LAAT ONS NA DIE WEË VAN DIE HERE VRA
Hannes Ollewagen
Jer. 10:1-16
“So sê die HERE: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, … “(:2).
Geliefdes, laat u gedagtes saam met my ‘n paar dekades terug gaan. Dink terug aan die leefwyse van ons Afrikanervolk ‘n paar dekades vantevore. Dit was beslis nie ‘n volk sonder foute of sonde nie. Dit was beslis nie ‘n volmaakte volk nie. Maar dit was beslis nie ‘n verdorwe volk nie. Dit was ‘n volk wat nie aan die heidense weë gewoond was nie. Dit was ‘n volk wat na die weë van die HERE gevra het en daarin probeer wandel het.
Ter bevestiging van my standpunt wil ek vir u ‘n paar praktiese voorbeelde uitlig. Onder die Afrikanervolk was ‘n verskynsel van saamblyery heeltemal ongewoon. Dit was absoluut onaanvaarbaar omdat die Woord van die HERE duidelik is rondom die heilige instelling van die huwelik tussen ‘n man en vrou. En daarmee sê ek nie dat daar nie ‘n enkele Afrikanerfamilie was waarin hierdie verskynsel nie plaasgevind het nie. Ek sê egter met stelligheid dat dit nie aanvaarbaar was nie. En so kan u self dink aan ‘n verskynsel soos egskeiding. Die meeste van ons se oupa’s en ouma’s was nog ‘n geslag waarin egskeiding nie ‘n opsie was nie. Hulle kinders het egter aan hierdie verkeerde manier van handel gewoond geraak en vandag is meer as die helfte van laerskoolleerlinge kinders uit gebroke gesinne. Ja, geliefdes en dit was ‘n uitsondelike geval dat iemand op die Sabbat eerder sou besig wees met inkopies of een of ander vorm van vermaak as om met die Woord van die HERE besig te wees, nie waar nie?
Wanneer ons vir ‘n oomblik ‘n blik op die verlede rig en weer kyk na waar ons vandag staan is dit duidelik tot wat ‘n groot mate ons volk aan die weë van die heidene gewoond geraak het. En hierdie besef behoort vir my en u tot dringende selfondersoek te bring aangesien ons ‘n deel van hierdie volk vorm. Hierdie saak is iets wat ons aan die lyf raak. Dit is iets wat ons en ons nageslag ongetwyfeld sal raak. Daarom dat ons nie hierdie waarskuwing van die HERE uit Jer. 10:2 ligtelik kan opneem nie, geliefdes.
U sal dan sekerlik van my wil weet hoe ‘n mens homself hierteen verskans? Hoe raak ‘n mens nie gewoond aan iets wat “almal rondom jou doen” nie? En die antwoord is eintlik eenvoudig. Ons (gelowiges se) riglyn vir reg en verkeerd word nie deur ander mense se optrede, sosiale aanvaarding of politieke korrektheid bepaal nie. “En Hy het vir hulle gesê: Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ‘n gruwel voor God.” (Luk. 16:15). Die feit dat “almal iets doen” is vir ‘n gelowige nie ‘n rede om dit na te volg nie. Inteendeel, die HERE belet so ‘n optrede. “Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie. ...” Hierdie woorde is tog duidelik – jy mag nie die verkeerde weg inslaan gewoon omdat die meerderheid dit verkies nie. Die enigste riglyn en maatstaf vir reg en verkeerd vir ‘n gelowige is die heilige, onfeilbare Woord van die HERE.
Geliefdes, wat ‘n mooi voorbeeld in hierdie saak sien ons nie in die lewe van Moses raak nie. Luister na sy versoek aan die HERE in Ex. 32:13. “As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; ...” Moses bely hiermee dat God alleen die Een is wat absoluut kan bepaal wat reg en verkeerd in die lewe is. Ja, hy erken hiermee dat God alleen die reg het om vas te stel wat reg en wat verkeerd is. Hy erken derhalwe hiermee God se Oppergesag. En Moses begeer om hierdie reg van God te ken sodat hy daarin kan wandel.
Ons vind ‘n ewe pragtige getuienis in die lewe van koning Dawid. Luister na sy versoek aan die HERE in Ps. 25:4. “Dalet. HERE, maak my u weë bekend; leer my u paaie.” Hierdie man dink nie dat hy as koning van Israel die oppergesag is wat self sal besluit oor reg en verkeerd nie. Nee, geliefdes, in nederigheid en ootmoed vra hy met ‘n opregte hart na dit wat God as reg en verkeerd ag. En hy begeer om hierdie reg van God te verstaan, want met hierdie kennis van reg en verkeerd in die oë van die HERE sal hy weet om langs die weg van die HERE te wandel. Hy het verstaan dat kennis van die Woord van die HERE die verligting in ons lewens bring wat nodig is om die weg na die lewe raak te sien. “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.” (Ps. 119:105).
Geliefdes, die feit dat ‘n mens hier op aarde van die weë van die HERE afdwaal en verdwaal is alreeds ‘n ramp. Maar ons moet besef dat ons lewe hier op aarde ‘n reis na die ewigheid is. En indien ons hier op aarde van die weg afdwaal, sal ons eindbestemming in die ewige poel van vuur wees wat met vuur en swael brand. Die lewensweg hier op aarde sonder die HERE lei ook na ‘n ewige verderf, smart en pyniging sonder Hom.
Ons kan nie aan die verkeerde weë van die heidene gewoond raak en met hulle saam op dwaalweë weg van die HERE se weg loop, maar verwag om ‘n ander eindbestemming as hulle te bereik nie. Indien ons ons ewige eindbestemming in die wonderlike teenwoordigheid van ons geliefde HERE wil bereik, moet ons fokus nie op die lewe van ander mense of die meerderheid wees vir leiding nie, maar ons oë moet gevestig wees op Hom wat alleen vir ons die Leidsman in die lewe is. Hy alleen kan ons enduit langs die regte weg lei. En soos Dawid en Moses se oë op Hom gerig was en hulle na Hom gekyk en gevra het om hulle op die regte weg te lei, so moet ons oë ook op Hom wees om vir ons die regte weg in die lewe aan te wys. “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Joh. 14:6).