sy begeerlikhede geknoop is eerder as aan Hom. Mag Hy ons bevry van ons begeerlikhede en eer van hierdie wêreld en gee dat ons eerder die eer wat van Hom kom sal nastreef.

“Hoe kan julle glo wat van mekaar eer aanneem, en die eer wat van die enige God kom, soek julle nie?” (Joh. 5:44).

Mag Hy ons daarvan bewaar om so deur hierdie wêreld met sy begeerlikhede verblind te word dat ons nie meer sy heerlikheid sal sien nie. En mag Hy ons bewaar om aan hierdie wêreld gelykvormig te word, maar eerder versterk om vernuwe te word en met krag te ywer om na die Beeld van ons Verlosser hervorm te word om die wil van God te doen.

“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” (Rom. 12:2).