Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Bid sonder ophou, bid weer en weer - Hy sal op sy tyd aandui dat sy ore nie vir ons gebede doof was nie, hoewel dit in die oë van mense lyk asof Hy dit in die wind slaan.
GELOOF EN WERKE
Hannes Ollewagen
Open. 9:13-21
“En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie.” (:20).
Die mense het hulle nie bekeer van die werke van hul hande nie. Ons lees nie hier van ’n breë omskrywing dat die mense hul nie bekeer het nie, maar daar word spesifieke melding gemaak van die verkeerde dinge waarin die mense volhard het. En een van hierdie dinge wat duidelik uitgelig word, is dat die mense hul nie van die werke van hul hande bekeer het nie, hulle het nie opgehou om verkeerd te handel en verkeerd te doen nie.
Maar is dit dan nie so dat ons deur die geloof eerder as deur ons werke geregverdig word nie? Ons kan onsself tog nie deur ons goeie werke red nie – ons redding is uit geloof wat ons deur die genade ontvang, nie waar nie? Dit word dan vir ons in Gal. 2:16 duidelik gestel. “terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.” Ons moenie hierdie gedeelte gerieflikheidshalwe aanwend om onsself van ons sondige optrede te probeer verontskuldig nie. Die Woord is duidelik dat ons by onvermoë is om onsself te red – hiervoor is ons van God se genade afhanklik. Maar ewe duidelik is die Woord daaroor dat die ware bekeerling, hy wat hierdie geloof in Christus in waarheid aanneem, homself van sy verkeerde lewenswandel afkeer. “WAT sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?” (Rom. 6:1&2). Die ware gelowige probeer homself gedurig van sy verkeerde werke bekeer, terug na God, eerder as om regverdiging vir die verkeerde werke (selfs in die Woord) te probeer vind.
Die gedeelte uit Openbaring 9 is duidelik dat God nie tevrede is met die mense wat in hul sondige werke volhard nie. Ons lees in Openbaring van die toename in die toorn en grimmigheid van God juis omdat die mense weens die hardheid van hul harte hul nie van hul verkeerde weë bekeer nie. Dit word vir ons ook so mooi in Kol. 3:5-9 uitgedruk. “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom,waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het.Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het”. Die ou mens, die ongelowige mens, het in hierdie verkeerde en sondige optrede geleef, maar die nuwe mens, die gelowige in Christus wat uitsien na ’n herstelde verhouding met God keer homself van hierdie verkeerde dade af en leef nie meer daarin nie. Hierdie gelowige bekeerling lê saam met die ou, ongelowige mens, ook die sondige werke af.
Die Woord van die HERE maak dit vir ons uit Jakobus 2 baie duidelik dat geloof en goeie werke nie onderling uitsluitend is nie. Die geloof en werke is veel eerder aan ’n simbiotiese verhouding in ’n gelowige se lewe te vergelyk. “Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke?” (Jak. 2:22). Die gelowige het nie die keuse om uit geloof óf uit goeie werke gered te word nie. Die goeie werke is sonder die geloof nie moontlik nie. “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag;...” (Heb. 11:6). En die volharding in goeie werke is dan weer nodig en gesond vir die onderhoud van die mens se geloof. “Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is? Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie? Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.” (Jak. 2:20,24 & 26).
Wanneer God die gemeente in Thiatíre aanspreek, vestig Hy nie alleen die aandag op hul werke óf op hul geloof nie. Die aandag word op hul werke en hul geloof gevestig. “Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid en jou werke, en dat die laaste meer is as die eerste.”(Open. 2:19). En in vers 23 van hierdie selfde brief stel God dit duidelik dat Hy ook volgens die werke oordeel. “...en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.” Dit is ook vir ons uit Hebreërs 3 duidelik dat ongehoorsaamheid aan God en ongeloof onder dieselfde kam geskeer word. ’n Lewe van verkeerde dade, ’n lewe van ongehoorsaamheid aan God is ook ’n lewe van ongeloof. “En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames? En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie.” (Heb. 3:18&19). ’n Mens wat God nie ken en nie in God glo nie sal Hom nie gehoorsaam nie. “Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk.” (Titus 1:16). En daarteenoor is die lewe van ’n ware gelowige ’n lewe waarin gehoorsaamheid aan God met erns nagestreef word.
Ek groet u vandag met die gedeelte uit Titus 3:3-8 wat vir ons hierdie boodskap van die gesonde verhouding wat daar in ons lewens tussen geloof en werke moet bestaan pragtig saamvat. “Want ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op 'n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat. Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het — nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Geeswat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser; sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe. Dit is 'n betroubare woord, en ek wil hê dat jy hierdie dinge beslis bevestig, sodat die wat in God glo, sorg kan dra om goeie werke voor te staan; dít is wat goed en nuttig is vir die mense.”
Amen.