Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy dink jy sal die sin en betekenis van jou lewe sommer net vind op 'n dag sonder om jou hele aardse lewe met al sy fasette aan die HERE te koppel, gaan jy baie lank soek...
IN SY KRAG
Hannes Ollewagen
1 Sam. 17:1-58
“Maar Saul het Dawid geantwoord: Jy kan nie na hierdie Filistyn gaan om teen hom te veg nie, want jy is 'n seun, en hy is 'n krygsman van sy jeug af.Daarop sê Dawid aan Saul: U dienaar het vir sy vader die kleinvee opgepas, en as daar 'n leeu of 'n beer kom en 'n stuk kleinvee uit die trop wegdra,dan gaan ek uit agter hom aan en verslaan hom en ruk dit uit sy bek uit; en as hy my aanval, gryp ek hom aan sy baard en verslaan hom en maak hom dood. U dienaar het die leeu sowel as die beer doodgeslaan, en met hierdie onbesnede Filistyn sal dit gaan net soos met een van hulle, omdat hy die slagordes van die lewende God uitgedaag het. Verder sê Dawid: Die Here wat my gered het uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer, Hy sal my red uit die hand van hierdie Filistyn. Toe sê Saul vir Dawid: Gaan, en mag die Here met jou wees!” (:33-37).
Daar sit die leërmag van die beroemde volk Israel – geïntimideer deur ’n Fillistyn. Nie een van hierdie krygshaftige manne, hoe ervare ookal, sien kans om hierdie reus die stryd aan te sê nie. Dit is vir hulle voor die hand liggend dat hul eie krag vêr te kort skiet om hierdie geweldige krygsman van die Fillistyne aan te durf. Ja, geliefdes, onder hierdie ganse leër van Israel is daar nie ’n enkeling met die nodige geloofsvertroue in hul God om hierdie reus die stryd aan te sê nie. En hierdie optrede van die Israeliete strek God nie tot eer nie.
Dawid verskyn op hierdie toneel. Hy hoor hoedat hierdie Fillistyn die slagordes van Israel uitdaag en hulle smaad. En hierdie saak wat nie tot God se eer strek nie, is natuurlik in sy oë verkeerd. Hy verklaar homself bereidwillig om teen hierdie Fillistyn op te tree. En nou moet ons mooi kyk na ’n paar baie kosbare lesse uit Dawid se optrede. Hierdie situasie wat nie tot God se eer gestrek het nie was vir hom verkeerd. Hy wil dit sien verander en tree derhalwe na vore om hierteen op te tree. Maar Dawid storm nie met ondeurdagte onverskilligheid in ’n situasie in nie. Alhoewel hy geen ervaring in krygskuns gehad het nie, het hy al gevaarlike situasies deurgemaak waarin hy onderskeidelik ’n leeu en ’n beer die stryd aangesê en doodgemaak het. Hy tree egter ook nie met verwaandheid op en roem daarin dat hy in eie krag ’n beer en ‘n leeu verslaan het nie. Hy is oortuig daarvan dat die HERE hom in hierdie gevare bygestaan het en met dieselfde sterk oortuiging en geloof in die HERE sy bystand, is hy bereid om die volgende gevaar die stryd aan te sê. Hy sien nie in homself ’n groter of sterker krag wat die ervare krygsmanne rondom hom nie in hulself kan raaksien nie. Maar Dawid sien die onmeetbare krag van God teenoor die verganklike Fillistyn – iets wat nie een van die ander krygsmanne in Israel rondom hom gefokus het nie. En daarom was Dawid, eerder as een van die ander baie ervare krygsmanne van Israel, ’n instrument in God se Hand waarmee hierdie Fillistyn eindelik verslaan is. Hieruit sien ons weereens dat God ons gehoorsaamheid, ons bereidwilligheid, ons nederige afhanklikheid teenoor Hom, gebruik en dat Hy nie van ons kundigheid, vermoë of vaardigheid afhanklik is nie. “So het Dawid dan die Filistyn oorweldig met 'n slinger en 'n klip. En hy het die Filistyn verslaan en hom gedood alhoewel daar geen swaard in Dawid se hand was nie.” (1 Sam. 17:50). Die oorwinning het gevolg uit Dawid se bereidwilligheid en geloof, nie uit sy ervaring as krygsman, of omdat hy die beste swaard en ander middele tot sy beskikking gehad het nie.
Ons lees in Matt. 17 van ’n soortgelyke gebeurtenis. Hier was ’n man wie se seun maansiek was en hy het Jesus se dissipels om hulp genader. Maar hulle kon nie hierdie seun gesond maak nie ten spyte van die feit dat Christus aan hulle hierdie mag van gesondmaking gegee het. Christus het hierdie seun genees en by latere navraag wou die dissipels van Jesus weet waarom hulle nie suksesvol was nie. En Jesus antwoord was duidelik. “Toe kom die dissipels na Jesus afsonderlik en sê: Waarom kon ons hom nie uitdryf nie? En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos 'n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” (Matt. 17:19&20).
Aan die hand hiervan raak dit ook vir ons meer duidelik waarom agteruitgang ’n logiese gevolg van geestelike verval sal wees, geliefdes. Wanneer die geloof ontbreek, is daar soveel minder van God se wonderlike en kragtige werke te bespeur. En dit sal natuurlik tot verval en agteruitgang lei. Hierdie agteruitgang is ongelukkig onder ons volk ook baie duidelik sigbaar. Dit is derhalwe só nodig dat ons as gelowige kinders van God die nodige aandag aan ons geloofslewe sal skenk. Ons behoort onsself in hierdie tyd in die geloof in ons HERE te versterk sodat ons nie alleen self in Hom staande kan bly nie, maar ook dat ons in Hom die krag mag vind om as instrument in sy hand te dien – bruikbaar vir Hom tot sy eer.
Amen.