Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die filosoof Francis Bacon skryf dat om oud te word aan vier dinge gekenmerk word. Jy het ou hout om te verbrand, ou wyn om te drink, ou vriende om mee te gesels en ou boeke om te lees – nie noodwendig sleg nie...
OM IN DIE WAARHEID TE LEEF
Hannes Ollewagen
Joh. 1:15-34
“Want die wet is deur Moses gegee; die genade en waarheid het deur Jesus Christus gekom.” (:17).
Geliefdes, ons lees in Psalm 25 van die pragtige versoek wat Dawid aan God rig. “Dalet. HERE, maak my u weë bekend; want U is die God van my heil. U verwag ek die hele dag. He. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil. U verwag ek die hele dag.” (:4&5). Ja, uit hierdie versoek besef ons opnuut waarom hierdie man ‘n man na aan God se hart was. Ons besef weer waarom God hom so innig liefgehad het. Hierdie man, hoewel nie sonder sonde nie, het in opregtheid begeer om in die weë van die HERE te leef. Hy het met opregtheid begeer om die waarheid te ken omdat hy hierin wou leef. Dit word vir ons in Ps. 26:3 bevestig. “...want u goedertierenheid is voor my oë, en ek wandel in u waarheid.”
En soos wat ons lees van koning Dawid wat ywerig na die waarheid gesoek het, lees ons daarenteen van ‘n man wat die waarheid letterlik in die oë gestaar het, maar dit nie kon herken nie. Luister na die woorde van hierdie man waarna ek verwys uit Johannes 8:38: ”Pilatus sê vir Hom: Wat is waarheid? ...”. En hierdie woorde laat ons dink aan ‘n baie algemene verskynsel in ons tyd, nl. soveel godsdienste wat ook na die Woord van die waarheid kyk, m.a.w. die Woord aanhaal en selfs daaruit lees, maar sonder om die waarheid daarin raak te sien. Ja, veel eerder word die Woord van die waarheid gebruik om hul eie gefabriseerde “waarhede” te verdedig of te regverdig eerder as wat daar in die Woord van die HERE na die waarheid van die lewe gesoek word en hierdie waarheid nagevolg word.
Geliefdes, hierdie afdwaling van die waarheid wat in ons tyd so duidelik te bespeur is, is egter nie ‘n nuwe verskynsel nie. Paulus het ook ernstige vermaninge hieroor gebring. Luister na sy woorde aan die Galasiërs uit Gal. 3:1. “O, ONVERSTANDIGE Galasiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig?” En ook uit Gal. 5:7. “Julle het goed geloop: wie het julle verhinder om die waarheid gehoorsaam te wees?” En ook uit Tim. 2:17&18 is Paulus se stryd in hierdie verband duidelik. “...en hulle woord sal voortwoeker soos ‘n kanker, onder wie daar Himenéüs en Filétus is, wat van die waarheid afgedwaal het, omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het; en hulle keer die geloof van sommige om.”
Dit is duidelik dat Paulus ‘n stryd gehad het teen mense wat na weerskante van die middeweg van die Waarheid afgedwaal het. Ja, na die een kant het hy ‘n stryd gehad teen hulle wat basies aan mense ‘n godsdiens gebring het waar hul redding van hul eie werke en ‘n slaafse gehoorsaamheid aan die oorgelewerde wette afhang. “... Daarom moet jy hulle skerp bestraf, sodat hulle gesond in die geloof kan wees, en hulle nie besig hou met Joodse fabels en gebooie van mense wat van die waarheid afwyk nie.” (Titus 1:13&14). En daarteenoor het hy ook stryd gevoer teen dwaalgeeste wat aan mense geleer het dat hulle na hartelus aan die begeertes van die vlees kon toegee: 2 Tim. 3:1-9.
Geliefdes, vandag hou Satan mense steeds op dwaalweë aan weerskante van die waarheid besig. Ja, hy sal hulle aan die soek en aan die stry hou oor allerhande sake wat vir hul geloof eindelik waardeloos is. Maar hulle is só besig hiermee dat hulle nie tyd het om na die waarheid van God se wil uit sy Woord te soek nie. En daarenteen is daar diegene wat so besig is om hulself in die vleeslike begeertes van die wêreld te verlustig dat daar ook geen ruimte vir die waarheid in hul lewens is nie. Die enigste funksie van die Woord in hul lewens is gewoonlik enekele gedeeltes uit die Woord wat gebruik word om hul gewetens te sus sodat hulle die vrees van ‘n oordeel deur God kan onderdruk.
Die woorde van Jesus Christus uit Joh. 14:6 saam met ons gedeelte vanoggend uit Johannes 1:17 onderstreep vir ons die waarheid so mooi: “...Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Joh. 14:6). Die waarheid het deur Christus gekom, geliefdes. In Hom sien ons die volmaakte voorbeeld van wat God in die mens wil sien. In sy volmaaktheid sien ons ons eie tekortkominge en onvolmaaktheid. En in Hom sien ons ons eie onvermoë om onsself te reinig en tot redding te wees. In Hom alleen vind ons die weg van die waarheid en die lewe.
Ons sien ook in Hom ons versoening met die Vader. Ja, in Hom sien ons die waarheid dat God nie met ‘n besmette lewe van ongeërdheid en ongehoorsaamheid tevrede is nie. En daarom dat die Vader die Christus gestuur het om ons van ons sondes te bekeer en ons sodoende vir Hom te heilig. “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.” (Joh. 17:17). Johannes getuig ook van die belangrikheid hiervan om in gehoorsaamheid volgens die wil van God te leef, geliefdes. “EK was baie bly dat ek van u kinders gevind het wat in die waarheid wandel, soos ons ‘n gebod van die Vader ontvang het.” (2 Joh. :4).
Geliefdes, laat ons opnuut ons oë vestig op Hom – die weg, die waarheid en die lewe, om die lig van die waarheid in hierdie donker wêreld raak te sien. En mag ons nie alleen hierdie weg van die waarheid raaksien nie, maar met volharding daarlangs wandel.
Ek groet u met die woorde uit 3 Johannes : 4. “Ek het geen groter blydskap as dit nie, dat ek hoor dat my kinders in die waarheid wandel.”