Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God help gelowiges om hul lewenskip reg te stuur sodat dit die storms van die lewe suksesvol kan trotseer. Daarom skyn God se reënboog van genade altyd helder in hulle lewe. God gee hulle die genade om ‘n lig aan te skakel eerder as om die donker te verwens. Daarom oorweldig spanning hulle nie maklik nie.
GENESING VIR ‘N SIEK HART
Hannes Ollewagen
Hoséa 6:1-11
“Want Ek het 'n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers.” (:6).
In die tyd van Hoséa roep hierdie profeet uit tot sy volk wat op daardie stadium in ‘n ellendige toestand verkeer. Hy roep sy volk daartoe op om tot die HERE terug te keer. “KOM en laat ons terugkeer tot die Here; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind.” (:1). En dan bied die profeet ook aan die volk raad oor wat dit beteken om tot God terug te keer asook die wyse waarop dit gedoen kan word. “En laat ons ken — laat ons dit najaag om die Here te ken;...” (:3).
Ons lees verder in hierdie gedeelte dat God dan ook ‘n geweldige behae daarin het dat ons Hom ken. “Want Ek het ‘n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers.” (:6). Ons word natuurlik daarom op verskeie plekke in die Woord van die HERE daartoe gemaan om ons kennis van Hom te vermeerder. Dit is nie alleen Hoséa wat die volk hiertoe aangespoor het nie. Ons sien waar Petrus jare later dieselfde doen. “En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis,” (2 Pet. 1:5). “Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. ...”. (2 Pet. 3:18).
Luister ook na die woorde van Paulus en Timótheüs in die brief aan die Kolossense. “Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei,” (Kol. 1:9&10).
Dit is weereens nie alleen die profeet Hoséa wat spreek oor die feit dat God se volk Hom nie na behore ken nie. “HOOR die woord van die Here, o kinders van Israel! Want die Here het 'n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie.” (Hos. 4:1). Dit is ook die Korinthiërs wat deur die mond van Paulus hieroor skerp aangespreek word. “Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming.” (1 Kor. 15:34).
Ons lees ook in Matt. 22:29 waar Christus die Sadduseërs oor dieselfde saak aanspreek. Hy stel dit hier selfs duidelik dat hulle dwaal omdat hulle Hom nie ken nie. “Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.” Ons hoor ook die skerp bestaffing van die HERE hieroor deur die mond van die profeet Jeremia. “Want my volk is dwaas; My ken hulle nie; dwase kinders is hulle, en hulle is onverstandig; slim is hulle om kwaad te doen, maar om goed te doen, weet hulle nie.” (Jer. 4:22).
Ons leer uit die Woord van God dat Satan dit wat vir God behaaglik is sal wil teenstaan en vernietig, geliefdes. Dit is daarom geen wonder dat Satan ook met ywer sal probeer om skanse voor die mens te werp om dit vir hom moeilik te maak om die kennis van God te vermeerder nie. Ons lees hiervan in 2 Kor. 10:4&5. “...want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,”. Ons sien dit ook in ons tyd. Satan gebruik verskeie middele wat as skanse voor die mens staan en hom in hierdie saak verhinder. Ja, hoe effektief word instrumente soos telvisie, rekenaars en ander vorme van vermaak nie aangewend om ons tyd in beslag te neem nie. Doelloos word ons tyd hierop verspil. Na ure wat ons hieraan spandeer, is ons gewoonlik niks ryker nie. Maar effektief het Satan ons hierdeur daarvan weerhou om tyd aan God se Woord te spandeer en so ons kennis van Hom te vermeerder. En so verontagsaam ons die uitdruklike opdrag uit Efés. 5:16. “...en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.”
‘n Ander effektiewe wyse van Satan wat duidelik sigbaar is, is die gebruik van valse predikers in ons tyd. Ja, daardie mense wat die Woord tot hul eie voordeel misbruik. Hulle sal graag net sekere gedeeltes, mooi beloftes, uit die Woord van die HERE aanhaal en mense graag hiermee in die gehoor streel. En op dié wyse is mense oor hul woorde opgewonde en gaan graag na hul byeenkomste waar hulle dan ruim tot hierdie valse profete se finansiële voorspoed bydra. Maar vir hierdie valse leraars gaan dit nie vir een oomblik oor die eer van God en om as instumente in sy Hand gebruik te word om mense tot Hom te bring nie. Mense sal gewoonlik baie opgewonde van hierdie byeenkomste weggaan. Opgewonde, maar nie met ‘n goddelike en blywende vreugde nie. Ja hulle sal weggaan sonder enige beter kennis van God as vantevore. Die Woord van die HERE leer ons tog duidelik wat ‘n leraar se opdrag is. Hy behoort mense by te staan om die kennis van God te vermeerder. En sodoende word hulle nader tot God gebring sodat hulle kennis en liefde vir Hom kan toeneem en hulle eindelik deur Hom gered kan word! “Want die lippe van 'n priester moet kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek, want hy is 'n boodskapper van die Here van die leërskare.” (Mal. 2:7). Ja, met die aanwending van valse leraars slaag Satan op nog ‘n wyse daarin om ‘n suksesvolle skans teen die kennis van God op te rig.
Ten spyte van die uitdagings, die hindernisse en skanse wat in ons weg staan is ons tog in die bevoorregte posisie om die Woord van die HERE in ons eie taal tot ons beskikking te hê. En dit is deur die Woord van die HERE wat ons ware kennis van Hom leer. Mag ons as ‘n volk hierna terugkeer. Mag ons afstand doen van die wêreldse dinge wat ons van die Woord en weë van die HERE laat dwaal. En mag ons meer tyd daaraan wy om in opregtheid en met ywer die Woord van die HERE in ons huise te bestudeer, te verkondig en met ons geliefdes te deel sodat ons volk se kennis van die HERE ook weer mag toeneem. En mag ons bid dat die HERE ons volk en die hart van ons volk ook sal genees. Mag Hy aan ons ‘n hart gee om Hom te ken! ‘n Hart sonder Hom is ‘n siek hart. En ‘n volk met ‘n siek hart sterf uit. Mag dit Hom behaag om die hart van ons volk betyds te genees!
“En Ek sal hulle 'n hart gee om My te ken, dat Ek die Here is; en hulle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees, want hulle sal na My terugkeer met hul hele hart.” (Jer. 24:7).
Amen.