Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God help gelowiges om hul lewenskip reg te stuur sodat dit die storms van die lewe suksesvol kan trotseer. Daarom skyn God se reënboog van genade altyd helder in hulle lewe. God gee hulle die genade om ‘n lig aan te skakel eerder as om die donker te verwens. Daarom oorweldig spanning hulle nie maklik nie.
VERTROU OP DIE HERE!
Hannes Ollewagen
Spr. 3:1-35
“Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.” (:5).
Ons ontvang hierdie vers as ‘n opdrag uit die Woord van die HERE – die opdrag dat ons op die HERE moet vertrou. Dit beteken derhalwe dat indien ons nie op die HERE vertrou nie ons aan sy Woord ongehoorsaam is.
Dit is seker vir die meeste van ons nie maklik om te vertrou nie. Dink maar aan hoeveel mense u ken. En hoeveel van al hierdie mense wat u ken, vertrou u? Dit is maar ‘n baie klein handjievol. U het ook nie sommer lukraak besluit dat u hierdie persoon en daardie persoon sal begin vertrou nie. Die handjievol mense wat u vertroue gewen het, is mense wat u gedurende u lewe goed leer ken het. En ‘n deeglike kennis van hierdie mense het daartoe gelei dat hul eindelik u vertroue gewin het. Dit is onverskillig, en nie eintlik moontlik nie, om iemand te vertrou sonder om die persoon werklik te ken. Ons moet tog met sekerheid ‘n persoon se karakter ken om te kan besluit of die persoon as betroubaar geag kan word, al dan nie. Daarom dat Dawid dan ook in Psalm 9:11 stel dat diegene wat die HERE ken op Hom sal vertrou. Dawid stel dus dat enige mens wat God werklik ken, sal weet dat Hy vertrou kan word. “En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o Here!”
Hierdie woorde van Dawid bring ons dan by ‘n belangrike punt. Indien ons die HERE nie vertrou nie is daar ‘n fout in ons lewens. Wat sou die rede wees dat ons Hom nie vertrou nie? Dit kan eintlik maar net een van twee wees. Eerstens kan ‘n gebrekkige kennis van God die gevolg hiervan wees, omdat ek Hom nie werklik ken nie is ek nie daarvan oortuig dat ek Hom van harte kan vertrou nie. En die tweede oorsaak hiervan kan wees dat ek my vertroue eerder in iemand of iets anders as in Hom stel. En laasgenoemde word op verskeie plekke in die Woord van die HERE veroordeel. Luister gerus na die waarskuwing uit Psalm 146:3 dat ons nie in ander mense ons vertroue moet stel nie. “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.” Dit word ook vir ons in Psalm 118:8&9 bevestig. “Dit is beter om by die Here te skuil as om op mense te vertrou. Dit is beter om by die Here te skuil as om op edeles te vertrou.”
Die Woorde uit Psalm 49:7 lig vir ons iets uit wat ook vandag in ons samelewing nie ongewoon is nie. Dit verwys na diegene wat hul vertroue op hul vermoë, hul rykdom, eerder as op die HERE stel. “...die wat vertrou op hulle vermoë en hulle beroem op die grootheid van hulle rykdom?”. En ook in Psalm 115:4-8 word hierdie verkeerdheid aangespreek. “Hulle afgode is silwer en goud, 'n werk van mensehande. Hulle het 'n mond, maar praat nie; hulle het oë, maar sien nie; ore het hulle, maar hoor nie; hulle het 'n neus, maar ruik nie; hande, maar hulle tas nie; voete, maar hulle loop nie; hulle gee geen geluid deur hul keel nie. Die wat hulle maak, sal net soos hulle word — elkeen wat op hulle vertrou.” Hierin word dit selfs meer duidelik gestel dat ‘n misplaaste vertroue in ons lewens op afgodery neerkom.
Die verwerplike humanisme wat soos ‘n kanker oor die afgelope paar dekades die samelewing besmet het, het ‘n groot bydrae daartoe gelewer dat soveel mense vandag ook in hul eie vermoë en insig eerder as op die HERE vertrou. Hulle vertrou hulself derhalwe meer as vir God. En die Woord van die HERE spreek hierdie verkeerdheid ook in duidelike taal aan, geliefdes. Dit word tog uit Spreuke 3:5 vir ons uitdruklik gestel om dit nie te doen nie.
En in Spreuke 28:26 word dit dalk nog meer duidelik gestel. “Wie op sy eie hart vertrou, hy is 'n dwaas; maar hy wat in wysheid wandel, word gered.”
Ons lees in Psalm 78:21&22 dat God op sy volk toornig geraak het juis omdat hulle nie hul vertroue in Hom gestel het nie. “Daarom het die Here gehoor en toornig geword, en 'n vuur is aangesteek teen Jakob, en toorn het ook opgegaan teen Israel; omdat hulle in God nie geglo en op sy hulp nie vertrou het nie.” Dit is duidelik geen geringe saak hierdie nie, maar iets waaroor ons ernstig moet besin ten einde te verseker dat ons nie hierin aan God ongehoorsaam is nie. Luister ook na die woorde van onse Here Jesus Christus uit Mark. 10:24 oor ‘n misplaaste vertroue. “Kinders, hoe swaar is dit vir die wat op hulle goed vertrou, om in die koninkryk van God in te gaan!”
Mag hierdie woorde uit die Woord van God vir my en u ook deeglik laat besin oor waarop of waarin ons vertroue gesetel is. En mag ons met ywer werk om te verseker dat ons vertroue op Hom, alles is. “Here van die leërskare, welgeluksalig is die mens wat op U vertrou!” (Ps. 84:13).
Amen.