Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
'n Goeie sin vir humor maak alle dinge beter. Behou jou humorsin veral in moeilike tye – dit het niks te make met die erns van die situasie nie, lag verskaf net die vonk wat mense meer gewillig maak om probleme op te los. Het u opgemerk hoe min die mense om u deesdae lag? Lag is 'n teken van geestesgesondheid en kom seker die heel naaste aan die genade van God – ons moet dit net aangryp.
HEILSAME KENNIS
Hannes Ollewagen
Jes. 53:1-12
“…deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hý sal hulle skuld dra.” (:11).
Luister na hierdie kosbare, kosbare stukkie heilsame kennis uit die profesie van die HERE deur monde van sy kneg, Jesaja: “...deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak;...”. Hoe sal Hy baie tot regverdigheid lei? Deur sy kennis!
Baie min dinge het oor die afgelope paar dekades onveranderd gebly. Ek kan aan Een dink, nl. God. Hy is beslis steeds dieselfde God as tien, twintig, dertig, honderd jaar gelede. “...Hy wat die geslagte roep van die begin af; Ek, die HERE, die Eerste, en by die laaste is Ek dieselfde.” (Jes. 41:4). Maar ek dink dat ek nie met eerlikheid aan iets anders kan dink wat onveranderd gebly het nie. Dit is ongelukkig ook waar wat ons volk se Godsdiensoefening betref. Daar was natuurlik positiewe veranderinge, maar myns insiens was die negatiewe soveel meer. Elke dan en wan moet daar ‘n “nuwe vertaling” van die Woord van God uitgebring word. Waarom? Waarom aan die onfeilbare Woord van God verander? Die flou verskonings van ’n vertaling wat makliker verstaanbaar is en dergelike argumente, is gewoon dit – verskonings.
In al hierdie bykomende “vertalings” twyfel ek dat die aanvanklike Boodskap onaangeraak gaan bly. Daar sal toenemend van God se waarheid wegbeweeg word totdat mense eindelik met ‘n “Bybel” sit wat vir hulle seker baie maklik gaan wees om te lees, maar een waaruit dit baie, baie moeilik, selfs onmoontlik, sal wees om God te leer ken omdat die ware kennis van God in die proses deur “slim mense” vernietig is. Die Woord van God is tog nie hieroor onduidelik nie. “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.” (Open. 22:18&19).
’n Ewe onstellende verskynsel as die alewige gepeuter en vernieling aan die Woord van God, is hierdie baie gevaarlike beweging waar mense na bewering alleen deur die Gees gelei word. Die Woord van God word heeltemal opsy geskuif en daar word alleen ag geslaan op dit wat van binne kom vir leiding. Die verkeerdheid hiervan is ooglopend. En dit word vir ons só mooi in Jes. 53:11 onderstreep wanneer ons leer dat Christus ons deur sy kennis regverdig maak. Christus het natuurlik die Heilige Gees as Trooster gestuur om by ons te wees. Maar luister mooi wat een van die dinge is wat die Heilige Gees in ons harte en lewens doen – Hy moet ons aan sy Woord herinner! “Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.” (Joh. 14:23). “...maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” (Joh. 14:26). Ons kan derhalwe nie so verwaand en roekeloos wees om die kennis van God uit sy Woord opsy te skuif ten einde dit met ons eie kennis te wil vervang nie. Die HERE stel dit vir ons duidelik in Mal. 2:7 wat die verantwoordelikheid van ’n priester (leraar) is. Dit is nie om sy eie wysheid in homself te vind en mense daarvan te leer of te oortuig nie, maar om die kennis van God aan mense te leer en hierdie kennis van God te bewaar. “Want die lippe van ’n priester moet kennis bewaar en uit sy mond word onderrig gesoek, want hy is ’n boodskapper van die HERE van die leërskare.” (Mal. 2:7).
Ongelukkig lê aan die grondslag van hierdie afdraende in ons volk se geloofslewe elke een se onverskilligheid en nalating om na die kennis van God uit sy Woord te soek. “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jý die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.” (Hos. 4:6).Ons moet na die ware kennis van God op die regte plek gaan soek – in ay Woord. Dit is in hierdie ware kennis van God waarin Hy ’n behae het veel eerder as een of ander iets wat ons uit ons eie hart versin en dalk doen om Hom te probeer behaag. “Want Ek het ’n behae in liefde en nie offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers.” (Hos. 6:6).
Laat ons die oë op Hom, die Regverdige rig. En laat ons by Hom, die Woord van God, na die ware kennis van God soek. Dit is hierdie kennis van God waardeur ons geregverdig sal word en wat vir ons heilsaam is. “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” (Joh. 17:3).