Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die sukses van die lewe is nie om ‘n goeie hand kaarte te ontvang nie, maar om ‘n slegte hand goed te speel. En dis ‘n uitdaging!
LEER VAN HOM WAT HEILSAAM IS
Hannes Ollewagen
Jes. 48:1-22
“So sê die Here, jou Verlosser, die Heilige van Israel: Ek is die Here jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan.” (:17).
Luister na die pragtige woorde van die Psalmdigter uit Ps. 119:7. “Ek sal U loof in opregtheid van hart as ek u regverdige verordeninge leer.” Wanneer die Psalmdigter die verordeninge van die HERE ondersoek en dit leer, word sy hart met vreugde oor die regverdigheid en die heilsaamheid daarvan vervul. Hy kan insien dat hierdie insettinge en verordeninge van die HERE vir die mens goed is en dat die mens heil daarin sal vind om hierdie insettinge en verordeninge te leer en daarin te leef.
Wanneer ons kennis van God en sy wette, insettinge en verordeninge toeneem, sien ons die regverdigheid daarvan raak. En ons sien ook die liefdevolle Vaderhart van God daarin raak, geliefdes. Ja, ‘n deeglike ondersoek en begrip hiervan bring ons tot die besef dat dit nie net ‘n klomp reëls is wat God uitgedink het om die mens daarmee te bemoei nie, maar dat die onderhouding van hierdie insettinge, wette en gebooie van God vir die mens heilsaam is. Die onderhouding hiervan bevorder deugdes soos eerlikheid, hardwerkendheid, nederigheid, lankmoedigheid, meegevoel, liefde en omgee om maar ‘n paar te noem. En hierdie is alles deugdes wat vir die mens goed is. Dit is deugdes wat tot ‘n goeie verhouding met die mense rondom ons lei en ‘n onmisbare bydrae sal lewer. Die onderhouding hiervan waak oor die heil van die mens.
Hierdie liefdevolle Vaderhart van God word vir ons ook in Psalm 32:8 duidelik ingekleur. “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.” Hoe kosbaar is dit nie, geliefdes? Waarom sou God sy oog op ons hou? Omdat Hy vir ons omgee en lief is en omdat ons heil vir Hom van belang is! En dit is presies dieselfde rede waarom Hy vir ons wil onderrig en ons wil leer in die weg wat ons moet gaan – omdat Hy vir ons lief is en vir ons omgee! Dink mooi hieroor, geliefdes. U hou nie die handel en wandel van ander mense se kinders so noukeurig dop as die optrede van u eie kinders nie. En waarom is dit so? Natuurlik omdat u u eie kinders meer liefhet as enige ander. En natuurlik omdat u so gou moontlik wil sien wanneer u eie kinders verkeerd trap sodat u hulle betyds teen foute en verkeerde besluite of optrede kan waarsku, nie waar nie? En waarom sou u hulle wil waarksu – om hulle onnodig met raad of reëls te bemoei? Natuurlik nie. Dit is natuurlik omdat u hart alreeds seerkry by die gedagte aan die slegte gevolge wat dit vir hulle sal inhou wanneer hulle in hierdie lewe verkeerd trap. Dit is liefde om iemand daarvan terug te hou om homself of ander leed aan te doen, geliefdes. Dit is nie ‘n skending van ‘n mensereg of die berowing van iemand se vryheid soos wat die Bose die wêreld deesdae wysmaak nie.
Dit is belangrik dat ons met omsigtigheid en erns optree wanneer ons met die Woord van God werk. Dit is juis omdat die samelewing in ons tyd só oppervlakkig en ligsinnig geraak het dat ons dikwels sien en hoor hoedat mense gedeeltes uit God se Woord totaal verkeerd aanhaal en probeer toepas. Die woorde uit vers 17 van ons gelese gedeelte kan ons as ‘n goeie voorbeeld gebruik. “…wat jou lei op die weg wat jy moet gaan.” Lekker. God is mos Almagtig. Dit is waar. Niks is by Hom onmoontlik nie. Dit is waar. En God is liefde. Ja. So, as ek daardie “misterieuse weg” kan vind waarop “God my wil lei” is ek op die pad waar ek net voorspoed en goedheid sal ervaar. Ek moet mos net daardie “weg vind” waarop Hy my lei sodat ek in alles my sin kan kry en altyd gelukkig kan wees, want dit is mos, volgens hierdie mistasting, God se verantwoordelikheid om my gelukkig te maak. En dit is onwaar, geliefdes. Alhoewel niks in die verlede, hede of toekoms vir God verborge is nie moet ons Hom nie die oneer aandoen om Hom vir ‘n waarsêer te hou nie. Dit klink verskriklik, maar dit is ongelukkig wat baie mense doen in hul soeke na daardie “verborge weg” waarop hulle glo hul eindelik voorspoed en geluk sal vind. Laasgenoemde is nie langs een of ander verborge weg te vind nie, geliefdes – dit is veel nader aan elkeen van ons. Ware geluk is binne in ons harte te vinde en die grondslag hiervan is ‘n goeie verhouding met God en ons naaste. Die grondslag hiervan is m.a.w. die onderhouding van die eerste twee gebooie van God.
God het sedert die Skepping aan die mens verantwoordelikheid opgelê. Ja, alreeds in die tuin van Eden was die mens vir die bewerking van die aarde verantwoordelik. “Toe het die Here God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.” (Gén. 2:15). En net so het God aan die mens ook ‘n verantwoordelikheid opgelê t.o.v. sy eie voorspoed, geluk en heil in die lewe. Ek sê nie hiermee dat die mens sy eie heil sonder God kan bewerk nie. Maar ek sê wel hiermee dat die mens nie sy verantwoordelikheid in hierdie verband kan minag en versuim en dan verwag dat God op ‘n wonderbaarlike manier al sy probleme moet laat verdwyn nie. En dit is juis om die mens in hierdie verantwoordelikheid te help dat God vir die mens sê dat Hy ons “lei op die weg wat jy moet gaan.” Hy wil vir ons deur sy Woord elke dag op ons lewensweg wat ons moet gaan die leiding gee sodat ons elke dag op hierdie lewensweg sy vreugde en vrede in ons harte mag saamdra.
Ek hoop dat ek en u vandag op die regte wyse op hierdie wonderlike boodskap uit God se Woord sal reageer, geliefdes. Mag ons met opregtheid probeer om die gebooie, insettinge en verordeninge van God in waarheid te leer ken en daarin te leef. En mag ons sodoende sy liefdevolle leiding wat Hy ons bied, volg. Ek kan u verseker dat dit vir ons heilsaam sal wees.
“Welgeluksalig is die man, o Here, wat U onderrig en wat U leer uit u wet,” (Ps. 94:12).
Amen.